Oor Fifty Shades of Grey, die film

  • 0

  In hierdie opstel sal ek my hoofsaaklik bepaal by die filmweergawe van die roman Fifty Shades of Grey en nie soseer die boek waarop dit gebaseer is en die trilogie waarvan die boek deel is nie.

 

My betoog sal kortliks oor die volgende sake handel:

– die bose as die pervertering van die goeie
– aanneming as ’n spesifieke vorm van die goeie
– die kontrak in die liberale tradisie en die eietydse kapitalisme
– die interteks van Skoonlief en die Ondier, in Engels bekend as Beauty and the Beast, en die vraag waaraan die gewildheid van die boek en die film toegeskryf kan word.

1. Die bose as die pervertering van die goeie
In die oorgang vanaf die Grieks-Romeinse na die Christelike era het die vroeë Christelike denkers geworstel met die vraag wat die bose is en hoe dit verklaar moet word. Die rede hiervoor was dat indien God die almagtige, goeie skepper van alles is, dit wil voorkom asof ons een van twee moontlikhede moet oorweeg: óf God het die bose ook geskep, in welke geval Hy nie volledig goed is nie; óf God het nie die bose geskep nie, in welke geval Hy nie almagtig is nie.

Die vroeë Christelike denkers was sterk beïnvloed deur die denke van Plato en Aristoteles, waarvolgens elke bestaande ding of synde ’n voorafgegewe einddoel het. Die einddoel van die saad van die akkerboom is om ’n volgroeide akkerboom te word, soos die einddoel van die baba is om ’n volwassene te word. Die vroeë Christelike denkers het hierdie idee oorgeneem en aangevoer dat die einddoel van elke synde Godgegewe is, en dat die einddoel van alles is om te mik op die bron van die goeie, naamlik God. En belangrik, enige vorm van die goeie, of enigiets wat ons dink goed is sonder dat dit werklik goed is, is ten diepste ’n verlange na God as die bron van die goeie. Die erotiese verhouding tussen twee geliefdes is beskou as ’n analogie van die verhouding van wedersydse verlange tussen Skepper en skepsel, terwyl seks as voortplanting en die gepaardgaande genot by hierdie skeppingsdaad beskou is as ’n analogie van wat God die Vader beleef het deur eers die Seun en die Heilige Gees en daarna die skepping voort te bring. Kortom, vir twee mense om gemeenskap te hê, is om iets goddeliks te doen wat die beste in die twee mense na vore bring, waarin hulle saam deel word van iets groters as hulleself, en waarvan kinders die belangrikste dog nie die enigste teken nie, is – twee geliefdes kan ook iets goddeliks beleef bloot deur hoe hulle liefde mekaar en die mense om hulle tot die beste besiel.

Teen hierdie agtergrond is geredeneer dat die bose geen selfstandige krag of synde is nie, maar dat dit altyd die verdraaiing of pervertering van die goeie is wat in laaste instansie voortspruit daaruit dat van God weggedraai word. Volgens Thomas Aquinas sou dit wees wanneer ’n aspek van die skepping belangriker as die Skepper geag word. St Dionisius die Areopagiet, ’n denker uit die laat 5de en vroeë 6de eeu, skryf soos volg oor die bose: “[E]vil things are not totally evil in every respect. The evil in demons lies in opposing a mind shaped by goodness, the evil in the soul lies in the activity contrary to reason, and the evil in the body lies in the renunciation of what is natural” (The Divine Names, 733A).

Teen hierdie agtergrond beskou, is Christian Grey deur omstandighede van kindsbeen af van die goeie weggedraai, spesifiek in sy liggaamlikheid. Soos uitgebeeld in die film, is hy die mishandelde biologiese kind van ’n dwelmverslaafde prostituut wat sterf wanneer hy vier jaar oud is, en beleef hy sy seksuele ontwaking wanneer ’n volwasse vriendin van sy aanneemma, “Mrs Robinson”, hom tot ’n verhouding van oorheersing en onderdanigheid verlei. In dié verdraaiing van die normale seksuele verhouding vind die ernstig ontwrigte Christian, wat nooit normale gevoelens van beheer oor sy lewe en sy liggaam as jong kind geken het nie, geborgenheid. Dat dié geborgenheid nie werklik gesond en sterk genoeg was om hom tot ware selfstandigheid te lei nie, blyk uit die feit dat hy seksueel oorbeweeg vanaf ’n onderdaan na ’n oorheerser, sowel in sy beroepslewe as in sy seksuele lewe. In plaas daarvan dat hy in staat is tot die weerloosheid wat erotiese liefde by twee geliefdes meebring, hou hy sowel in sy seksuele lewe as in sy beroepslewe ’n kille afstand van ander waarin geen weerloosheid moontlik is nie. Met ander woorde, omdat hy nooit selfstandig geword het nie, kan hy nie weerloosheid hanteer nie, en streef hy gevolglik absolute beheer na.

