SêNet-briewe | Letters

 
Die hart van 'n taal

Beste Johannes Comestor en Jan Rap,

Baie dankie vir jul leersame en insiggewende antwoorde op my vrae dusver.

Johannes, in aansluiting by jou standpunt deel ek hierdie verslag op die werf oor die simposium "Kaaps in fokus" wat by die UWK gedurende Julie 2012 gehou is.

Gun my asseblief die geleentheid om weer so met 'n Kaapse draai by my volgende vrae te kom.

Ek haal spesiaal die volgende insiggewende deel uit Gunther Pakendorf se verslag aan: Hendricks wys op die ontstaan van Kaaps as ’n produk van verskeie historiese gegewens, waarvan die invloed eers van die VOC en later die Britse bewind die mees opvallende is. Die Kaap was vroeg al ’n smeltkroes waar ’n “superdiversiteit” as gevolg van ’n konstante migrasie tussen verskillende wêrelddele en kulture ’n vroeë vorm van globalisering in ’t kleine teweeg gebring het. ’n Kenmerk van Kaaps is sy dinamiese aard om woorde en vorme uit enige bron op te neem en te gebruik. Hier is eers die Islam en later Engels van groot betekenis. Ook Hendricks se pleidooi vir verdere navorsing oor taalvariëteite en sy beroep op die onderwys om tot die destigmatisering van hierdie vorme by te dra, is deur baie ander sprekers herhaal. Hy voel veral sterk oor die gelyke behandeling van al Afrikaans se variëteite.

Die Voortrekkers se geskiedenis, die tot stand kom van die Boere Republieke en die Vryheidsoorloë staan dus duidelik en onteenseglik los van die ontwikkeling van Kaaps. Oor geslagte heen reeds het die Kolonie se kultuurpolitieke aspirasies direk teenoor die Afrikaners, Noord van die Vaal gestaan. Eers met die Nasionalisering van ons land is daar gronde vir Standaardafrikaans gevind. Die Kaapses wil egter steeds  hulself by so 'n standaard insluit. Vandag , alhoewel ek van mening is dat nasionalisering en Standaardafrikaans bloot 'n klug is om ons Voortrekkererfenis te begrawe.

Beide taal en kultuur, kan onafhanklik bestaan. 'n Voorbeeld van 'n onafhanklike taal is Latyn. Die Jode is natuurlik weer 'n goeie voorbeeld van kultuur wat onafhanklik van 'n taal bestaan.

Misverstand in die betekenis van woorde en taal veroorsaak wel konflik, maar is selde die direkte oorsaak van 'n oorlog (die werf se omstrede dweper Kobus de Klerk, is juis so berug vir sy onthutste taal gebruik). Geen oorlog is al na my wete oor taal gestry nie. Daarteen is menige oorlog die gevolg van strydende kulture geveg.

Dit bring my ietwat nader aan my punt.

Daar is sekerlik nog naïwelinge wat dink die taal wat hulle hier in Afrika praat kan hulle red. Die laaste woorde van die Ingelse meisie toe donker Afrika op haar toegesak het: "I am English, I am English" klink steeds hulpeloos iewers uit Soweto se stof op. Die hartseer waarneming hier is eenvoudig; net swartes kan Afrikane wees - wittes is uitbuiters, ongeag hul taal.

Maar sou dit so wees as Standaardafrikaans steeds ekonomiese mag en betekenis kon het? Golf, rugby, krieket, tennis ... is alles vol geld. Maar wat van jukskei, volkspele of boeremusiek? Wie is ons Afrikaners se vriende in die wêreld vandag? Is die hart van 'n taal, regtig net kille goud? Wat is taal uiteindelik meer as net oorlewing? Waarom RSG verkwalik vir hul handhawing van Kaaps in terme van rand en sent?

