Daar, laat in die tagtigerjare, wou die Minister van Verdediging en sy span Weermagoffisiere, hierdie jongman baie graag van die veiligheid van sy ouerhuis en omgewing wegrokkel, om vir die volk en ander se vaderland, oorlog te gaan oefen. Vir Moeder was die gedagte aan ’n afskeid en ’n langtyd van nie-gou-sien-nie, baie erg. Haar eniggebore seun, sou die huis moes verlaat om die vreemde te-ín; alleen, onbeskermd ... en as ’n mens die prentjie sou wou aandik: ... om koud, nat en honger te gaan slaap!
In vandag se dae, is die wolwe in uniform se oproeptande getrek en die nuwe geslag jongmans drentel die lewenspad lustig vol. Dit klim op vloogtuie die vreemde-in, om asdromme in Brittanje te gaan skoonmaak, of trekkers in Amerika te gaan ry, of om Brits vir die Oosterlinge te gaan wysmaak en tot onlangs, om olywe in die beloofde land te gaan pluk. Dus, die weggaangier is steeds daar en is spring lewendig, maar uiteraard, nou uit eie wil. Dit maak egter min verskil aan die kommer en hartseer van die moeders en vaders wat agterbly, wat aand-na-aand verby die netjiese leë slaapkamer moet stap!
Ieder geval, dít is hoe ek die verhaal nou reeds in my gedagtes afspeel.
Ons twee seuns, die een op die einde van tienerwees en die ander op die vroegdag daarvan, was op die langste, ’n week of tien dae alleen weg van die huis af. By die tweede dag van hulle wegwees, dan begin ek kriewelrig raak. Die huis is baie stil, dit is te netjies en hulle kamers is leeg. Ek en Mamma sit soos twee skrikgemaakte uile elkeen op sy stoel grootoog na die TV en staar. Kortom, die aanpassing is groot. Maar, ons weet, binnekort, net na die skoolvakansie, dan is hulle terug; daarom geniet Mamma eintlik die stilte en orde meer as wat sy soms wil toegee of sal erken. Ek daarenteen sukkel.
Vandag, hier-en-nou, sit ek op die vooraand van ons negentienjarige se vertrek na ’n wildreservaat daar diep in die Laeveld. Om as deel van sy studies te gaan “prakties” doen. Vir ses maande. Die afgelope maand, vandag, hier-en-nou en tot ek die naweek die pad Kaap-toe terugvat, en hom daar moet laat, sit ek met die uitdaging om ‘n kopskuif te maak. Of, om ten minste die nodigheid daaraan te besef ...
Om my gedagtes voor te berei, dat ek wel hartseer gaan word wanneer hy nie in sy kamer is nie; of nie voor die stoof staan wanneer ek saans tuis kom nie; en dat hy nie my of sy ma speels voor slaaptyd sal terroriseer nie. Wie gaan nou my hakke skuur?
Die gedagtes en emosies wat mens so met al hierdie beelde bymekaar boender, kan nogal oorweldigend wees. Veral, as jy nie op ’n punt kom waar jy gaan sit en die saak probeer rasionaliseer nie. Ja, ek weet gewis dat hartseer en verlange verseker nie net deur suiwere gedinkery alleen georden word nie; sommige van ons is wel meer in staat daartoe as ander – soos iemand een keer gesê het, “een persoon is soos ’n baksteen en ’n ander soos sand; tog bly die grondstof dieselfde”.
Ons gesin het ’n punt daarvan gemaak om ons tegnologiese gestremdheid aan te spreek en derhalwe, is daar die een troos dat ek en boetie gereeld sal kan “facetime” en hy en Mamma sal kan Skype; uiteraard net wanneer hy nie werk nie. Die gesels en kyk en luister en deel met die hulp van al hierdie goeters, sal maak dat die ses maande verby is, nog voor ons dit behoorlik besef. Wie weet, kort voor lank, sien ons almal dalk weer uit na sy volgende “trippie” êrens heen.
Sjoe, kyk waar trek my kopskuif alreeds!
Ek dank ons Vader vir die voorreg om wysheid en insig met ’n oop hart te gaan soek; meer nog, om soms in die weelde daarvan te lewe. Ek is dankbaar vir die genade om lief te hê en liefde te gee en te wys. Ek is dankbaar vir die geleenthede wat ons kinders kry en ek hoop, dat hulle eendag dieselfde mag ervaar.
Soetwees my seun.
Hennie Fritz


Kommentaar
Mmmm
Soveel heimwee. Lekker geskryf. Moenie worry, as hy hier tussen ons is in die Laeveld en die groot vyf, kuier hy tussen lekker boeremense. Ons ken van kuier en braai en die Vader se liefde mildelik saai! Sterkte met die verlange. Wildplaasgroete. Trienie
'n Mens mis die kinners as hulle die nes verlaat. Mens onthou ook net die lekker tye. Ons kan gelukkig wees ons het nie die probleme gehad wat die hedendaagse ouers mee sit nie. Ek kan een geleentheid onthou. Die seun, hy was so 5 jaar oud speel buite. Die weer steek op. Sy ma roep hom om in te kom, maar dit wil nie hoor nie en karring nog buite rond. Skielik begin dit te hael. Die volgende oomblik storm hy die huis skreeuend binne. "Iemand het hom met ys gegooi" .