Ontsnap-plek toe

  • 0

“Waar is jou ontsnap-plek?” vra my man.

“Daar waar die Witkruisarend skadu gooi en Gordonia sonsproete brand. Op die klipkoppie waar jy die toekoms en gister saam kan sien. Daar waar jou siel weet die Here het jou gehoor en vanoggend vroeg sy emmer omgedop. Net daar. Ek sal jou nog gaan wys.”

Danksy ‘n lugredery wat so af-en-toe ‘n vliegtuig Upington toe stuur, klim ons toe ‘n naweek daarheen. Reünie die verskoning, maar die waarheid eerder om vir manlief my grootwordplek te gaan wys. Vir hom is die Kalahari, Karoo en die Kaap een en dieselfde en dit was lankal ryp dat ek die Oranje se water vir hom wys, sultanas gaan eet en duinsand in sy skoene gooi.

“Eerste trots van Upington is die langste aanloopbaan in die suidelike halfrond” vertel ek. Ek speel toeris in my geboortedorp en hou my verbasing terug om te sien hoe pragtig die klein lughawe is.

Pak die huurmotor en dadelik verduidelik ek die pad na die Oranjerivier se waters. Ons gooi ‘n paar klippe in die modderbruin water wat kolk en maal, asof tien jaar nooit verloop het nie. Op hierdie rivier het ons talle sestiende verjaarsdae gevier en na al die jare is ek net te bly Sakkie se Arkie - ‘n riviervlot - is nog steeds die rivierpret. Op hierdie rivier het ek geleer om te klou op ‘n waterpiesang en stywer om daai eersteliefde se lyf vas te hou as die jetski die riviergolwe slaan.

Die donkiebeeld het nog nie ‘n tree versit nie en staan nog op sy plek. Die enigste plek in die land wat so eer aan hierdie dier betoon. Die beeld het my altyd laat dink aan die Bybel, want het Upington tog nie bome wat daarby pas nie - die palmbome vir die blare voor die donkie se voete en die rivier vir ‘n doop.

Die Rooms-Katolieke Kerk se klok slaan nog elke uur en daar is nog steeds nie genoeg parkering in Scottstraat nie, maar die dorp het lewe. Verlig dat die ekonomie groei, nuwe winkels, geboue oorgeverf en die Dros nog net so lekker is. Meneer Dappies verkoop nog al die jare tekkies en rig die eerste-rugbyspan af. Hy vertel my man hoe ernstig die rugby tweestryd op die dorp kan raak. Saterdag se rugby is die kragmeting van die jaar. Interjol. Kom ek vertolk vir die nie-Noord-Kapenaars: ‘Interjol is ‘n sportdag tussen die twee groot hoërskole op die dorp. Vir onbekende redes bepaal die eerste rugbyspan se wen of verloor wie koppe omhoog gaan stap of lang trane huil. Ernstige saak en my man moet weet hy mag net Uppies skree. Vrydagaand se eerste reÜnie-ete is effe teleurstellend, party heg meer waarde as ander aan onthoudae, ander klou verbete aan ou griewe, vriende en ander vertel van rykdom en ou koeie.

Saterdag breek aan. Die dorp is in rep en roer. Interjol is hier. Manlief word eerste netbal toe gesleep, die lekkerste skaapsosatie gekoop en warm koffie gedrink. Daarna ‘n oog gegooi daar by die hokkie en daarna rugby toe by Danie Kuys-stadion. Die paviljoen oranje, rooi en wit versier. Nog min mense, maar die onder-veertiens skop alreeds die gras agter ‘n bal aan uit. Sitplek ingeneem en Uppies hier kom my ondersteuning.

Geselsies van atletiekdae lank vergete toe die eerste span manne (-tjies) opdraf. Van ballonne, motorfietsie en meisies wat dans tot ‘n landslied. Ek beleef elke braaivleisrokie, lied en kleur. Neem alles in, want is Gauteng nie alweer Maandag se wag ver nie? Elke skop, duikslag en fluitjie is ek daar, maar kom wat wou daar verloor arme Uppies tog.

Sondag-oggend kan ek nie meer wag nie. Staan nou op ons moet plaas toe. My hart maak bollemakiesie en wawiele, my man gaan my ontsnap-plek sien. Die sestig kilometer na Noenieput se afdraai kan nie vinnig genoeg verbykom nie. Die koshuisdae se plaasnaweek asemskepgevoel dadelik weer terug – ek sluk elke kilometer af. Ek kan nie vinnig genoeg by Steenkampsput se hek kom nie.

Danksy die eienaar se goedhartigheid, mag ek vir my man na die klipkraal lei, deur die huis en skilpadhok. Die sonbesies sing hard en ons spring van klip tot klip na die wolwehok.
“Hier het my oupa bruin hiënas gevang wat die skape wou vreet,” verduidelik ek vir my man. Klim, klouter en sukkel kom ons tot bo.

“My ontsnap-plek…”

Die witkruisarend-broeipaar, wat my ouers hier gevestig het, gooi hulle skaduwee oor ons koppe. Ek kan nie help nie, die trane rol oor my wange. Hierdie is my grootwordplaas – my ontsnap-plek. Met meerkatte as gaste het ons by daai gronddam gespeel, voëlent gepluk vir Prinses se bek. Miskoeke vir die vuur opgetel en van sterre vertel. Ystervarke onder ons buiteslaapbeddens gehoor en mak diertjies gehad wat elke stadskind net in verbeelding kan ken. Elke mens op hierdie plaas het sy plek in die son gehad, saam baklei teen jakkals en min reën en altyd ons skoene vergeet.

Die laaste stop voor ons terug moet jaag is by oom Chris. ’n Belofte wat ek moes nakom. Hy was al by die negentig jaar en ‘n man wat perd gery het tot nou die dag. In sy kombuis vertel hy van verlore tande en haarsnye voor die kerk. Dit was die laaste kuier in vlees.

Nou kan ek net die volgende neerpen om jul van dié oom te vertel:

’n Legende van die Kalahari.
Die eenvoud van liefde verstaan.
Saam hande gevat en die Here gevra – seën ons tog met ‘n bietjie reën.
Altyd eerste by die kerkgewees.
WP gekyk en met RSG se gepraat.
Elke Saterdag ‘n korte en lange geslinger op die plaaslyn: “Hoe het dit met steenbokkie se atletiek gegaan?”
Ander dae gebel: “Hoeveel reën gemeet? Blitse gesien?”
Nou groet ons oom Chris – gaan teken nou perde in die wolke-hemel en soengroet tannie Anna. Ry die blou-blou fiets of klim op ‘n engelperd, want jy is nou op ‘n ontsnap-plek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top