Aftree langs die Serpentine

  • 0

Die punt van die roeispaan sak saggies in die rivier en stoot kalm die bootjie van die wal weg. In die vroegoggend is dit heilig stil en kan ‘n mens selfs die slapende eende tussen die riete laat wakker skrik. As die son behoorlik in die lug hang, kom skuifel pensionarisse na die rivierwal en plons kinders in die vlakwater. Daar is soveel lewe in die rivier, soveel energie wat selfs beneukte tieners laat glimlag. Maar nou is dit nog net voor sonsopkoms en donker oor die water. Die perfekte tyd om alleen te wees – en om ‘n lyk in die vlei te versteek.

Marius Botha was altyd lief vir sy vrou, Mareta, maar in hul aftrede het haar dingetjies aan sy gemoed begin kou. Marius was ‘n welvarende ingenieur en sy vrou lui en onoorspronklik. Oor die jare het die Bothas van Brooklyn die Pretoria-Oos-argetipe aangeneem van oorwerkte nors man en verveelde “medicated” huisvrou. Ná 32 jaar se getroue werk en flou grappe het Marius sy mede-ingenieurs gegroet en by sy droomhuis teen die Serpentinerivier ingetrek. Daar het hy binne ‘n maand besluit om nog ‘n stoep te bou om reg te wees as die kinders oor Kersfees kom kuier. Buiten die stoep en braaier en garage het die res van die huis aan Mareta en binnehuisversiering behoort. Sy “werkswinkel” in die garage waar hy nou gemorsies uit hout kon bou, was ‘n toegewing wat Mareta kon maak. Daar het Marius sy eerste tenger houtwerkprojek (‘n dennehoutboekrak vir die werkswinkel) begin en die meeste aande na sy vrou hom nag sê, pornografie gekyk en draadgetrek. Die boekrak was lelik, maar was binne twee dae klaar en ‘n getuigskrif vir Marius se deurweekte ingenieurspersoonlikheid en aandag vir besonderhede. Die volgende projek was ‘n werkstafel, maar dit het na ‘n week halfklaar en lendelam teen die muur gestaan. Hy kon aan niks anders dink nie, want die huis was reeds vol bestelde meubels en as pas-afgetrede ingenieur was hy te selfbewus om sneewerk vir pure kunstige uitdrukking aan te pak.

Die bootjie is in ‘n nou kanaal omring deur ou riete. Hier en daar hop ‘n geelvink benoud rond soos wat die riete kraak, maar andersins is dit stil. Marius het die rivier goed leer ken en het selfs half skuldig in die afgesperde roetes ingeroei toe hy goed verveeld was. Daar het hy die nou kanaal ontdek wat in ‘n stormwaterpyp eindig. Daar is geen aktiwiteit daar naby nie, net vissies en vinke wat met gulsige klein happies die oorskot van Mareta Botha sou opvreet.

Hulle eerste groot bakleiery was oor die bediende. Mareta wou die bediende drie maal per week laat inkom, maar Marius het geskrik toe hy sien hoe duur dit hulle sou uitwerk. Toe hy nog salaris getrek het, was daar nooit enige finansiële probleme of enige tekort nie, maar hy het al hoe meer bewus geraak van die krimpende aftreefonds soos Mareta onverpoos aanhou koop het. Die damwal het behoorlik gebars toe Mareta hom beskuldig van suinigheid, waarop hy kon terugkap dat sy op geen manier ‘n bydrae lewer nie. Sy lewenslange verwyt en haar skuldige gewete het soos twee ekstras in die kombuis gestaan. Daar was geen kleinkinders of bouwerk of versieringsprojek wat die aandag kon aftrek nie. Na ‘n leeftyd van opgaar was daar niks anders oor as om te baklei nie. Tot hul skok het albei agtergekom dat hulle niks van mekaar hou nie, hoewel die sprake van liefde en respektabelheid die twee saam in die huis gehok het.
Die beskuldiging dat Marius verslaaf was aan pornografie was die spyker in Mareta se doodskis. Nie soseer die beskuldiging nie, maar dat sy haar kennis van sy geheimpies aan hom openbaar het en so die taboe en vernedering vorm gegee het. Dit kon nie so aanhou nie. Hulle het steeds op dieselfde bed geslaap, maar net gepraat om mekaar van nuut te beskuldig.

Die moord het ‘n week lank geneem. Eers het Marius die werkstafel klaargemaak. Op die moordaand het Marius Rohypnol in ‘n glas water gegooi en Mareta gevra om dit klaar te drink. Daarna is haar kaal bewustelose lyf op die werkstafel geplaas, die bloed gedreineer, tande uitgetrek en ledemate in kleiner stukke opgesny. Daarna het Marius haar selfoon, beursie en vol uitrusting klere in ‘n sak langs die snelweg gelos, reg vir die eerste boemelaar om op te tel, en haar Land Rover skuins na 4-uur die oggend langs die Wildernis Hotel se dameskroeg parkeer. By die huis het hy heelaand sy draaisaag laat aan-en-af met ‘n tydskakelaar, sodat die bure aan die speurder kon vertel hoe Marius heelaand getrou met sy houtwerk besig was terwyl Mareta weer rondgery het.

Marius het Mareta se voet met die stylvolle ligrooi naellak heel laaste in die dreinwater gesit en sy bootjie omgedraai. Hy was bly dit was so netjies gedoen dat niemand met hul smetterige hande aan sy Mareta se lyk sou raak nie.

By die kanaaltjie uit en op die groot Serpentinerivier nog voor die son behoorlik oor die berge kon breek. Wat ‘n fantastiese dag by die see wat voorlê, noudat die Transvalers weer in hul kantore sit. Nader aan sy huis ‘n geritsel langs die wal soos spreeus parmantig baklei en daar ver ‘n klomp eende wat laag oor die water opstyg.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top