Die waarheid omtrent gelowiges
Heil die leser.
Die werf word nou reeds vir jare lank deur 'n bose bende getreiter - die welberugte en sogenaamde "ware gelowiges". Almal weet ook hoe hierdie "ware gelowiges" met hul kamtig "spirituele intelligensie" en "gawe om te onderskei", gedurig ander wat hulle nie eer nie lastig val en probeer neerhaal.
Hierdie kwasi en vol eiewaan "ware gelowiges", asook diegene wat hulle aanmoedig, is egter weerlose, sielsieke, beangste twyfelaars en onderdrukkers wat hulself probeer verhef waar 'n ander se hart buite hul mag en beheer val.
Daarenteen word gelowiges in alle Godsdiens op aarde aan hulle innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid, nederige afhanklikheid en gehoorsaamheid aan God geken.
Soos daar geskrywe staan: Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond ... enjulle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. (uit Kolossense 3).
Ons kom en gaan almal in dieselfde liefde en genade van ons Almagtige Lewende Skepper - gelowige, anders gelowige, ongelowige en "ware gelowige" ...
Derhalwe is ons almal by verskillende mylpale in die lewe.
Nes Oscar en Reeva, haal ons almal ook die een of ander tyd ons verskillende eindstrepe.
En ja, 'n perd met VIER bene struikel ook.
Soos daar geskrywe staan: Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy 'n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou (Jakobus 3:2) ... wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword (Jakobus 2:10). Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi (Johannes 8:7).
Ons Skepper is die Goeie Herder. God is alles en in almal. Niemand kan ons Skepper volkome begryp, behalwe ons Skepper self nie. God bewerk geloof in ons harte - dit het niks met die intellek of intelligensie te make nie - geloof in ons Skepper is genade uit die hand van God self; wie kan dan op hul geloof as iets waartoe hulself in staat is roem?
Ja, en so word ons almal se Almagtige Lewende Skepper in alle Godsdiens op aarde aanbid; as die enigste weg en die waarheid en die lewe ... niemand kom na God, behalwe deur God self nie (lees ook in Johannes 14:6).
Soos daar geskrywe staan: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; (uit Matteus 11)... Ek is die Goeie Herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape... My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. (uit Johannes 10)
Mag Jesus Christus ons SKEPPER, onse Goeie Herder, ons almal vergewe en self geloof in ons harte bewerk.
Mag Jesus Christus ons GOD se liefde en genade in ons harte heers.
Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,
Cornelius Henn