Boeregroete,

Cornelius Henn


Comments 5 Reaksies | 5 Comments
Delete Comment
avatar
Johannes Comestor
2013-02-12 @21:37

Beste Cornelius

Ja, Kaaps is dinamies in die sin dat woorde uit baie oorde verwelkom word. Nico Koopman het al tot lof van etniese hibriditeit geskryf en ook ’n hibriede taal soos Kaaps geloof. Varieteite van Afrikaans bestaan, maar gelyke behandeling is problematies. Om Afrikaans te laat oorleef, moet Standaardafrikaans sover moontlik in die massamedia (pers, radio, televisie) en as skryftaal (maar nie noodwendig deur almal as alledaagse spreektaal nie) gebruik word. Die gevaar is natuurlik dat die erkende of standaardskryftaal mettertyd die voorbeeld van die spreektaal volg, daarom moet soveel moontlik van die sprekers verkieslik Afrkaans so suiwer moontlik praat. As Afrikaans te geredelik in variante verdeel word, verswak dit sy kanse op oorlewing. In die politiek word van verdeel en heers gepraat. Hier gebeur dieselfde: Afrikaans word verdeel en mettertyd heers Engels. In die nuwe Suid-Afrika is dit wesenlik ’n politieke spel wat ten koste van Afrikaans gespeel word.

Suid-Afrika en Afrikaans se geskiedenis het in die Kaap begin, maar ek sou kwalik beweer dat suidelike Afrikaans los van noordelike Afrikaans staan. Mense het uit die suide noord getrek en ook andersom. Later het verbeterde kommunikasie en die massamedia taalverskille progressief verminder.

"Nasionalisering" verwys seker na Afrikaner-nasionalisme. Myns insiens is nog hierdie nasionalisme nog Standaardafrikaans ’n klug. Albei is werklikhede en daar is ’n verband tussen hulle. Byvoorbeeld, albei was in die vorige eeu meer prominent as tans.

Dit is moeilik om taal en kultuur te skei, want hulle beïnvloed mekaar. In Israel word Hebreeus deur die Jode gesteun en uitgebou juis om hulle te help om hulle kultuur te behou. As taal nie ’n bron van oorlog is nie, is dit sekerlik iets wat voorheen baie onmin veroorsaak het en voortgaan om dit te doen. 

Johannes Comestor   

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2013-02-13 @00:39
Cornelius
Ek het vinnig deur die stuk gelees waartoe jy die skakel gegee het en ek moet sê dis vir my baie vaag.  Ek kan nie uitvind wat die eintlike pyn is of waarheen die sprekers op pad wil wees nie.  Dis nou bietjie laat om jou volledig te antwoord maar ek doen dit môre of so DV.
Wat jou rand-en-sent-storie ten opsigte van RSG betref wil ek solank die volgende vir jou sê:  Mens werk vir geld om vir jou lewensgehalte te koop.  Sodra jy lewensgehalte inboet vir geld is span jy die kar voor die perde en jou taal - deel van jou geestesgoed, jou identiteit, jou kultuur - is deel van jou lewensgehalte.  Dertig sikkels silwer is nie die moord op jou taal werd nie.
Groetnis
Delete Comment
avatar
Cornelius Henn
2013-02-13 @10:51
Johannes,  

Dankie weereens vir jou insiggewende antwoord.  

Ek ag Standaardafrikaans vir die feit dat dit in ieder geval merendeels na die Boere se standaard toe neig.  

Johannes, dis waar soos jy dit stel: "Dit is moeilik om taal en kultuur te skei, want hulle beïnvloed mekaar".  

Presies.  

Die kultuurerfenis Noord in ons land verskil volstrek van die kultuurerfenis Suid in ons land - daarmee saam neem ek die taal.  

Daarom was die nasionalisering daarvan ook bloot net 'n foefie om die "stille meerderheid" in verkiesings aan die neus mee te lei.  

My verwysing na nasionalisering bedoel die Ingelse lakeie; die Nasionale Party of te wel "The National Party". Hul nasionalisering had die wittes ten doel - die Ingelse en die Afrikaners in een bondel gejaag met die sogenaamde "swart gevaar". Die enigste mate van Afrikaner nasionalisme waarvan ek persoonlik bewus is, was maar Oom Jaap Marias se HNP. Oom Jaap het met sy "swart gevaar" darem oor die Ingelse ook gewaarsku, maar kon self ook nie juis verantwoord vir die wit Kaapses nie.  

Intussen is ons land se goud veilig in die Ingelse kluise gesluit en wit nasionalisering uitgedien. In skande het die wit nasionaliste die stokkie in die swart nasionaliste se hand afgelos. Vandag is dit die African NATIONAL Congress, of te wel die ANC se taak om die swartes se taal en kultuur onder een vaandel te nasionaliseer.

