Titel: Van Manenberg, met liefde
Outeur: Mike Michaels
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485300762
Koop Van Manenberg, met liefde by Kalahari.com
So elke nou en dan betrap ’n boek my onkant. Ek dink ek weet wat om te verwag, die formule lyk bekend, maar dan kruip die karakters en die verhaal ongemerk onder die vel in en gaan maak nes daar.
Van Manenberg, met liefde is so ’n boek.
Hiermee probeer ek nie te kenne gee die boek is sonder haakplekke nie. Die Kaaps val plek-plek geforseerd op die oor, soos iemand wat ’n vreemde taal naboots sonder om te verstaan wat die woorde beteken. Die skielike perspektiefveranderinge, soms binne bestek van ’n paar sinne, is hinderlik. Die ontknoping was nie goedgemotiveerd nie. Sommige van die karakters, veral die vroue, kon beter ontwikkel gewees het. ’n Aangrypende storielyn en stywe spanningsdraad vergoed egter daarvoor, en dis maklik om so meegesleur te word dat mens heeltemal van die haakplekke vergeet.
Die verhaal is oorspronklik in Engels uitgegee, onder die titel Lost Boys. Dit werk egter uitstekend goed in Afrikaans. Dis ’n jeugverhaal, maar soos met sovele jeugverhale sal volwassenes waarskynlik net soveel genot daaruit put as die tienermark vir wie dit ontwerp is. Dit begin stadig, maar die skrywer, Mike Michaels, slaag daarin om die spanningsdraad netjies styf te trek en die leser elke krummeltjie te laat opslurp soos die verhaal vorder. Ek het die boek in een sitting klaar gelees.
Op die oog af is dit die verhaal van ’n jong man van die verkeerde kant van die treinspoor wat die geleentheid het om aan sy omstandighede te ontkom, maar dan ’n reeks op die oog af sinlose besluite neem wat hom terugdwing in daardie omstandighede. Jay beweeg op die randjie van die bendelewe in Manenberg. Dan kry hy ’n beurs om maatskaplike werk aan UK te studeer, en hy probeer wegbreek. Soos in enige goeie quest moet ons held struikelblokke oorkom. Die eerste struikelblok kom in die vorm van Alpha, die bendeleier van die Lost Boys, ’n klein bende met groot planne. Alpha reken Jay moet in Manenberg bly en hom help om sy bende uit te brei. Hy is hierdie sinistere karakter vir wie Jay bang is, maar van meet af is daar aanduidings dat daar meer aan hom is as net bendegeweld en ’n strewe na mag.
Alpha stem uiteindelik teësinnig in om Jay te laat gaan. Jay tel egter ’n wit weggooibaba op en begin die kind versorg, onbewus dat hy midde-in ’n nes van internasionale mensehandel en korrupsie beland. Binne dae besef hy sy lewe is in gevaar. Sy enigste toevlug is terug na Manenberg, waar ’n bendeoorlog intussen uitgebreek het.
Ma Koba is die moederfiguur wat Jay grootgemaak het, ’n vrou gelouter deur swaarkry en seerkry, deernisvol maar sterk. Hy vlug met die baba, wat hy Broe’ noem, na haar toe.
Dan is daar ook Dyssel, Bennie, Abduragmaan en Elvis, lede van die Lost Boys en Alpha se binnekring.
Die skrywer het duidelik deeglik navorsing gedoen oor bendebedrywighede, en skryf met oortuiging oor wapen- en dwelmhandel, en die interne organisasie van en wedywering tussen bendes.
Onder die eerste laag van aksie is daar egter ’n dieper verhaal. Jay se verkeerde besluite, vind die leser later uit, word om die regte redes geneem. Alpha, die karakter wat die meeste ontwikkel in die verhaal, wil meer as enigiets anders deel wees van ’n familie. Sy bende is sy familie, hoe disfunksioneel ook al. Die leser word vroeg reeds daarop gewys (bladsy 14), wanneer Jay dink aan Alpha se ritueel, waar hy die bende in ’n kring laat staan, en sing: “Wie’s my ma? Wie’s my pa? Wie’s my broe’? Wie’s my swae’?” Hy beantwoord dan sy eie vraag deur elkeen voor die bors te tik en te sê: “Hie’s my ma. Hie’s my pa. Hie’s my broe’. Hie’s my swae’.”
Uiteindelik is dit ’n verhaal van soeke na identiteit en die behoefte om te behoort, om deel te wees van iets groter, om ’n tuiste te hê. Alpha is bereid om ’n heelwat sterker bende aan te val om Broe’ te beskerm. Daar is een amper surrealistiese toneel waar die bende gereedmaak om hulle teëstanders aan te val, maar dan staan en hulle aan Broe’ verwonder.’n Oomblik van menslikheid op die mees onverwagse tyd en plek, soos ’n blom wat in die modder groei.
Die lewe op die Kaapse Vlakte word met vernuf en deernis ontbloot. Vir die meeste lesers is dit seer sekerlik ’n wêreld wat hulle nie maklik buite die bladsye van ’n boek sal teëkom nie. Soos Jay self dink: “As hy in Kaapstad is, is Manenberg ver. Dis ’n ander wêreld” (57). Michaels slaag egter meesterlik daarin om die leser subtiel daaraan te herinner dat die geharde bendelid net soveel behoefte aan familie het as die ryk sakeman, dat ons almal maar dieselfde dinge verlang.
Dis ’n aangrypende verhaal wat die leser nog lank sal bybly, en ek beveel dit met vrymoedigheid aan.

