SêNet-briewe | Letters

 
Gids vir benoude eerstejaars

Ek is ’n senior student verbonde aan ’n baie bekende Afrikaanse tersiêre instelling en ek loop al baie jare op hierdie mooi kampus en sien soveel nuwe eerstejaarstudente wat in intense nood verkeer.

Ek sien hoe hulle rondtrippel, bloedsweet wat hulle afdrup, ogies wydgesper met blosende bekommernis.  Ek ervaar dat hulle vrede begeer.  Ek sien hoe hulle stilte soek.  Ek hoor hulle knor en ek weet.  Ek weet dat die arme eerstejaars daai gevoel gekry het.

Almal ken daai gevoel.

Daai gevoel wat soos Lucifer homself in jou maag begin bulder en begin nes skop soos ’n weerlose tarentaal.

Daai gevoel wat jou oë so laat rek soos ’n myner op hitte.

Daai gevoel waar ’n skilpadkop soos ’n periskoop by jou boudwange begin uitloer.

Daai gevoel wat jou asem wegslaan en jou noop om verwilderd in alle rigtings jou oë te laat soek na ’n doellyn om jou drie te druk.

Soos ’n wafferse senter sal jy systap, knyp en nael om in vrede te gaan sit om jou drie te druk, te poef, te skyt, te kak in algemene studentetaal.

Enige flippen plek maar daai drie, daai massiewe brannewyn-en-garage-pie-stoelgang wat in jou lende broei, hy moet uit.

Almal van ons het al op kampus ons tyd verwyl in ’n kakhuis maar kom ons wees eerlik, dit is eintlik ’n onderwerp  wat ons nie eintlik rondom braaivleisvure bespreek nie.

Tog is dit van kardinale belang om hierdie kwessies te bespreek want ’n goeie kak na ’n nag van banale gesuip is gesond, aangenaam en verrykend.

Daar is geen debatte en redenasies om die beste troon op kampus te vind nie.  Daar is geen tersiêre programme om die gereelde poefer krities te laat dink oor sy verligte sitplek nie en dit is juis daarom dat ek as senior student dit op my geneem het om die kampus se koelste kakplek te soek.  Ek het die tyd afgeknyp om die gemaklikste kakhuis te gaan soek sodat elke eerstejaarstudent se ervaring, spesiaal, vol verligting en verlossend sal wees.

Kaktyd is spesiaal.  Kaktyd is jou tyd.  Kaktyd is my tyd. Kaktyd is hersientyd, bidtyd, mediteertyd, leestyd en sosiale-media-tyd.

My een vriend gebruik immers sy kaktyd om op te vang met sy daaglikse sosiale media-verslawing.

#Twitterfromtheshitter noem hy dit.

My soeke na die Mekka van kampuskakhuise het sekere kriteria waaraan voldoen moet word so ek het gaan kyk na gemak, ligging, klankdigtheid, vrede, sosiale vaardighede van jou buurkakker, Wifi-opvangs (vir my iPad), armrekwydte na die boudservette (as poefconnoseur kan ek nie na toiletpapier verwys nie. Dit is ’n kak naam), beskikbaarheid van boudservette en algemene verligtingservaring.

Alhoewel die Wifi-opvangs naby die kafeteriastalle baie goed is, moet ek bieg dat dit vir my goor is om daar ’n dubbelperiode Romeinse Reg op daardie trone deur te bring. Die enigste stal in die badkamer wat wel die moeite werd is om ’n duikboot te laat sink is die paraplegiese stal, maar die spanning dat ’n benoude, half beskyte man in ’n rolstoel daar gaan injaag is net hopeloos te veel vir my medikasie en ek knyp dan die duikboot in die middel af van spanning  en moet dan gaan oorbegin op ’n ander plek.

Een van my koshuispelle is ook al daar ontbreek deur ’n desperate lid wat effies gesoek het en hy moes waarlik knyp en wurg om die effies oor Jerigo se mure te lanseer. Ek sal dus nie hierdie badkamers aanbeveel nie.

Die registrasielokaal se badkamers is cool en die stilte is oorweldigend. Die badkamers op die eerste vloer stink egter altyd na urine en daar is iemand in daai gebou wat briekmerke los soos ’n Brakpanse lykwa.  Dit is ook onaangenaam om in jou Romeinse Reg-proffie vas te loop waar hy desperaat nael en systap op pad na sy oorstootdrie.

Teologie se kakhuise is een van my gunstelinge omdat daar sulke lekker dramatiese orrelmusiek in die gange speel terwyl ek skyt en dit maak die verlossingsgevoel net soveel meer intens.  Daar is egter nie baie studente wat daar rondloop nie, so ek  voel ek bietjie soos die verlore seun wanneer ek daar instap met ’n Coke, twee pies, twee koerante (Beeld en City Press), iPad en nat handdoekie (om die sweet af te vee) om die ark te gaan bêre.

Dit het ook al gebeur dat ’n harde stoelgang verwarring veroorsaak het in die departement en sommige geleerdes vermoed het dat my gekreun ’n profetiese teken van demoniese besetting kan wees.

Die veroordelende kyke van die personeel bederf dus ’n verlossende stoelgang en Teologie word dus nie aanbeveel nie.

My wenner as beste poefplek is dus by die Sportstadion.  Die Wifi-opvangs is uitstekend en ek het al menige Playboy op my iPad daar deurgelees. Daar is altyd genoegsame boudservette en my tenniselmboog het nog nooit gepla wanneer ek rek vir nog ’n stukkie nie.  Dit is naby aan ’n kiosk en my kos word nie koud op pad troon toe nie. Die stalle is lekker groot en dit is relatief klankdig, of so hoop ek. Die trone se spoelvaardighede is noemenswaardig en ek het al gesien hoe een ’n duikboot so groot soos ’n Mazda 616 daar na sy dood stuur. 

En die bure is sosiaal. Lekker sosiaal. Ek het nou die dag lekker met die twee drukkers langs my gechat en vir hulle erotiese gedigte uit Playboy uit voorgelees.  Drukker links kom van Sannieshof af en hy ken net veldties. Die stad is vir hom die beste plek ooit. Drukker regs was mal oor die erotiese literatuur en as ek reg afgelei het deur sy vreesaanjaende gegrom dan swot hy om ’n veearts te word. Hy “smaak” pille en hondjies reken die man. Werklik, werklik ’n oase vir die gegrom in die maag.

So eerstejaars. Moenie vrees nie. Daar is hoop en daardie hoop is by die sportveld. Volgende keer as die knieë mank begin trap. Volgende keer as die maag sy demoniese klanke uit die keel uit trek. Volgende keer wanneer die sweet perkolerend van jou wange begin afvloei, nael, haas, snel, hol so vinnige soos jou hol jou toelaat na jou Nirvana van verligting en wanneer jy jou sit gekry het, lees jou Facebook en skreeu hoezit brah, want ek is langs jou.


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address