Johann Rossouw

2. Aanneming as spesifieke vorm van die goeie
Een van die spesifieke vorme van die goeie wat die Christelike tradisie van baie vroeg af baie hoog skat, is dié van aanneming. Hiervolgens word bloedbande en biologie as basis van gemeenskap met aanneming vervang. Volgens dié argument kan die mens wat God se geskenk aanneem, op sy of haar beurt ook ander mense as familie in Christus aanneem. Op dieselfde trant skryf die ateïstiese Franse filosoof Bernard Stiegler, wat sterk deur die Christelike tradisie beïnvloed is, dat vir ’n vader se kinders om werklik sy kinders te wees, hy hulle moet aanneem.

Sowel Christian Grey as Anastasia Steele het aanneemfamilie. In Grey se geval is dit albei ouers, en is sy broer en suster ook aangenome; in Anastasia se geval maak haar stiefpa uit haar ma se tweede huwelik haar groot en beskou sy hom as haar eintlike pa – sy dra ook sy van.

Teen die agtergrond van wat hier bo oor die goeie en die bose gesê is, kan hier gesê word dat sowel Christian as Anastasia, in soverre hulle die persoonlike verlies van een of meer ouer te bowe kom, dit juis regkry weens die liefde wat hulle van een of meer aanneemouer ontvang.

Maar dit is nie die enigste opsig waarin die tema van aanneming ’n rol in die film speel nie. Nee, waar dit eintlik die sentrale tema van die film word, is in die uitdaging wat Christian en Anastasia se liefde vir mekaar stel om mekaar as’t ware aan te neem en te aanvaar. Hierdie uitdaging kan so verwoord word: Christian moet daarin slaag om sy verslawing aan verdraaide seks te laat vaar ten gunste van ’n normale monogame verhouding met Anastasia, terwyl Anastasia op een of ander manier vrede moet maak met Christian se verdraaide fantasie ten einde by hom te kan wees. Nie een van die twee kan die ander een sonder meer aanneem nie, en dus moet daar een of ander verandering by hulle plaasvind. Die kruks van die saak is wat hierdie verandering moet behels: Moet Christian sy fantasie laat vaar, en kán hy dit trouens doen? Of moet Anastasia as deel van haar liefde vir Christian aanvaar dat sy haarself teen haar grein in aan sy fantasie moet onderwerp?

As ’n mens in gedagte hou dat die epiloog van die derde boek in die trilogie beskryf hoe Christian vir Anastasia, wat as sy eggenote met hulle tweede kind swanger is, met ’n karwats streel, dan is die suggestie dat iets van albei gebeur het. Christian gee sy sug na beheer gedeeltelik ten gunste van ’n normale huwelik prys, terwyl Anastasia gedeeltelik deelneem aan sy gewelddadige fantasie, swanger lyf en al. Uit die oogpunt van die vroeë Christelike denkers moet ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat die goeie hier die bose slegs gedeeltelik, maar nog nie volledig nie, genees het.

3. Die kontrak in die liberale tradisie en die eietydse kapitalisme
Een van die vaders van die liberale tradisie, Thomas Hobbes, skryf in sy beroemde boek van 1651, Leviathan, dat die mens in die sogenaamde natuurstaat vir die mens ’n wolf is. Dit is omdat alle mense volgens Hobbes gelyk is, en ewe veel in staat om dit na te streef wat almal heimlik begeer, naamlik glorie, mag en rykdom. Ten einde te verseker dat ons mekaar nie in die natuurstaat in ’n oorlog van almal teen almal uitwis nie, sluit ons die sogenaamde maatskaplike verdrag of sosiale kontrak, waarvolgens ons ons vryheid gemeenskaplik gedeeltelik opsê ten gunste van die soewerein, wie se eerste en belangrikste taak die handhawing van maatskaplike orde en ons almal se veiligheid is.

Wat ons van Hobbes se denke kan sê, is dat dit nie werklik ruimte maak vir gemeenskap en die instellings van ’n gemeenskap waarin mense tot die goeie opgevoed word nie. In plaas daarvan dat individuele en sosiale menslike verhoudings berus op die wedersydse aanneming en vertroue van mekaar, berus die verhoudings op kontrakte en reëls. Die ekonomiese teenhanger van Hobbes se politieke filosofie is natuurlik die kapitalistiese stelsel. Die stelsel is al deur verskillende fases vanaf Hobbes tot vandag, maar een element wat konstant binne die kapitalisme bly, is die gewig wat aan die kontrak toegeken word. Volgens die kontrak moet gestreef word na die wedersydse erkenning en beskrywing van die belange van die twee partye tot die kontrak, sodat albei voordeel kan trek uit die kontrak. In populêre sielkunde en organisasieteorie staan dit bekend as ’n wen-wen-situasie.

