
Raakvlakke: ouer en nuwe verbintenisse in die Afrikaanse literatuur
Universiteit van Pretoria, 30 September – 2 Oktober 2014
29 September 2014: Simposium vir nagraadse letterkundestudente
Soos enige literêre sisteem bestaan die Afrikaanse literatuur danksy die kontak wat skrywers en ander betrokkenes by die literêre bedryf met mekaar en met ander literatuursisteme onderhou. Dit is deur ontmoetings en kruisbestuiwing dat nuwe genres, tendense en selfs individuele literêre werke binne die literatuur vorm aanneem en ontwikkel. Die raakvlakke in die Afrikaanse literatuur is divers en sluit in literêre verbintenisse met die Suid-Afrikaanse literatuur wat in Engels en die ander Afrikatale geskryf word, eweneens die literatuur van die Lae Lande, maar ook die wêreldletterkunde. Daar is verder ’n wisselwerking tussen die literatuur en bestaande kennisvelde soos die geskiedenis, die joernalistiek en die natuurwetenskappe. Kortom, die gedagte dat die Afrikaanse literatuur as ’n selfonderhoudende geheel in ’n toestand van isolasie sonder betekenisvolle en volgehoue interaksie met ontwikkelinge buite die eie beperkte kring sou kon voortbestaan, was nog nooit werklik lewensvatbaar nie. In die literatuur word grense voortdurend getoets en op verbeeldingryke maniere oorgesteek sodat nuwe literêre gesprekke ontstaan en literatore hulle moet haas om van die nuwe energieë wat in die raakvlak vrygestel is, rekenskap te gee.
Referaatvoorstelle wat daarop gerig is om die verskillende raakvlakke in die Afrikaanse literatuur te verken, word afgewag. Die kongres dek onder meer (maar word nie beperk tot) die volgende onderwerpe (nie):
- Parallelle ontwikkelinge, kruisbestuiwing en samewerking: die verbande tussen Afrikaanse literatuur en die ander letterkundes van Suid-Afrika en Afrika;
- Raakvlakke en intertekstuele gesprekke tussen skrywers, digters en dramaturge binne en buite die Afrikaanse literêre sisteem;
- Die strewe na ’n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis as ’n bevestiging of ondermyning van gevestigde afbakenings en erkende raakvlakke;
- Sienings vanuit die Engelstalige letterkunde en die letterkundes in ander Afrikatale oor die aard en omvang van literêre raakvlakke binne die Suid-Afrikaanse literatuur;
- Ouer en nuwer verbintenisse tussen die Afrikaanse literatuur en die Nederlandstalige literatuur; ? Literêre vertaling as ontmoetingsone;
- Opkomende genres en hul raakvlakke met die hoofstroom: outobiografieë, biografieë, dagboeke, literêre niefiksie, rubrieke, oraliteit, misdaadfiksie, wetenskapsfiksie, kinder-en jeugliteratuur;
- Raakvlakke tussen die gepubliseerde letterkunde en die uitdagende wêreld van film, televisie, radio, internetpublikasies, toneel en kunstefeeste.
Simposium vir nagraadse studente, 29 September
Tydens die simposium vir nagraadse studente sal studente die geleentheid kry om die referate wat hulle vir die hoofprogram van die kongres voorberei het, in te oefen en om kritiese kommentaar op hul werk te kry. Studente en hul studieleiers sal ook gesamentlik hul navorsingsresultate kan aanbied. Die studente wat referate lewer, sal dus steeds by die program van die hoofkongres geïntegreer word. Redakteurs van verskillende vaktydskrifte sal ook na die seminaar genooi word om te kom praat oor die keurproses en die standaarde wat geld vir navorsingsartikels. Genooide sprekers sal aan studente inligting verskaf oor navorsingsmetodologie in die literatuurwetenskap (met klem op die navorsingsvoorstel vir nagraadse studie). Ook nagraadse studie in kreatiewe skryfwerk en geleenthede vir studie in die buiteland sal bespreek word.
Voorlegging van referaatvoorstelle
Voorstelle vir referate (formeel sowel as informeel) van ongeveer 300 woorde word ingewag teen 21 Maart 2014. Prof. Andries Visagie (andries.visagie@up.ac.za) is die kontakpersoon aan wie alle korrespondensie gerig moet word. Referaatvoorstelle behoort ook die volgende inligting te bevat:
- Titel van die referaat
- Naam van die betrokke bydraer(s)
- E-posadres van die bydraer(s)
Benewens formele voorleggings, is referate oor voorlopige verkennings en ondersoeke na moontlikhede vir verdere navorsing ook welkom. Nagraadse studente word aangemoedig om aan die kongres deel te neem.
Kongresdatum
Op 29 September vind die simposium vir nagraadse studente plaas. Die hoofprogram van die kongres duur van 30 September tot 2 Oktober.
Meer inligting
In die loop van 2014 sal bykomende inligting oor die kongres op die ALV se webtuiste verskaf word: www.alv.org.za
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

