Die ATKV-SA Akademieprys vir ’n wetenskaplike artikel in Afrikaans is deur die ATKV in oorleg met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel om die skryf van wetenskaplike artikels in Afrikaans te bevorder. Enige akademies-wetenskaplike artikel, in Afrikaans geskryf en in ’n geakkrediteerde tydskrif gepubliseer, kom in aanmerking. Vier pryse is vir artikels in die geesteswetenskappe bestem en twee vir artikels in die natuurwetenskappe, wat ingenieurswese en mediese wetenskappe insluit.
Een van die pryse vir geesteswetenskappe is Dinsdag 28 Augustus aan Gerrit Olivier toegeken vir sy artikel “Tristia in dialoog met NP Van Wyk Louw se oeuvre” wat in Tydskrif vir Literatuurwetenskap verskyn het. Olivier is verbonde aan die Skool vir Kunstewetenskappe, Universiteit van die Witwatersrand.
Die prys word gedeel met Louise Viljoen vir haar artikel “Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw” wat in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het. Viljoen ontvang haar prys op 13 September in Stellenbosch.
In die artikel van Olivier word geargumenteer dat NP Van Wyk Louw se laaste en grootste bundel, Tristia (1962), ’n komplekse reaksie bevat op baie idees wat in sy poësie tot uitdrukking kom of in sy polemiese geskrifte van die jare dertig geartikuleer is. Meer in die besonder word aangetoon dat Gestaltes en diere (1942) ’n beweging impliseer weg van die nierasionele wat soms in Louw se vroeër werk verheerlik word; dat die figure van die held en die geestelike aristokraat algaande in sy werk vervang word deur die intellektueel, wie se aktiwiteite gekenmerk word deur onsekerheid en ’n behoedsame soeke na die waarheid; en dat Nuwe verse (1953) die moontlikheid open van ’n meer sensuele en minder essensialistiese waardering van aardse heerlikhede. Die tweede gedeelte van die artikel is gewy aan ’n ontleding van die tekenkonsep met sy wortels in die Middeleeuse Christelike estetika wat in Tristia verskyn. Dit lei tot die gevolgtrekking dat Louw se latere hermeneutiek, wat berus op ’n wantroue in die simbool en ’n geloof in die mensdom se onvoltooide pogings om sy begrip van skoonheid en goddelikheid te artikuleer, ’n betekenisvolle dialoog met die geheel van sy vroeër werk beliggaam.
Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het gesê dat hierdie prys die skryf van uitnemende wetenskaplike artikels bekroon, en sodoende word ’n bydrae tot Afrikaans gelewer.
![]() |
|
Van links na regs: Japie Gouws, ATKV-Besturende Direkteur en Prof. Gerrit Olivier, wenner van ATKV-SA Akademieprys |


