Titel: 150 Stories
Outeur: Nataniël
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798166645
Koop 150 stories by Kalahari.com
As jy al ooit by ’n Nataniël-show was – jy kan dit nie ’n vertoning, opvoering of optrede noem nie – is die lekker ding van sy 150 Stories dat jy sy stem hoor terwyl jy lees. Daarom sê ek: Koop die blerrie boek as Krismisgeskenk!
Hierdie versamelbundel kortverhale is verhoogvertellings uit vorige bundels soos Oopmond, Rubber, Maria Maria, Tuesday, Kaalkop2 en When I was. Maar jy sal jou ook kan verkneukel in 10 splinternuwe stories.
Dis nie letterkunde nie. Tog het die meeste vertellings verskeie lae waaraan jy kan kou en herkou. Sommige is satiries, ander is verskriklik snaaks. Maar daar is ook dié wat jou laat huil en ander wat jou aangryp. "Dear Mister Polken" is een van dié, al handel dit oor ’n man sonder neus, ’n "freak" wat ander met sy gebrek vermaak.
Nie al die verhale is ewe suksesvol nie – die bundel van 517 bladsye kon dunner gewees het. Hoewel baie van die slotparagrawe gebeure netjies saamvat en dikwels ’n heel nuwe wending bring, word die boodskap van enkeles, soos "Turquoise" en "Hagga & Dagga", met ’n lepel ingegee. Tog is die meeste van die stories absolute juwele. Nataniël dra die bundel op aan almal wat vir die afgelope 27 jaar op en agter die verhoog na sy stories "moes luister".
Hy self staan baie keer sentraal. Jy kry die gevoel dat sy vertellinge in die waarheid ontstaan. Later word hulle fiktief; sommiges gooi selfs ’n absurde draai. Iemand het byvoorbeeld twee koppe.
Die temas is soms nogal gewigtig, maar word besonder verteerbaar aangebied. Só ondersoek die skrywer gedwonge militêre diens in "When I was 23": "I then told him that everything was a personal choice, that I could serve my country in a thousand better ways, that I came into this world a free soul and I was not taking instructions from people I did not know." In "When I was 22" skryf hy oor diegene wat hul sin vir die lewe verloor het, maar tog sin aan ander se lewens gee. En in "When I Was 20" bekyk die skrywer diskriminasie teen onaantreklike mense. Hy noem hulle "genetic disasters" en sluit homself in: "I went to the chemist, bought a bag full of makeup and painted my face. Twenty years later I’m still painting. And people are paying to see it."
Nataniël se Engelse vertellings word in eenvoudige taal weergegee en is dikwels nog beter as dié in Afrikaans. Juis omdat hulle so gestroop is.
Ander temas wat herhaaldelik ondersoek word, sluit in gay-wees, seksuele ontwaking, egbreuk (soos oor "die adder wat die pastoor laat struikel het"), rassediskriminasie, eensaamheid en die hartseer en absurditeit van sektes. "Harige Hilda" som van die temas op: "En so ver hulle gaan, word nuwe dinge uitgevind. Heel eerste ontdek hulle diskriminasie. Dié werk so goed hulle vind toe sommer vooroordeel ook uit. Toe kom skynheiligheid. Burokrasie word uitgevind en onmiddellik tot ’n hoogtepunt gevoer."
Daar is baie wat jou aan die dink sit. In "When I was 18" vra die skrywer by implikasie: Hoekom hou ons eers begrafnis ná iemand se dood? Want anders sou jy in lewe kon hoor wat ander van jou dink.
Etlike lewenswaarhede kom ook voor. Ons weet almal die lewe kan in ’n oogwink verander, maar in "’n Oomblik" lees jy: "En dis hoe jy hom vat, wat van jou maak wie jy is." In "Oorbegin" kry jy dié raad: "Die regte ding kom as jy lank genoeg stilbly om hom te hoor." "Dankbaar" sê weer daar is uitkoms tydens ellendes: "... dit vra net meer moeite as droom en duik van ’n dak." Della van Virginia dink haar weer in ander se situasies in terwyl sy seks het met haar man, "die koster met die luste": "Saam met duisende, miljoene vernielde kinders, verwaarloosde vrouens en vergete siele ontsnap sy na ’n plek waar sy nodig is. En die res van die wêreld glo engele woon daar ver tussen die wolke. Hulle weet nie daar is vlerke af met die straat of op die werf langsaan nie. Selfs in Virginia."
