Afrikanerskap, 'n Voortrekkererfenis - opnuut gegraveer
Beste Johannes Comestor,
Baie dankie vir jou kommentaar onder my vorige hoofde "Afrikanerskap, 'n Voortrekkererfenis".
Ek het grotendeels ooreenstemming met jou. Die enigste uitsondering is jou veronderstelling dat Kaaps as 'n sogenaamde bruin taal sy oorsprong gevind het, of as sulks gebesig word.
President Steyn het geseg: Die taal van die veroweraar in die mond van die verowerde is die taal van slawe.
Die wittes in die Kaap het nes die bruines daar deur al die eeue heen nog ewe gedienstig hul taal met hul Ingelse meesters se taal gemeng. Die wit Afrikaanses in die Kaap het vandag ook nog vrede met hul tweede klas burger bestaan. Voorbeelde hiervan is legio en daarom spaar ek die verveling om dit aan te haal (verskoning ... ek moet darem hul naïewe opgewondenheid oor die Ingelse tannie wat hulle vandag selfs daar regeer, hier noem).
Die Voortrekkers se geskiedenis en trots aan hul taal staan egter in direkte teenstelling met die verowerde Afrikaanses (wit, bruin, swart ...) in die Kaap. Hulle het ook meer van 'n Nederlandse vorm van Afrikaans gepraat as waarmee die Kaapses hulself vandag steeds onderskei. Die wit Afrikaanses in die Kaap het ook net so min met Bloedrivier en die Vryheidsoorloë te make, as wat die Ingelse en die bruines in die Kaap daarmee te doen had. Inteendeel, die Afrikaanse Kaapses (wit, bruin, swart ...) het saam met die Ingelse teen die Afrikaners gestry.
Die Voortrekkers het wel later as die Boervolk bekend geraak. Die Boere het ook spesifiek hul aansien in die wêreld verwerf met hul dapperheid in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë teen die Ingelse. Later het die Boere ook as Afrikaners bekend geraak vanweë hul duidelike onderskeid in trots en die gevorderdheid van hul taal.
Belangrikste vir my is die betekenis van ons Voortrekkermonument in onderskeid met die Taalmonument. Ek twyfel of ons Voortrekkervoorouers enige erg aan die Taalmonument in die Kaap so hê.
Dit in kort die verskil tussen die Kaapses (wit, bruin, swart ...) en die Afrikaners (wit, bruin, swart ...) na my wete.
Ek wonder egter steeds waar die term "Standaardafrikaans" vandaan sou kom? Aan wie se geskiedenis moet ons dit waardeer? Is die aanspraak van "Standaardafrikaans" op 'n nasionale grondslag nie maar net die gevolg van die Nasionale Party se diens destyds aan Anglo en Amerika nie? Is "Standaardafrikaans" nie bloot 'n uiters bruikbare instrument in die hand van die Boere se vyande om die Boere/Afrikaners se Voortrekkererfenis te onderdruk nie? As daar dan wel so 'n nasionale standaard aan Afrikaans moet wees, wie is sy pa; die lank reeds onderdanige Kaapses, of die Boere in hul strewe na selfrespek en onafhanklikheid? Wat het 'n Woordfees in Stellenbosch byvoorbeeld te make met 'n Voortrekker of Afrikanerfees, Noord van die Vaalrivier?
Johannes, ek sien uit na jou of enige ander wat weet se antwoorde hierop.
Boeregroete,
Cornelius