Dag swaer, jy voel al soos familie
Ek kan nie onthou dat ek gesê het jy is 'n voorstander van die lukrake gebruik van Engelse woorde in Afrikaans nie soos jy beweer in jou brief van gister. Wat ek wel gesê het is dat sodanige gebruik van Engelse woorde agteruitgang van Afrikaans verteenwoordig. Jy't gesê dis nie agteruitgang nie, dis aanpassing en so het ons maar op die manier oor en oor vir mekaar in tientalle briewe gesê en ons is nog steeds daar, ten spyte van Herman Toerien se damwalmetafoor.
Ék het nie van die krakies gepraat nie; dit was Herman Toerien soos ek gesê het hierbo. As jy reken die krakies dra by tot die taal dan moet jy miskien dit met 'n ou meubelstuk vergelyk, iets soos patina waar krakies wel 'n bekoring het. Die krakies waarvan Herman egter praat is krakies in 'n damwal, dis lelik, verswak die struktuur en lei tot die ineenstorting van die wal.
Jy hou aan sê Afrikaans kan nie verengels nie terwyl dit voor jou oë (ore) gebeur; die Kaapses byvoorbeeld praat 'n hewig verengelsde Afrikaans. Fanagalo byvoorbeeld is 'n verafrikaans- en verengelsde Zoeloe – Afrikaanse en Engelse sintaks met Zoeloewoorde. Jy is ook reg as jy sê die mens verengels of verzoeloe of wat ookal want, tussen die Engelse of die Zoeloes, sal hy en veral sy kinders Engels of Zoeloe naderhand suiwer praat. Romeens klink vir my soos verbalkaniseerde Italiaans, of 'n veritliaansde balkantaal. Daar moet talle sulke gevalle in die wêreld wees.
Wat lukraak betref: Iemand wat kommunikeer in sy tweede taal sal, wanneer hy vashaak, die woord uit sy eie taal ingooi. Dan kry jy eerstetaalsprekers wat sommer net vir die lekker, of uit snaaksigheid, LUKRAAK (randomly soos jy sê) sy tweedetaal se woord ingooi. Jy kry dit veral onder die aartiefaarties; studio in plaas van ateljee, stage in plaas van verhoog, die soort van ding. Daar is wel die wat die nie lukraak doen nie omdat hy nie, vanweë Engels by die werk en in die openbare lewe, nie die Afrikaans ken nie en dan die Engelse woord gebruik soos byvoorbeeld 'carburettor' in plaas van 'vergasser', 'cantilever beam' in plaas van 'kantelbalk', 'reverberation duration' in plaas van 'naklankduur' ens ens. Oor die algemeen egter, word Engelse woorde lukraak ingegooi.
Ek wou nog iets sê maar kan nie nou onthou nie. Jou boek is nog op pad; ek het hom opgespoor (die een wat ek jou skuld vir Poerr) maar toe kom staan en leen iemand hom en ek het vergeet wie dit was. Maar hy sal nog by jou uitkom, dzjenjin.
Groetnis
Jan Rap

