As die wind kom draai tydloos relevant

  • 0


Titel: As die wind kom draai
Skrywer: Hans du Plessis
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624057468

 

Koop As die wind kom draai by Kalahari.com.

Hans du Plessis is ’n veelbekroonde skrywer, digter en dramaturg. As die wind kom draai kan tematies as opvolgroman van Die pad na Skuilhoek (2011) gelees word. In laasgenoemde val die fokus op Lourens Botha en Petronel van Rensburg se jeugliefde, terwyl die roman onder bespreking die lief en leed van die hoofkarakter, Vryheid, belig.

Dit is 1844 en die seun van ’n slavin, Vryheid, raak verlief op Magriet Prinsloo. Haar gesin, en veral drie broers, is ernstig gekant teen hulle verhouding, en dié weerstand ontketen ’n paar kwelvrae: Wie is Vryheid se pa? Wat is die Prinsloos se groot geheim? Waarom mag net die wit trekkers grond besit? In sobere styl beskryf Du Plessis die lotgevalle van sy karakters; die historiese stoffering van die verhaal is oortuigend en outentiek.

Naas Vryheid se liefde vir Magriet sentreer die roman ook om twee ander sleutel-intriges, naamlik Lourens se ambisie om veldkornet van die Berglandwyk te word en Bybeltjie Steyn se roeping om in Nederland vir predikant te gaan studeer. Meester Joachim Roos, wat drie uur te perd van die plaas Skuilhoek op Mooirivierdorp (Potchefstroom) woon, is die aangewese persoon om die drie jong mans met hulle onderskeie vrae (wat inderwaarheid die kern van ideologiese vraagstukke vorm) te help.

In oënskynlik onskuldige verhaalgebeure word ’n paar magsdiskoerse van die Afrikanergeskiedenis geaktiveer. Sonder om in historiese pedanterie te verval, volg die verteller op trekkersweë self die oorsprong van netelige kwessies, byvoorbeeld dié van Afrikaner-identiteit (slawe en rassevermenging en -afkoms ingereken).

Op bl 53 word Vryheid as bruin man en as Ander só getipeer: “Jy moet toegee, my vriend, dat jy anders is.”

“Sê Artikel Ses,” voeg Lourens by. “Ons is al drie in Afrika gebore.” Dan bevestig Bybeltjie Steyn sy Afrikanerskap op sy beurt met: “Ek is ook ’n Afrikaner (…)  van Hollandse bloed.”   
Die vestiging van die wit Afrikaner-identiteit (Self) wat geen weerstand van die Ander bied nie (mense van gemengde herkoms, slawe, knegte), word histories duidelik verbeeld aan die hand van die gevreesde Artikel Ses van die Drie en Dertig Artikels (soos aanvaar op die volksvergadering van 9 April 1844). Volgens hierdie artikels mag geen “baster” (wat kwansuis per definisie ’n “onwettige kind” is) burgergrond teen sy naam aanteken nie (148). Hierdie meesternarratief as historiese diskoers vind ook uiting in Bybeltjie Steyn se dagboekinskrywings.

Bybeltjie verkeer onder die grandiose illusie dat hy afgesonder is as gesant van die Here, soos Samuel, en die skynheilige gesindheid van Christene teen hierdie vroeë historiese agtergrond van die trekkers kom ook onder die soeklig. In Bybeltjie se dagboek skryf hy onder meer: “’n Mens is die storie wat jy van jouself vertel” en “’n Volk moet sy storie ken om ’n volk te kan wees, of hoe?” (84).

“Bedoel jy ons is wat ons glo ons is?” vra Petronel.

“Ons, die verhuisers uit die kolonie, is die storie wat ons van onsself glo.”

“En jou dagboek vertel dit?”

“Ek sien jy volg die strekking vn my woorde, Petronel (…)” (84).

Bostaande stukkies dialoog onderstreep dat die vestiging van die meesternarratief histories deur die optekening van die heersende magsdiskoers bepaal is, terwyl die slawe, diensbodes en matjiesgoedmense oorwegend ongeletterd was.

Desnieteenstaande is dit dan ironies dat dit juis táál was wat mense van alle groeperinge eens verenig het: “Dit,” sê haar pa asof hy nou eers daaraan dink, “dit, Sustertjie, is seker die heel belangrikste ding wat ons ooit gedeel het. Die grensboere, die slawe en die matjiesmense wat die pokke oorleef het. Ons het mekaar raakgepraat sonder om mekaar raak te sien, omdat ons nie sonder mekaar kon klaarkom nie” (120).

Du Plessis beeld sy karakters met deernis uit, maar huiwer nie om fyn die spot te dryf met die Afrikaner se mentaliteit nie. Op bl 79 verwoord Petronel die versugting om alewig te wil laer trek só: “Hoekom wil ons alewig ’n laer om ons hê? Ek is moeg vir ’n laer, ek wil vry wees.” Op bl 123 spreek Magriet se pa hom uit oor die Afrikaner se versplinterde identiteit en herkoms: “Die hele lot van ons is deurmekaar. (…) Die lyne tussen ons het, lyk dit my, op ander plekke kom lê, en verskille gemaak wat ons tot nou toe nie raakgesien het nie. (…) Ek weet nie, dit kon die verhuising gewees het. En dit, my kind, is die Engelse se skuld.” In hierdie laaste sin is dit duidelik dat die Engelse (Ander) nou die skuld moet kry vir die gewaande onreg wat teen die Self (brose Afrikaner-identiteit) gepleeg is.

In As die wind kom draai word die karakters se interaksie en noue verbondenheid met die natuur akkuraat en liries geskets. Naas verwysings na die weer, diersoorte en plantegroei word laasgenoemde ook effektief ingespan om betekenis aan die individue se innerlike monoloog te gee, wat op sy beurt weer die  emosionele beleweniswêreld van die onderskeie karakters registreer. Die brand figureer as metafoor dwarsdeur die roman en vergestalt onder meer die verterende liefde en hartstog tussen Vryheid en Magriet. Op bl 126 verwys Sipho na dié liefde as ’n storie (gerug) wat blitsvinnig deur die klein trekkersgemeenskap versprei: “E tsamaya jaaka mollo”, oftewel: “Hy loop soos die vuur.”

As die wind kom draai is ’n liefdesverhaal en historiese roman wat eindelik daarin slaag om magsvraagstukke te besleg deur die morele hoë grond te kies. Dit is ’n genietlike werk vir oud en jonk en spreek omstrede kwessies met die nodige piëteit aan. Dit is  ’n boek wat getuig van hoop – en binne die historiese inbedding steeds ’n tydlose relevansie sal hê.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top