Frans Cronje van die Instituut vir Rasse Verhoudings se rubriek in laas week se Rapport, getiteld: 'Die rooi gevaar is terug (of was hy ooit weg?)' het my vir die soveelste maal aan Chomsky se wyse woorde laat herinner:
"The smart way to keep people passive and obedient is to strictly limit the spectrum of acceptable opinion, but allow very lively debate within that spectrum....” Kom ons wees eerlik, die Afrikanerdom se debatte is inderdaad lewendig, maar die verskeidenheid onderwerpe is uiters beperk. Dit is die alewige 'liberales' vs 'regses', of dan nou soos in Cronje se artikel se geval, die Afrikanerdom teen die 'rooi gevaar'.
Ek vind dit interessant hoe dikwels die woord 'liberaal' as skeidslyn gebruik word vir die oorgroter meerderheid van ons debatte, asook meeste van ons se oorvereenvoudigde en soms verkeerde begrip van die woord. Mense wat na 'regs' leun (verregses) het 'n oningeligte manier om 'liberalis' as sinoniem vir woorde soos 'kommunis', 'Marksis', 'boetie', 'libtard', 'ANC-kader' ens te gebruik. Basies vir hulle is 'n 'liberale' mens enige iemand wat hul bang maak.
En 'n kommunis is 'n 'liberale' mens wie se van hul nie kan spel nie. Dan is daar die wat hulself as 'trots liberaal' klassifiseer (ook eintlik 'regs' in meeste gevalle) en hulself beywer teen verskeie vorme van onverdraagsaamheid, byvoorbeeld rassisme. Alhoewel ek bly is dat daar Afrikaners is wat rassisme probeer aanspreek, spyt dit my dat nie meer van ons betrokke kan raak by 'n meer kritiese debat oor die ideologieë wat ons dink ons aanhang en om onsself beter in te lig oor die twee 'duiwels' wat die NP en VSA geskep het: 'kommunisme' en 'sosialisme'.
So baie miskonsepsies bestaan rondom hierdie begrippe. Soos reeds genoem, om te dink dit is sinonieme vir die woord 'liberaal' is oningelig. Selfs om te dink die twee ideologieë is sinoniem aan mekaar is gekkigheid. Nou om terug te kom by Frans Cronje: hy klas homself as 'liberaal' en hy het 'n redelike wye aanhang onder die sogenaamde 'verligte' Afrikaners. Ek self vind van sy bydraes waardevol in die stryd teen rassisme.
Ek vind dit egter interessant dat hy, wat die ANC help bemark het op Twitter, nou so op hol is oor die 'rooi gevaar'. Die einste ou wat teen die DA uitgevaar het en genoem het hoe hy graag 'progressiewe' denkers in die ANC mee wil saamwerk en beïnvloed haal nou verbitterde DA-lede se uitlatings aan sonder kritiese refleksie. Hy noem dat meeste ANC-LP’s 'die parlement sien as ’n groot restaurant waar hulle elke dag kom kuier voordat hulle weer huis toe gaan'. Hy gaan voort om die SAKP lede as bedreiging uit te maak, en sien veral hul vermoë om 'hard te werk' as fataal vir SA se toekoms. Sien Cronjé dus 'progressief' as lui en beïnvloedbaar? Hy vrees die SAKP se stille diktatorskap, maar hang hy nie self 'n vorm van diktatorskap aan onder die vaandel van 'liberalisme' nie? Hy is bang vir mense wat hard werk? Wat my bring by die vorm van 'liberalisme wat Cronje self aanhang. En ek praat glad nie van die humanistiese sy van liberalisme wat onder andere 'n oogpunt teen rassisme insluit nie. Ek praat van ekonomiese liberalisme: 'n ideologie wat 'n vry mark aanhang. Daardie sisteem wat ons forseer het om ons deure oop te gooi vir elke jan-rap en sy maat om hul gemors hierheen in te voer, of hul produkte oorsee te laat vervaardig teen 'n appel en 'n ei en sodoende kleinsake-ondernemings uit besigheid dryf. 'n Sisteem wat regulasie teen besighede ontmoedig.
Om 'n beter idee te kry oor die bedreiging wat ekonomiese liberalisme wêreldwyd inhou kan jy maar net gaan lees oor die Transatlantic Trade and Investment Partnership (TTIP) tussen die VSA, EU en 'n paar ander nasies, sommige ontwikkelend. Sover is ons in SA nog daardie strooi gespaar, maar as mense soos meneer Cronje ooit kan deurdring tot daardie 'progressiewe' (lui?) mense in die ANC, kan ons maklik by soortgelyke ooreenkomste betrek word. Basies, sal ons sekere internasionale maatskappye outonomie bo ons wette gee, en hul sal kan maak of breek in ons land soos hul lus het.
