Ons’t gelewe soos gypsies, ons was jonk, ons was vry
Ek was lief vir jou, jy vir my
Ons lywe, ons lewens, ons uitkyk was mooi
Ons bloed, ons harte, ons Harleys was rooi
Ons’t gedans en gelag en die lewe getart
Ons gooi die dices, geen grens aan die hart
Tequila, flamenco, ’n geel karavaan
Dit sal altyd so bly, het ons salig gewaan
Skreiend die seer van ’n hart wat probeer
Om te maak of alles nog reg is
Wat homself bly vertel hy’t alles geleer
Al weet ons dat die magic nou weg is
Ons het ouer geword en die lewe leer ken
Gesien dat ons regtig nie alles kan wen
Die lewe se paaie loop wyd en loop krom
Die grimering kan lankal nie meer alles vermom
Ons’t gesien hoe die Harleys stadig verbleik
Hoe hulle die vlae een vir een stryk
Die tango se sjaal was nou net ‘n kombers
’n Lappieskombers in skakerings van pers
Skreiend die seer van ‘n hart wat vergeet
Dat alles nie rêrig nog reg is
Wat homself bly vertel dat hy steeds alles weet
Maar nie wil glo dat die magic reeds weg is
Ons wil so graag bly glo aan die ewige jeug
Ons wil so graag aan die lewe se vreugde bly teug
Maar ons bene begin al hoe stadiger dans
Ons dans maar, want dis dalk die heel laaste kans
Die kitare se snare is oud en is vals
Die lewe is nou net ‘n stadige wals
’n wals op die maat van die ou blou Donau
’n stadige wals in ‘n ou vintage blou
Die lewe ’n wals in ou vintage blou…..

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

