My ore wil nie aldag meer baie geraas geniet nie. Beide hierdie skulpdier-ornamente aan die kante van my haarlose koppie kom derhalwe kort-kort in opstand. Gelukkig is die stilte van my kantoor ‘n ontsnappingsden, waar hulle saam met my gemoed die onstuimige gewoel van die onder-Kaap kan systap en dan soms na niks hoef te luister nie.
Ons almal ken die manne in die klein voorstedelike karretjies met die breë tekkies, die formule een-en-‘n-driekwart-agteroorhang-sitplekke en die bestuurder met die agterstevoor kepsie en goue kettings ... en die klankestelsel. Die karretjie se deurpanele is versterk om seker te maak dat die swaar luidsprekers nie die voering flenters skeur wanneer die hip-hop-doef-daf-bas klanke die osoonlaag ingeslinger word nie. Soos iemand onder in die dorp eenkeer gesê het: “As tjy die geraas ( let wel dit kwalifiseer nie as musiek nie ) hoor aankom, dan maak die ander motors pad; amper soos vir die polieste en die vleiswaens ...”
Daar is ’n klompie eienaardighede, wat deur die aanhoor van die soveelste raasduiwel nou die dag in my gedagtes losgetorring het. Hoekom is dit net manlike bestuurders wat dit so uiters nodig ag om sy gebrek aan musieksmaak en respek vir ander mense se ore, aan die strate van die dorp bloot te stel? Die meisies / vrouens doen dit dan nie.Ons jongste seun sal sê dat dit is omdat die ouens “rêbels” is. Rebels sonder taak en rede.
Indien iemand egter onder die valse indruk verkeer dat hierdie verskynsel ’n stedelike Sodom-siekte is, dan kan ek vandag, hier en nou, dit kategories en in perfekte politiek verarmde taal die teendeel bevestig: oral waar klein karretjies met groot ego’s, groter uitlaapype en goor opvoeding uithang, is die resultaat dieselfde ... Van Hanover Park en Milnerton en Durbanville, tot diep doer binne-in die Vredendal.
Destyds in die jeugdige jare van onbesorgdheid en woelige ledemate het ons maters so een of twee keer ’n nagklub in die stad gaan besoek. Die bas en doef-doef klanke het voluit deur massiewe luidsprekers almal binne en buite die klub se oordromme met mening geteister. Die “geraas” was egter steeds musiek en as jy kon en wou, sou jy ’n koor van gillesang onder die toon van die klankstelsel saam met Pet Shop Boys, Yellow en ander kon laat hoor. Na die tyd of oppad huis toe, het dit gewoonlik ’n goeie halfuur geneem om tot verhaal te kom en die sensoriese haarselle behoorlik aan die werk te kry!
Hoe werk die ouens van vandag se ore dan? Wanneer hy van en na sy werkplek ry en die kloppende klanke druis deur sy oordromme, moet hy ook seker sukkel om sy gehoor weer aan die werk te kry? Of luister hul gewoon net nie? ( Dit sou nogal ’n paar ander dinge ook verduidelik! )
Vir baie, selfs ek ingesluit, sal dit meestal empaties komies wees om bloot na die geraasbesoedelende goeters in die dorp te staar en te wonder, “hoekom dan?” Die vraag wat egter by my bly opkom is, “kan ’n geruis ’n stil gemoed huisves?”
Uiteraard is ek weereens eenogig in my verklaring, want daar is geen manier onder onse Skepper se son dat my liggaam, emosie, siel en verstand nie deur kloppende musiek aangejaag word nie. Smôrens wil ek net na nege saam met Martelize Brink dans en naweke en saans, wil ek spring en sing wanneer Jan Blohm sy Groentrui voluit sing; of wanneer Bon Jovi “It’s my life” in die sitkamer gil. My hele wese verander in ’n ruk-en-roller wat vir ‘n paar minute bevryd staan van die juk van tyd!
Tot die lied klaar is.
Ek wonder sommer ... maak die geraasvrate wat die paaie van die land op die meedoënlose maat van chemiese klanke deurkruis, se “liede” ooit klaar?
Ken hy stilte wanneer die musiek stil raak? Of is die stilte dalk juis sy vrees?


Kommentaar
Hennie, jy vra of hy stilte ken? Ek vervloek al lankal nie meer hierdie menere nie. Hulle sal nog die stilte leer ken. Lank voor die ouderdom toeslaan sal hy doof wees en geen keuse hê as om die stilte te leer ken nie.
'n Mens salueer ook al die dames wat sonder 'n geraas vir ons bewys wie die beter geslag is.
Dis waar ja. Ek weet ook nie hoe party van die taxi-passasiers dit kan hou nie. Ek self hou van harde musiek, mits dit in my smaak val, maar ek kan regtig nie die doef-doef musiek gehoor aan gee nie. Ek kan op my een hand die kere tel wat ek al by 'n "disco" was. Ek hou van orkeste (bands) maar moet noodgedwonge van tyd tot tyd iets bywoon waar daar 'n "disco-mannetjie" is wat musiek maak. Gelukkig speel van die knape nie te onaardige musiek nie. Was twee weke gelede by 'n "Ingelse" bruilof en vra iemand om Kaptein span die seile te hoor en siedaar dans al wat bek en pote het.