Daar is al klaar tekens van privaatsektor- beheer in SA, dit word net netjies verskuil deur 'n monopolistiese pers. Want die grap is, die privaatsektor en die 'kommunisties geïnvesteerde' ANC is twee kante van dieselfde muntstuk - profeit en baantjies vir boeties ten koste van die persoon op straat is aan die orde van die dag in al twee sektore. Op Frans se 'liberale' aanhangers, asook al die 'regses' sou ek graag 'n beroep wil doen om eerstens die 'ideologieë' wat jul aanhang en teenstaan krities te ondersoek. Jul mag dalk net uitvind dat jul presies dit is wat julle ander van beskuldig: ' liberales' kan moontlik regs wees, en 'regses' moontlik liberaal. Afrikaners kan sterk baat vind deur linkse debatte buite die hoofstroom te volg, aangesien populiste soos die SAKP en EFF nie die somtotaal uitmaak van die linkse beweging nie - inderwaarheid, neig die SAKP na regs, en die EFF se motiewe word deur talle linkses met twyfel bejeën.
In plaas van om ons bal-vir-bal in te lig oor 'kommunisties infiltrasie', kan Frans dalk bietjie reflekteer oor ander roekelose voorstelle wat hy hom selwers al gemaak het, soos byvoorbeeld om staatskole op te veil aan die privaatsektor. Heeltemal te veel van ons reken dit is makliker om basiese dienste te kommidifiseer en wins daaruit te maak as om die regering tot verantwoording te roep.
Die regering moet gemanipuleer word om dienste te privatiseer tot Frans en kie se korporatiewe visie ons sakke begin raak. Maar dan sal almal seker die 'kommuniste' en die ANC blameer - Daardie einste 'progressiewe' mense wat die wette maak om die privaatsektor te akkommodeer. Dis mos wat meeste van ons doen oor die petrolprys wat so die hoogtes bly inskiet. Hoe op aarde sien niemand die verband tussen die pryse en privatisering nie?
Op die oog af lyk dit dalk of die ANC met sy 'rooi neigings' en die privaatsektor nie om dieselfde vuur sit nie, maar sonder mekaar kan hul nie. En terwyl ons onself bluf deur ons baie beperkte kennis (te danke aan jare se NP en VSA indoktrinasie) toe te wy aan 'lewendige debat' oor 'liberalisme' en die 'rooi gevaar', stap ANC/SAKP lede en ander ryk 'liberaliste' lag-lag bank toe.
Ek voel dit is dalk tyd dat die Afrikanerdom 'n ander potensiële 'vyand' in ons midde oorweeg: grootskaalse privatisering en ekonomiese liberalisme. Kom ons reinig onsself van ons ongesonde obsessie met 'die rooi gevaar' en wees minder selektief in ons debatte en kritiek.
* lees Cronje se artikel hier:


Kommentaar
Ek het 'n hele klomp briewe terug geskryf oor die dokument wat ek in die hande gehad het. Dit was 'n "meesterplan" van die Kommunistiese party in Rusland wat aan die SAKP gerig is. Ek praat hier van 1985/6 rond. Daarin is die metodes uitgespel hoe om die land deur kommunisme te "oorwin". Daardie dae was die "Rooi Gevaar" een van die groot monsters. Sover ek kan onthou was die eerste stap om die land te demilitariseer, die polisiemag te ontwapen, die sosio-ekonomiese en maatskaplike sisteme te demokratiseer. Die ontwapening van die burgery was ook hoog op die agenda. Sport moes normaliseer word en laastens moes die Godsdiens van die "volk" aangeval en afgekraak word.
In my beskeie mening het alles volgens hul plan redelik goed afgeloop. Ek sien veral die Kerke word erg aangeval deesdae. Ek dink dit is Marx wat gesê het dat wanneer jy 'n land wil oorneem begin by die Christene. Laat die Christene skuldig voel oor die wandade wat hulle teenoor hul medemens gepleeg het. Dit is opvallend hoe die kerke, vernaam die NG Kerk uitgesonder word en almal moet bieg, swoeg en spoeg vir die wandade. Ons wag maar en sien. Ek hoop die manne wat die Rooi Gevaar nie raakgesien het nie, nie teleurgestel sal word nie.
Sela Reusedwerg! ... Frans Cronje haal oom Jaap Marais destyds byna woordeliks vandag hier in die Volk se Bybel aan: http://www.rapport.co.za/Rubrieke/FransCronje/Die-rooi-gevaar-is-terug-of-was-hy-ooit-weg-20140531
... dis net "useful idiots" (google asseblief die term indien enige twyfel na wie ek verwys) wat nog die kommuniste se oorwinning vandag aan Mzansi betwyfel en probeer wegpraat ... laat die toekoms hulle maar leer!