Verder oor verwerking en sintuie vir Angus
Beste Angus
Nou ja, ek en jy stem saam dat die verkryging en verwerking van inligting partykeer veel te wense oorlaat. Maar, soos jy tereg uitwys deur jou voorbeeld van die uitken van ’n vrot appel is daar wel tye wat jy op jou sintuie en inligtingverwerker kan staatmaak. Om die waarheid te sê, ek skat dit is so 95% van die tyd in die geval van ’n mens by sy volle positiewe, in ’n, noem dit maar bekende of betrokke omgewing en met al sy sintuie nog in goeie toestand.
Daar is egter die 5% gevalle waar dit nie werk nie. Daar is Lyall Watson se storie in Supernature waar die Pedi’s (as ek reg onthou) glo jy kan infeksie bestry as jy koring wat deur ’n skeeloogkind gekou is en dit dan vir 3 dae in ’n beespens aan ’n boom tien treë van ’n rivierwal gehang het. Dit klink absurd maar toe sien hulle onder juis daardie omstandighede ontwikkel ’n soort muf op die gekoude koring en hierdie muf is niks anders as penisilline nie. Natuurlik het hierdie onthulling diegene wat dit summier afgelag het lelik op hulle neuse laat kyk.
Die mees algemene van hierdie is die nalaat om te soek na die groter prentjie. Die idee was byvoorbeeld hier in die 60’s voorgehou dat Helen Suzman alleen teen die Afrikanerhordes haar, by wyse van spreke, man moes staan. Intussen was die ware toedrag van sake dat die Afrikaner alleen teen Helen Suzman en, onder andere, die Suid-Afrikaanse, die Europese, Amerikaanse, Australiese, Nieu-Seelandse, Kanadese en Engelse pers was.
Die afmaak van ’n kerkgebou kan dalk ook die miskyk van ’n groter prentjie wees. Gestel nou op daardie perseel waarvan jy praat rig die ou toe nog ’n fabriek op wat werk verskaf aan honderde. Natuurlik het hierdie honderde nou gesinne en die uiteinde is die bevolking vermeerder en dit is op die oomblik ’n groot probleem. Op die ou end sit ons nageslag met ’n voedselprobleem en dit alles die gevolg van, onder andere, die omskep van ’nuttelose’ kerke in fabrieke. Wat jy as rasioneel beskou blyk dan uiteindelik hoogs irrasioneel te gewees het.
Jy maak ’n eienaardige stelling; jy sê ateïsme is nie ’n religie nie en daarom kan dit nie gepropageer word nie. Hoe so? Is dit net religieë wat gepropageer kan word; is dit die definisie van propaganda? Nee man, ENIGE idee of opvatting kan gepropageer word en dus ook ateïsme. Jy en ’n paar ouens hier propageer ateïsme, beweer dat dit die wêreld ’n beter plek sal maak. As dit nie propageer is nie is my pankreas ’n pôpô. Dit is natuurlik jou volle reg, net soos dit my reg is om te vra of jy rêrig mooi gedink het oor die saak. Ek het net gewonder hoe jy so seker kan wees dat jy kan peil trek op jou ver van perfekte verwerking van karige en/of verwronge inligting.
Groetnis
Jan Rap