In die film is die kontrak wat Christian aan Anastasia voorlê – en dit nadat hulle tradisionele geslagsgemeenskap het en sy op romantiese wyse haar maagdelikheid verloor – ’n klassieke herhaling van die liberale tradisie se benadering tot menslike verhoudings en die maatskaplike orde. Christian is instinktief bewus daarvan dat sy openbare beeld en sy privaat lewe nie geïntegreerd is nie, en dit is die een rede waarom hy ’n klousule in die kontrak insluit wat bepaal dat sy geen besonderhede oor hul verhouding openbaar mag maak nie. Die ander, en belangriker, rede vir Christian se aandrang op ’n kontrak met Anastasia is dat hy instinktief weet dat hy nie vertroue met haar kan bou op basis van die gemeenskap wat romantiese liefde tussen twee geliefdes bied nie. Nee, getrou aan die donker Hobbesiaanse liberale mensbeeld, wat van meet af die mens se aangebore verlange na gemeenskap ontken, moet die verhouding tussen Christian en Anastasia kontraktueel gereël word. Anders gestel: in ’n normale romantiese verhouding ontstaan mettertyd ’n wedersydse afspraak, ’n soort kontrak, tussen die twee geliefdes oor hoe verskillende aspekte van hulle verhouding georganiseer sal word; in die verdraaiing hiervan, waarvan Christian die versinnebeelding is, kom die kontrak eerste en word vertroue gebou op die eerbiediging van die kontrak. Anastasia se uitstel en bevraagtekening van aspekte van die kontrak, en die verskillende maniere waarop sy Christian spontaan verlei tot weerloosheid en die aflegging van sy sug na beheer, versinnebeeld die romantiese tradisie se oorskryding van strakke kontraktualiteit. Dit nou afgesien van die feit dat die tema van die kontrak in die sadomasochistiese verhouding reeds in 1871 figureer het in die klassieke sadomasochistiese roman van Leopold Von Sacher-Masoch, Venus in pelse.

4. Skoonlief en die Ondier en die gewildheid van Fifty Shades of Grey
Ten slotte: As Anastasia die verteenwoordiger van die tradisie van romantiese liefde is, waarvan die diepste wortels in die Christelike tradisie is, dan sluit sy as karakter aan by Skoonlief in die klassieke romantiese sprokie Skoonlief en die Ondier, waarvan die eerste weergawe in 1756 gepubliseer is deur Jeanne-Marie Leprince de Beaumont. Fifty Shades of Grey bevat opvallende ooreenkomste met Skoonlief en die Ondier, terwyl Skoonlief en die Ondier in sekere opsigte as die argetipe van die sadomasochistiese verhouding en literêre genre gelees kan word.

Dit behels die volgende:

– Die Ondier is skatryk en woon alleen in ’n kasteel, nes die skatryk Christian in sy manjifieke woonstel hoog bo die stad. – Skoonlief leef armoedig en begeer romantiese eenvoud in die vorm van die roos wat sy haar pa vra om vir haar te bring, soos Anastasia ook ’n lewe van romantiese eenvoud lei. – Die Ondier sluit kontrakte met sowel Skoonlief as haar pa, soos Christian ’n kontrak met Anastasia wil sluit. – Die Ondier oorweldig Skoonlief met geskenke en kondig aan dat hy haar onderdaan sal wees en sy sy meesteres, terwyl Christian Anastasia ook met geskenke oorweldig, dog wil hê dat sy die onderdaan en hy die meester moet wees. – Laastensm en miskien die belangrikste: die suiwerheid van Skoonlief se liefde verander die lelike Ondier in ’n pragtige prins, wat eens deur ’n bose fee in ’n ondier getoor is omdat hy haar nie skuiling teen die reën wou gee nie – so hoop Anastasia duidelik om die ondier in Christian in die vorm van sy seksuele verdraaiing, wat soos ’n bose fee deur “Mrs Robinson” aangewakker is, met haar suiwer liefde te besweer sodat sy lank en gelukkig met haar pragtige prins in sy moderne kasteel kan saamleef.

Dit is veral die romantiese idee van ware liefde wat alle verdraaiing en mismaking kan oorkom, sodat die ideaaltipiese sterk dog sensitiewe man na vore kan tree, wat nie net Skoonlief en die Ondier steeds ’n gewilde verhaal maak nie, maar wat ook die reusegewildheid van Fifty Shades of Grey verklaar. Fifty Shades of Grey bied dié ou tema in ’n nuwe gedaante aan en kombineer dit met elemente van die eietydse liberale kapitalisme, soos die mite van die selfgeskepte man wat enigiets kan koop en met kontrakte kan reël.

Op ’n somberder trant moet gevra word of die sukses van Fifty Shades of Grey nie ook sprekend is van hoeveel vroue in ongelukkige verhoudings met beskadigde mans bly hoop dat hulle liefde ’n “ondier” in ’n “prins” moet verander nie? En het die liberale kapitalisme mense se aangebore verlange na gemeenskap al in so ’n mate gefrustreer dat die enigste vorm van gemeenskap wat nog toegelaat word, dié is van die privaat verhouding tussen twee geliefdes en hulle kerngesinnetjie, toegeskulp in ’n bietjie menslike warmte te midde van ’n kille kontraktuele wêreld waar die mens verdraai is tot ’n wolf vir die mens?

Hierdie stuk is voorgedra tydens ’n openbare gesprek oor Fifty Shades of Grey aangebied op 27 Februarie 2015 deur die Departemente Filosofie en Afrikaans-Nederlands, Universiteit van die Vrystaat.

Lees ook Francois Smith se bydrae tydens dieselfde gesprek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top