Die helfte van die sukses van dié bundel kan aan die taalgebruik toegeskryf word, oftewel aan die manier waarop Nataniël sy karakters uitbeeld. Twee seuns, "reusagtig en rooi", het gesigte wat presies lyk "soos dié wat in oorsese tydskrifte verskyn wanneer daar bespiegel word oor die verband tussen regse politiek en bloedskande". ’n Lugwaardin word beskryf as "’n donker ding met so ’n blou streep". Nataniël sê hy dog eers "dis ’n broodboom wat gemerk is vir teeldoeleindes". "Shame," skryf hy verder, "hulle het seker ’n lugleegte getref toe sy make-up wou opsit." In "Doodgewoon" maak Jaklien, ’n fabriekswerker, haar verskyning. Van die ander werkers dog "die masjien in die hoek is outomaties, hulle’t haar nooit opgemerk nie". En in "Been" lyk ’n vrou "soos iemand wat hou van rook op ’n opvoustoel of wydsbeen sit langs ’n vuur".
Dikwels is die visuele beelde wat opkom onoortreflik, soos Beatrix se beskrywing van die meisie wat haar verloofring ingesluk het. Sy het onderstebo gehang "terwyl die helfte van die dorp haar wiks". Die wyse Beatrix reken ook: "(J)y gee nie drank vir ’n (verstandelik) stadige persoon nie, sy drange spreek vir hom aan in die openbaar." In "Die Vallei van die Pienk Bloeisels" klap Ma Meya se kop weer so hard dat haar oog "soos ’n ghoen uit ’n rek" bergaf skiet. "Van klip tot klip hop hy tot hy weg is." En in "Billy-Dean 6" sit Ouma (steeds) gehurk agter die toiletbak en "onder haar steek ’n helse volstruiseier uit".
Die vertellinge is deurspek met Nataniël se kwinkslae: Hannatjie is ’n "walglike dogtertjie" wat sukkel om blokfluit te speel. "Teen die tyd dat sy haar buiging maak, is elke hond op die dorp steriel." Dis ook die einste Hannatjie wie se oë dooier is "as dié van ’n Engelse vrou agter ’n Stuttafords-counter". Nog ’n vrou, "groot van gestalte en lam van gestel", kon weer ná ’n bord bredie so "gas gee" dat jy "die termiete uit die dak uit hoor vlug". Om nie te praat van die outjie wie se baard skaars ontkiem het toe sy "lendene" begin "opsteek" nie!
En die dinge wat die skrywer met mekaar in verband bring! Soos: "(O)ns sit verstom soos ’n ou tikmasjien met een letter in die lug." ’n Bruid dra weer "something that looked like it had just been used to slow down a Boeing" en ’n bysiende seun moet omtrent "’n Pyrexbak dra om iets te sien" en lyk dan "soos ’n lasagne". Meisies loop ook deur: "Nou, as jy ’n langhaarpoedel vat en jy trek hom agteruit deur ’n posbus dat al sy kroese vorentoe staan en jy maak hom regop sit in die middel van ’n bakkie en jy kyk hom van agter af, dan weet jy hoe lyk ’n Pretoria-meisie op ’n date."
Nataniël se skryfstyl is vloeiend en dís wat die verhale so leesbaar maak. Probeer gerus om elke aand so drie te lees – hulle is kort genoeg. ’n Giggeltjie voor slaaptyd het ook nog niemand skade gedoen nie.
Op ’n stadium sê die skrywer hy is so gespanne dat hy net Maandae asemhaal. Maar oor hierdie bundel kan hy gerus ontspan. Nataniël gee immers hiermee ’n stem aan verstotelinge en verskoppelinge. En dit maak van hóm ’n belangrike stem in ons kultuur en samelewing.

