Vir Thomas, Angus en Brianvds oor model en teorie
Dagsê menere, ek verwys na julle kommentaar onderaan my brief van 1 Oktober.
Ek stem saam met Brian oor die woord 'model', dit is presies die storie. Ek het 'n probleem met die huidige model en beskou hom as onvolledig, nog nie goed uitgetrap nie. Onthou julle nog die ou chemie van so 'n paar eeue gelede, die met die twee hakies aan die suurstofatoom en die een hakie aan die waterstofatoom byvoorbeeld, sodat jy H2O kry? Later het die elektronbane gekom wat dinge bietjie beter verklaar het en toe nog later die orbitale waar 'n elektron homself iewers bevind wat toe dinge nog beter verklaar het en waarmee beter gewerk kon word.
So voel ek oor die model van evolusie; nie dat hy verkeerd is nie maar hy trek nog op die hakiestadium van die destydse chemie.
Die hakie-chemie is vir my makliker verstaanbaar so ek erken die moontlikheid bestaan dat die evolusiemodel al lankal by die hakiestadium verby is en dat dit my kennis van die storie is wat daar vasgehaak het. Dis moontlik, ek gee toe maar daar is 'n paar dinge wat, alhoewel ek al baie gevra het, niemand nog mooi kon verduidelik nie. Miskien is matriekbiologie nie genoeg om dit te verstaan nie.
Byvoorbeeld: Daar is geweldig uiteenlopende toestande hier op aarde waar dinge kan bestaan. Lewe gedy op die onmoontlikste plekke, dink maar aan daardie wurms naby die vulkaniese pype in die diepsee ens ens. Die mens self is redelik aanpasbaar (onthou evolusie en aanpassing is nie dieselfde ding nie), vergelyk maar aan die toestande waarin onderskeidelik die Boesmans (ek verstaan dat genoemdes hierdie naam bo Khoi of San verkies) en die Eskimo's lewe.
Dit sou dus nie vir ouens met ses vingers 'n probleem gewees het om in, sê Pretoria, te leef nie (dink net hoe sou hulle harp, kitaar en viool kon speel). Lukrake mutasies kon dan selfs met sewe vingers en tone vorendag gekom het of wie weet wat nog maar in elk geval wesens wat dit nie te moeilik sou vind om in Pretoria se weer te oorleef nie. Lukrake mutasies sou tot gevolg gehad het dat die wêreld so vol wesens sou wees dat jy nie tussen die spesies sou kon onderskei nie, dus NIE die diskrete spesies wat jy vandag kry nie. Of is lukrake mutasies nie meer deel van die model nie?
Dan is daar nog parasiete waarvan die gashere miljoene jare uitmekaar op die evolusieleer sit, byvoorbeeld een siklus in 'n mier en 'n ander in 'n skaap. En hierdie parasiet het die ongelooflikste vermoë; as die tyd aanbreek om van die mier na die skaap toe te gaan verander hy die mier se gedrag en die gaan sit dan net, totaal onmierlik, op 'n grashalm en wag om gevreet te word. Nou waar kom lukrake mutasie, oorlewing van die mees geskikte hier in? Of was die mier/skaap-kombinasie bloot 'n geskikte niche?
My gunstelingraaisel wat evolusie betref is die oogpister; hy sou hierdie rare vermoë om 'n kokende toksiese stof te spuit ontwikkel het omdat sy vlerke te stadig oopvou om sy vyande te ontvlug. Ek meen hallo! Hy het reeds vlerke, hoekom nie aan die goed werk nie eerder as om hierdie gesofistikeerde chemiese arsenaal te ontwikkel? En hoekom pleeg bye selfmoord wanneer hulle hul eiendom verdedig? Ander goed gaan ook dood in gevegte maar hulle sneuwel, niks se gekamikazi-ery nie.
Daar is nog baie ander goed maar ek groet nou maar.
Jan Rap