Biebouw-resensie: Die Alibi Klub deur Jaco van Schalkwyk

  • 0

Titel: Die Alibi Klub
Samesteller: Jaco van Schalkwyk
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207000

Koop Die Alibi Klub by Kalahari.com

Met die koms van Van Schalkwyk, skrywer van Die Alibi Klub, behoort daar nou ses krabbelende Jaco’s te wees: Jacobs, Kirsten, Thom, Fouché, Botha en dan hy. Kirsten, Fouché en Botha haal ook van tyd tot tyd ’n meer transgressiewe manier van lewe by, spesifiek met die oog op drankmisbruik, waarvan daar ’n ryk aanbod uitbeeldings in hierdie boek is. Drank, en ander middels, word in kroeë en op stoeptrappe en in blyplekke ingeneem, hier en daar vir dae aanmekaar.

Dis ’n kroegstorie met die harde kant wat ’n mens van ’n kroegstorie verwag, maar ook ’n harde kant wat, raai ek, ’n mens waarskynlik in toekomstige werke van Van Schalkwyk sal aantref. Wat ek wil sê, is hy het ’n oog vir ellende, verval en miserawiliteit en kan in helder, bitter poësie daaroor skryf. Sy hoofkarakter laat my met ’n draai aan daardie Raymond Chandler-ding laat dink: “Down these mean streets a man must go who is not himself mean.” Tog doen die verteller lustig mee aan die brassery, hoewel hy hom van die geweld weerhou wat plek-plek deurslaan.

Die toon van die boek is strak en neutraal, met min kniebuigings voor sentiment. Maar daar is juweeltjies soos hierdie een wat dui op die verteller se aanvanklike spanning en onsekerheid: “Voordat ek trein toe stap, boks ek myself teen die kop vir braafheid. Dit vat lank om die nodige momentum op te werk.” Vergelyk dit met hierdie woorde aan die einde van die boek: “Ek word weer wakker in my hool. Ek kan nie onthou wat gisteraand gebeur het nie. Ek is gewoond daaraan. Miskien vind ek vanaand uit.” Op dié stadium is die man ingeburger, in leefstyl net soos in die buurt.

Geweld is daar genoeg van – nie net die kroegsoort nie, maar ook die straatsoort. ’n Mens lees met ’n onrustige grinnik en half dromerige gevoel van die vrou wat straataf loop en klappe uitdeel, en van die Joegoslawiese gewese spesiale-magte-man wat, toe skurke sy leefstyl bedreig, sy uniform aantrek, by die hoofskurk se blyplek inbreek en ’n skietding in sy gesig druk. Vele karakters word beskryf, dalk te veel, want dink ek nou terug twaalf uur nadat ek klaar is met die boek, onderskei ek die verteller en Owen en VJ en Chulo en Saeko duidelik, maar die ander vleg vir my ineen. Tog is dit waarskynlik die idee dat ’n mens so ’n geheelbeeld van ’n buurt en ’n era kry. Verder kan dit nie gesê word dat ’n mens een oomblik verveeld is nie, juis omdat die tonele en karakters mekaar so vinnig opvolg.

’n Woordjie oor karakters: dis meestal mans wat uitgebeeld word. Daar is vroue ook, noemenswaardig die eensame Saeko wat vir ’n rukkie lief vir die verteller is. Maar hy sien dit as ’n obsessie, dis asof sy in die pad is, soos die ander vroue in die verteller se lewe ook. ’n Man, ’n jongman, moet kan aanbeweeg van vroue af, terug na ander mans en die drankverwante pret en roekeloosheid wat hulle bied en die eenvoudiger eise wat hulle stel.

Die “mean streets” is New York met sy brownstones, misdaad, dwelmslawe, immigrante. Dis ’n droewe prentjie. Die skrywer beskryf ’n jongman wat in New York aankom en dadelik, maar dadelik, bewus is van ongerief, slegte reuke, harde mense en so aan. Die beskrywings is deeglik en strak. Die toon is egter nie een van ontnugtering nie, maar eerder van ’n soort genot wat moontlik in die neerpen van die ervarings ontstaan het, maar dalk ook deel kan wees van ’n jongman wat sy nuwe omgewing wil leer ken en daar aanvaar wil word, wat hom so gou moontlik wêreldwys wil laat verklaar.

Ek het ’n agtergrondstorie gemis en het gehoop ’n mens leer iets oor hoekom die verteller uit Suid-Afrika is, sodat ’n mens sy New York-ingesteldheid kan toets teen ’n moontlik meer optimistiese of naïewe Suid-Afrikaanse een. Hy bly ’n paar jaar, van 1998 tot 2007, dus is die vermoede daar dat hy nie net ’n gap-jaar wou onderneem nie. Aan die ander kant, as ’n mens die skrywer se biografie bekyk, besef jy hy het in New York gestudeer, wat ’n lang verblyf verklaar. En aan nog ’n kant besef ’n mens dit maak seker nie saak nie, want boeke moet vermaak en inlig en dit doen Die Alibi Klub teen die hoogste versnelling.

Die inligting is nie altyd mooi nie. Karakters gaan ten gronde weens die drank en dwelms, of word vermoor of raak net weg, miskien ook vermoor, miskien weg na ander landstreke en gesonder leefstyle. Ons word min gespaar, ook nie ’n toiletramp wat een karakter wat wou help, deur ’n laag stront bedek laat nie.

Intussen verbeter die buurt ná 9/11 en word dit onbetaalbaar vir die oorspronklike inwoners, hoewel sommige van hulle hul huise teen enorme bedrae van die hand kan sit. Ryk mense trek in, die armes uit. Die lewe gaan aan en die verteller vertrek per taxi na die lughawe, waar hy aanvanklik aangekom het. Hy wil egter nie die scenic route volg nie, eerder die pad deur die arm dele.

Dis ’n intrigerende verskynsel, hierdie keuse wat gemaak word om telkens die haglike raak te sien en daaroor verslag te doen. Wou die skrywer die verteller as meer abjek uitbeeld as wat hy self is, hy wat immers skone kunste bestudeer het en redakteur van ’n publikasie was? Is hy lojaal teenoor sy aanvanklike indrukke as 19-jarige? Is dit ’n geval van ’n reisiger wat meen daar is geen sin in reis as jy nie gesout daardeur kan terugkom en vertel nie? Is dit die kunstenaar in hom aan die woord, iemand wat bewus is van, sê maar, die donkerder sienings van ’n Goya of Dali?

Dis ’n groot ding om oorsee te gaan, en die ervaring is natuurlik al voorheen in Afrikaanse fiksie neergeskryf. Van Schalkwyk se boek vergelyk baie, baie goed met daardie werke, en in terme van styl is hy van die mense een voor. (Dit het my ’n aanpassingsperiode geneem om aan die kort sinne gewoond te raak, maar daarna het ek lekker gelees.) Daar is voordeel daaraan om nie te jonk te publiseer nie, maar eers in insig en styl te ontwikkel (die skrywer is 35).

Laastens, ’n pluimpie aan Umuzi, omdat hulle boeke in beide Afrikaans en Engels uitgee, maar ook oor die hardeband waarin die boek aangebied word. Dis ’n werk om te hou en weer en weer te lees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top