Biebouw-resensie: Diepsee, bolwerk teen die aanslag van vergetelheid

  • 0

Titel: Diepsee
Samesteller: E. Kotze
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 978-0-624-06988-1

Koop Diepsee by Kalahari.com

Diepsee. ’n Keur uit die verhale van E Kotze (Tafelberg Uitgewers) is ’n boek wat méér as mooi is. Die samesteller, Suzette Kotzé-Myburgh, gesoute boekmens en Namakwalander, bewys ons ’n guns deur hierdie onderskatte skywer se werk nogmaals onder ons aandag te bring en dit weer eens lewe te gee. Ek sê óns, bedoelende Afrikaanse lesers, dalk ’n bedreigde spesie – soms hoor ek die gehyg van die wolf by die tuinhekkie – en ironies handel hierdie verhale oor bedreigde taalskatte, wat soos die soutrapers van die Sandveld en ander “silt”-van-die-aarde-mense van daardie omgewing, reeds so uitgedun is dat hulle net skimme in die dynserigheid oor die see, duine en panne sou wees, was dit nie vir sulke optekenings nie.

Terloops, anders as wat baie mense glo, is die uitdrukking “as sulks” wel Afrikaans – dit verskyn in 17de-eeuse geskrifte aan die Kaap – en so hoop mens die dikwels unieke uitdrukkings van die Sandvelders sal ook bewaar bly vir minstens nog drie of vier eeue. Mag dié hoop nie beskaam nie: as Afrika mens een ding leer, is dit om te hoop. En die lewenslesse wat die Sandvelders oordra, onderskryf dit onteenseglik.

Pedanties is Diepsee egter nié. Hierdie bundel van 256 bladsye bevat skitterstories wat so fyn bedraad is, waarvan die humor en tragiek (en die deernis wat die twee oorbrug) wel duidelik uitstaan, maar die boodskappe soos ’n vernuftige, byna onsigbare naat gevolg moet word om die geheime binnesak te vind. Die pennie (of halfkroon) val nie noodwendig dadelik nie, soos met “Halwe hemel” –  waar die leser die slot wéér moet lees en soos met “Oesjietjie”, waar die woord “interpretasie” soos ’n korhaan van agter ’n bos opvlieg; wat jou laat vassteek en weer kyk. Ook só die storie van Fonsie en sy spruit Alf, wat beide slimmer en slegter as sy pa is; waar die leser agteroor sit en “Oo” sê, en besef hy/sy het te vinnig geoordeel deur Fonsie as nutteloos én gevaarlik te beskou.

Kotze volg altyd MER se raad en sê net wanneer sy iets het om te sê, en doen dit soos die ware kunstenaar kan: sy ken die kuns om komplekse gevoelens duidelik te stel. Daarom bly hierdie stories so vars soos die dag toe hulle aan wal gebring is. Kotze is dus geen blote kontreiverteller nie. Sy skets met ’n kennersoog die tonele wat sy intiem ken, bevolk die landskappe met lewendige karakters wat deur son en wind en sand en swaarkry verweer is tot hulle so taai soos bokkoms is, en net so heilsaam. Daarom herinner haar werk aan die stelling: “Om ’n werlik goeie kunstenaar te wees, moet jy jou kuns aan jou lewe koppel” (Reality hunger, David Shields, 2010).

Daar is geen oppervlakkige anekdotes nie, geen papierknipsel-karikature nie, geen taalmoord met die beginner se gunstelingwapen, die byvoeglike naamwoord, nie, en geen “laat ons lig op die onderwerp gooi”-tipe cliche’s nie. Tog is daar die plattelander se slag met kleurvolle, kolskoot-vergelykings. Hier dink ek aan:  “Die kinders, en daar was nege, het soos stelle poedingbakkies drie-drie inmekaargepas” en “Haar verdriet was soos iets wat oorkook oor rooi vyehoutkole.” Nog aantrekliker vir my is Kotze se skynbaar eenvoudige beskrywings wat so helder is dat jy weet jy het dit al self gesien. Een voorbeeld, uit “Bloedige dag,” lui so: “Lya Solms skud die laaste stuk wasgoed met ’n driftige klapgeluid oop en pen die twee broekspype aan die draad vas. Dan buk sy en kantel die badjie blouwater in die gras om, gryp ’n stuk staalwol, skraap dit oor die seep en begin skuur die wateremmer en baddens met kort, haastige hale.”

Een aspek van die boek wat my wel laat wonder, is die titel. Dis wel ’n diepdinkboek, en die stories hou verband met die see, maar tog nie soveel met “diepsee” nie – die stories handel hoofsaaklik oor vroue, wat self nie die diepsee invaar en ervaar nie. Onder die titels van Kotze se vorige ses kortverhaalbundels verwys net Slag van die breekbrander (2000) direk na die see; of indirek: 1997 se Waterwyfie (mere en riviere kan immers ook waternimfe huisves), terwyl die twee romans Toring se baai (2009) en Hoogty (2001) die leser dadelik inlig dat die see hier relevant is, dog steeds net soveel aan die kus gebonde. “Diepsee” laat my eerder aan ’n Hemingway-toneel dink, of selfs aan Jules Verne, maar miskien is ek hier die een wat nie daai groot vis(storie) vang nie, of wat steeds wag vir die lig om op te gaan. As die titel, soos sommige skrywers glo dit behoort te wees, die beginwoord/sin van die boek is, wat inlei en wys waaroor die boek handel, werk “Diepsee” nie vir my nie. As dit verwys na ’n reis na binne, dalk, maar tóg – maar die feit dat die fisiese see-milieu so oordonderend teenwoordig is, is die beeld van ’n onsigbare, figuurlike diepte wel riskant onduidelik (te esoteries?) vir veral die gewone leser.