Oom Bob oorkant die Limpopo en sy Uhuru voorgangers elders in Afrika, het reeds bewys hoe die "wit gevaar" hul stille meerderheid op 'n knop kan jaag ten spyte van hul wanregering.

'n Gemeenskaplike vyand wat naby aan die "stille meerderheid" se instink lê soos rassisme, werk telkens soos 'n bom. Dis ANC se nood raak al hoe groter. Die "wit gevaar" gaan al wees wat hulle wanregering aan bewind kan hou. Taal, gaan daarmee niks te make het nie.

Die wit nasionalisering onder die vaandel van "The National Party / die Nasionale Party", was 'n klug in die opsig dat die Boere en die Ingelse nog nooit regtig kon meng nie. 

Die hel is egter dat die wit Ingelse uitbuiters hul anderhaat en snobisme as apartheid op die Boere afgesmeer het. Nou sit ons Boere in Afrika ook gebrandmerk as uitbuiters; dit wyl die Ingelse met hul buit veilig oor die see sit en lag - bliksems!  

Johannes, ek hoop jy sien my pyn in die dwang om my kultuurerfenis met die Kapenaars te meng. Dis net so onmoontlik vir my om Kaaps as deel van Standaardafrikaans te ken as wat dit vir Jan Rap is om sy taal met Ingels te meng.  

Ek respekteer Kaaps en hul kultuurerfenis - nes ek die Griekwas, Zoeloes, Xhosas ... of enige ander kultuur in Afrika respekteer.

Ek geniet selfs die Kapenaars se komieklike uitdrukkings.

Hul romanse aan die reuk van bokkoms en hul pret met sand in die naat val my egter verby.

Ek verkies om biltong te kou in die soet reuk van die Bosveld na 'n donderstorm op 'n skoon klip iewers langs 'n kristalhelder stroompie.

Ons sal sekerlik NOOIT dieselfde wees nie.  

Boeregroete,  

Cornelius  
Delete Comment
avatar
Jacobus Faasen
2013-02-13 @12:22

Liewe Neef Cornelius, die enigste standaard wat geld vir enige taal is die interaktiewe kommunikasie. Nog nie een taalkundige het daarin geslaag om "Kaaps" se glibberigheid in 'n definisie vas te vang nie, want net soos Hendrik Bibault se toentertydse skeef en krom Stellenbosse Nederduijtsch kan enige retrogressiewe "wetenskaplikheid" baie maklik verkeerd vertolk word. Ten opsigte van Kobus de Klerk, speel seblief die bal, nie die man nie. Dis die enigste manier om punte te verwerf.

Jacobus Faasen

Delete Comment
avatar
Cornelius Henn
2013-02-13 @14:04
Beste Jacobus,  

Baie dankie vir jou belangstelling.  

Ek het geheel ooreenstemming met jou dat die definisie van Kaaps nog lank 'n uitdaging sal wees.  

Persoonlik ag ek Kaaps as 'n volwaardige taal nes dit vandag is - ook nes Hollands, Vlaams en Standaardafrikaans.

Elk is aan hul eie geografiese gebied en kultuurerfenis gebonde - al kan ons mekaar oral in die wêreld daarin verstaan.  

My punt is egter dat ons kultuurerfenis verskil, selfs ondanks die feit dat ons mekaar in ons eie tale kan verstaan.  

Ek glo dat ons mekaar se kultuurerfenis en die taal daaraan gebonde afsonderlik moet respekteer om dit te kan waardeer.  

Ons is almal kosbare mense in die hand van onse Skepper, maar Griekwa, IsiZulu, Duits, Vlaams, Spaans,... selfs Ingels, is alles tale en kulture in onse lieflike Allah se genade.

Met alle liefde: my geskiedenis is mos nie jou geskiedenis nie...  

Jou veronderstelling omtrent Kobus de Klerk bewys dit ook; anders as in die Ingelse sokker-krieket-golf..., geniet ons Boere dit nogals in onse rugby om die man met die bal en al te vat.  
Boeregroete,  

Cornelius
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address