ATKV vereer dirigent Richard Cock

  • 0

Die ATKV het op 8 September ’n oorkonde aan Richard Cock, bekende dirigent en koorleier, oorhandig uit erkenning vir die diep spore wat hy die afgelope drie dekades in Suid-Afrikaanse musiek getrap het. Die oorhandiging vind plaas tydens die Songs of Praise-konsert in die NG Kerk Faerie Glen, Pretoria.

In die motivering vir die oorkonde verwys die ATKV na hoe baie Cock deur die jare gedoen het om musiek nie net aan mense bekend te stel nie, maar ook hoe hy ’n liefde vir musiek, en spesifiek klassieke musiek, gekweek het by minderbevoorregtes, kinders en gewone mense deur sy werk met kore, kerke, welsynsgroepe en kunstenaars.

Cock, wat in Port Elizabeth gebore is en in Kaapstad skoolgegaan het, het in 1980 teruggekeer na Suid-Afrika na agt jaar in Brittanje, onder meer as student aan die Royal School of Church Music. Na sy terugkeer na Suid-Afrika was hy onder meer vervaardiger by die SABC, musiekdirekteur by die Nasionale Simfonie Orkes van Suid-Afrika, musiekdirekteur by die St. Mary's-katedraal in Johannesburg en artistieke direkteur van die Johannesburg Feesorkes.

Onder sy leiding het die NSO opgetree van die Kaap tot letterlik Kaïro. Cock was ook die stigter van die Simfoniekoor van Johannesburg en die internasionaal erkende Chanticleer Singers. Danksy sy entoesiasme neem koormusiek, orkesmusiek en simfoniekonserte drasties toe in gewildheid.

Cock is ewe gemaklik voor ’n klaskamer vol kinders as in die geselskap van wêreldbekende kunstenaars soos Joshua Bell, Julian Lloyd-Weber en Pavarotti. Hy het ook saam met die Drie Tenore (Pavarotti, Domingo en Carreras) gewerk tydens hul Suid-Afrikaanse besoek.

Deur die Apollo Musiektrust, die Nasionale Lotery, die Nasionale Kunsteraad en die RMB-fonds word konserte onder sy leiding in agtergeblewe gebiede aangebied. Danksy sy interaktiewe aanbieding leer duisende kinders en jongmense meer oor ’n orkes, sy instrumente en die wonder van mooi musiek.

Daarbenewens is Cock ’n uitstekende spreker wat sakelui en ander groepe toespreek oor onder meer transformasie-, leierskap- en veranderingsbestuur.

Hy het al verskeie nasionale en internasionale toekennings ontvang, onder meer ’n Artes, die Rotariërs se Paul Harris Fellowship, ’n Royal School of Church Music Fellowship asook ’n Association of the Royal School of Church Music en ’n Fellowship of the Royal School of Organists, om net enkeles te noem.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top