Weet ik veel hoe poëzie eruit moet zien
sê Tom Lanyone (Lan-wa)
en ek sê: Tom, beste jongen,
ek sta’ versteld
want hier is dit ook so
ongesteld:
Vir ritme en beryming
bestudeer ek my handleiding
Huppel en sy maats deur WO Kühne
byvoorbeeld:
Huppel-huppel saam met die wind,
trippel-trippel, Huppelkind
asook:
Die wêreld is ’n ronde bol,
van binne is hy hol.
En in die middel, vol gevare,
lê die Land van Wol en Hare!
Vir moribunde metafore verdroef ek my
in The book of disquiet van Fernando Pessoa,
net één bladsy op ’n slag;
’n mens moet oorleef
om te eet
en te dig (maar hoe?).
Wat formele vormvaste verslikheid betref:
• aan ’n jambe kan ek my toon bestamp
• van versvoete het ek geen verstand
• enjambement? ’n peperment
oor twee of meer reëls in jou tande gesement?
• hoe meet ’n mens metrum?
lám-tie-tie, dám-tie-tie,
dóé-doe my líéf-ste-tjie
innig en sag
vir driestemmige dameskoor of -trio?
(Sy’s van haar wysie af,
sê die bure met die
brakkende blaffe.)
Oor die algemeen:
van die puur van die tuur
van die litera verstaan ek ongeveer
dat dit gliterators en doktorre oplewer.
Aanmatigend téén die gode
se Grieks
stem ek my in
op my muterende muse: ek vermoed
sy’s nou ’n medium met oranje
rimpellippe en ’n witraambril;
sy noem my darlinks en leetle one;
ook: toe my tong tamaai
uit die bottel plof
(’n genie maak ’n plan met petrol)
prop dit my reg
op my resitasiereseptor
(individueel anders geleë
op elke kop) en borrel
woorde soos gemmerbier
op plop pop.
(Gemmer gis giftige
humeure uit lewers
uit en borrel humor in:
’n gratis wenk vir die resensent.)
Daar’s nog ’n muse
ek vermoed dis my guru
(gee, u are u)
wat vermaan: dit gaan
om eggo nie ego nie;
maar verbrands:
my dierbare derdegraadse wonde
smeul nog op die been en
’n stukkie vel wil ’n mens oor ’n
ek óók
trek.
Dis alles maar
so in die loop (terloops)
om te sê: ek sê maar
soos ek sê
dit wil sê (merk die toepaslike blokkie/s):
[ ] gebek
[ ] gebrek
[ ] gerek
[ ] gelek
[ ] gek
is