Sodra die leser egter eers in die boek in waad, pla die titel nie en ’n mens wil die samesteller bedank vir hierdie pragtige geskenk, want met Diepsee het sy ’n pakkie opgemaak wat egte Weskus-lekkernye bevat en wat deur’n bobaas-kok berei is. Nie een van die 17 verhale is soos die afskeepkossies waaroor die hoofkarakter Stien lamenteer in “Lyding” (214) nie: “Amper meer en beter as destyds toe Klein-Koos met Margie Lotter se dogter getroud is, waar die eetgoedjies nie groter as haar duim se kop was nie, en die mense honger daar weg is.” Die boodskap van “Lyding” is wesenlik dieselfde as dié van “By Franken se pan”. Dit lyk asof die skrywer vergeef-en-aanvaar as absoluut essensieel vir oorlewing in daardie karaktertoetsende, liggaamsteisterende milieu wou belig. En dit blyk dat die samesteller, as iemand wat die mense van daardie omgewing ken en verstaan, reg geoordeel het om hierdie twee verhale te kies. Om ’n keur uit ’n skrywer se ouvre te maak, sê nie net iets aangaande die skrywer nie, maar stel ook vrae oor die sameteller as keurder van woordportrette van spesifieke tipes mense – die verteenwoordigers van ’n unieke lewenswyse, nou byna vergete. In hierdie opsig is die verhale herinnerings vir diegene wat ervaringsinsig van daardie mense, plekke en tydperk het. Terselfdertyd lig die bundel ook die gordyn vir jonger en geografies-verwyderde lesers, soos ’n laaste encore voor ’n nuwe, maar ou, wêreld.

Kotze se karakter Heila verwoord die werklikheid van onomkeerbare verlies as volg: “Ons word min, dink sy. Die vrouens kry nie meer kinders nie. Daar is nie meer jongmense nie. Die skool het doodgeloop. Agenbag het opgepak en weggetrek. Muisnemer se vrou het saam met ’n soutkoper padgegee. Hy agterna. Sy erf net so laat lê ...” (57). In hierdie paar sinne som die skrywer die ontvolking van die platteand in die breë, maar veral haar eie hartland, op. ’n Ander voorbeeld hiervan is “’n Kaartjie na Die Kruis”, wat miskien as ’n reisverhaal getipeer kan word, maar dis ’n reis na ál minder tot dit haas niks word – die hopelose hulpeloosheid van die mens wat agtergelaat is deur “vooruitgang”, iemand vir wie sy uithou nie meer aanhou kan waarborg nie: hy is helaas gestrand sonder die enkeles wat hom kan raaksien (vir wie hy is). Goedheid en inbors wat diep versteek lê vir diesulkes wat hulle medemens vlak kyk, word met ware insig en vernuf deur die skrywer uitgelê. Daarom is my gunsteling onder die talle onvergeetlike karakters dan die tragiese Talotte (“Juffrou Verdoes”), die ongetroude ma van talle, wat “dun soos die oostewind op sy eensaamste” en “sku, soos ’n kind tussen vreemdes” (108) is, maar nogtans respek verdien.

Soos Kotzé-Myburgh tereg in die Voorwoord opmerk: “Haar seeverhale is Sussie [Kotze] se belangrikste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.” Inderdaad. Veral omdat sy Afrikaans (wat nie ’n seemanstaal by uitstek is nie – so beaam die historikus Dan Sleigh, self ’n Weskusser) se relatief karige bydrae help bewaar deurdat woorde soos “bonks”, “banklêer” en “bokstang” in haar verhale opgeteken staan. Kotzé-Myburgh verwys ook met goeie rede na die belangrikste elemente in hierdie verhale, naamlik die mense – die (sogenaamd) eenvoudige, (wel) arm, maar (beslis) kreatiewe mense, wit en bruin, wat stoïes hulle lot aanvaar het en wel vooroor gebuig het om te werk, maar nooit agteroorgelê het teen die aanslae van die see, die land en die lewe nie.

En vir die kultuurhistorikus is daar soveel pitkos. Voorbeeld: “Van vroeg die Sondagoggend af is die afval op die vuur. Etenstyd is dit sag en lymerig gestowe. Hulle eet vaalafval en bruinbrood geweek in sous. Daar is klein stukkies opgesnyde long tussen die pens en die pootjies om die kos te rek vir die baie monde wat moet eet. Hulle suig die beentjies af en vee die sous met die brood op.” Dan, verder, want die werk is nooit gedaan nie: “Sy pak vir hom sy see-sak: growwe brood toegebind in ’n geruite doek, ’n klont plaasbotter in ’n stroopblik, koffie en suiker en ’n blikkie salf – sinksalf en harmansdrup wat sy self gemeng het vir die seerplekke. Sy weet hoe ’n kreef ’n mens kan stukkend steek” (12).
Ek kan Diepsee beswaarlik té hoog aanskryf en té entoesiasties aanbeveel. Ek voel werklik bevoorreg om dit te kon lees en verlaat my op die woorde van my  vriendin Joan van Paternoster wat veel meer van boeke en skryf af weet as ek: “Dié boek het my so amper laat ophou asemhaal!” Juis, Joan, juis. Die Weskus, en groter Namakwaland, het al talle uitstekende storievertellers opgelewer, maar min kan skryf om hulle verhale en hulle kultuur só te bewaar. N?óg minder kan skryf soos Sussie Kotze – enige plek, enige tyd.

Diepsee. ’n Keur uit die verhale van E Kotze het in Augustus vanjaar verskyn, en is in papier- en in elektroniese formate beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top