Velddraf met Woorde tydens US Woordfees

  • 0

Uitkyk Wynlandgoed buite Stellenbosch sal op Saterdag, 15 Maart 2014 pretlope oor 6, 12 en 18 km aanbied onder die naam Eendracht Hotel Velddraf met Woorde: “Ek skop stof op in my taal” as deel van die jaarlikse US Woordfees.  Dit is reeds die vierde jaar wat dié baie populêre velddraf aangebied word en deelnemers se terugvoer was baie positief: die mooi roete, die goeie organisasie en die vrolike samesyn. Hierdie jaar is die Eendracht Hotel, geleë in Dorpstraat, Stellenbosch, die hoofborg.

Hier is jy meer as net 'n nommer. Deelnemers draf met 'n unieke Afrikaanse woord as registrasienommer. Die Eendracht Hotel Velddraf met Woorde, in samewerking met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), spits hom daarop toe om mense opnuut bewus te maak van die tongtrippel terme en wonderlike woorde wat Afrikaans so bekkig maak.
Deelnemers kan vanjaar as deel van die WAT se borg-’n-woord-projek self ’n woord kies en borg teen R100.

Is jy “mampoer” of “maaifoedie”, “agteros” of “spoedvraat”? Oud en jonk; lank en slank; rond en gesond, moeder met stootwaentjie, kinders en honde – iedereen is welkom om vir die Velddraf met Woorde in te skryf.

Kies tussen drie roetes: Daar is 'n 6 kilometer japtrap, 'n 12 kilometer vastrap en 'n 18 kilometer sweet-tap. Deelnemers kan draf, stap of selfs die roete gemaklik wandel. Al die roetes kronkel deur die pragtige natuurskoon en wingerde van Uitkyk Wynlandgoed.

Deelnemers kan vermaak en pryse verwag.  Luna Paige en Gerald Clarke tree ná die velddraf op en ’n prysuitdeling en gelukkige trekking volg. Elke deelnemer kry boonop ’n geskenksakkie, waarin ’n bottel Uitkyk-wyn en ’n spekboom as medalje (deel van ons Renosterveld-bewaringsprogram) is.  Daar sal ’n verskeidenheid van kosstalletjies wees en piekniekmandjies word te koop aangebied.  Bring jou familie en vriende en kom ontspan onder Uitkyk se bome.

Datum
Saterdag, 15 Maart 2014

Tyd
Pretlope begin 8:00 maar jy  kan vanaf 06:30 begin registreer indien jy dit op die dag wil doen.
Prysuitdeling en gelukkige trekkings vanaf 11:00

Pretlope
6 km JAPTRAP / 09:00 / AANLYN R90 / LAAT R110
12 km VASTRAP / 08:30 / AANLYN R110 / LAAT R130
18 km SWEETTAP / 08:00 / AANLYN R130 / LAAT R150

Laatinskrywings
Vanaf 06:30 by Uitkyk en sal R20 meer wees.

Plek
Uitkyk Wynlandgoed langs die R44 tussen Stellenbosch en Klapmuts

Skryf nou in op www.velddraf.co.za

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top