LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | LitNet Academic

 
“Net domastrant vir spite”: Grepe uit die lewensgeskiedenis van S.V. Petersen

Opsomming 

Die digter S.V. Petersen se lewensgeskiedenis is relatief onbekend. Die studies in literatuurgeskiedenisse is onlangs aangevul met ’n aantal kritiese beskouings en waardebepalings van sy lewe en werk. Die mens Petersen in sy onmiddellike omgewing is steeds net in buitelyne geteken. Hierdie artikel wil ’n paar grepe uit die lewensgeskiedenis van Petersen naspeur en hervertel, verifieer met dokumentêre en ander bewyse en in verband bring met sy skryfwerk. Die aspekte waarop gefokus word, is die problematiek rondom sy herkoms en genealogie, gebeure waarin sy woonhuis ’n leitmotief is en sy briefwisseling met die digter P.J. Philander. Daaruit kom ’n verwikkelde beeld van die digter na vore wat verdere lig op die mens en sy werk werp.

Trefwoorde: S.V. Petersen; lewensgeskiedenis; genealogie; briefwisseling; P.J. Philander; Afrikaanse digkuns



Abstract

“Net domastrant vir spite”: Moments in the life history of S.V. Petersen

Relatively little is known about the life story of the Afrikaans poet S.V. Petersen. The entries in literary histories concentrate on his literary work and contain little information on his life and times. A few recent critical studies supplement these with new perspectives on his writing and provide interesting background material and context. However, the human being Petersen in his immediate surroundings and contact with family and friends is still sketched only in broad outlines.

The aim of this article is to broaden the existing biographical information and scholarship on S.V. Petersen and his writing by recounting a few moments in his life history, verified with archival documents, letters, interviews and other texts and related to his writing. The article starts with a discussion of issues pertaining to life writing. Factual representation and narration of a life history are some of these issues. The accomplished and prolific Afrikaans biographer (the late) J.C. Kannemeyer’s approach to his subject matter and methodology illuminates these issues.

The article proceeds with Petersen’s search for his roots and genealogy. His travels to Sweden, where his ancestors presumably hail from, and his research into archival records are highlighted. This forms the basis for a poem like “Suiderkruis” and other texts which deal with his emotions about his ancestry. Other facts about his family life and history are also recounted.

In the following section the articles deals with Petersen’s struggles with the apartheid authorities to resist eviction from his residence in Rondebosch under the Group Areas Act. Anecdotes about the history of the house, e.g. the origin of the name and how he eventually obtained a permit, are retold. A connection is made with Petersen’s love of the pastoral lyric. The views of other critics on this matter are briefly discussed. The section ends with the story of the tragic events that form the basis for the poem “Na die ongeluk”.

The last section of the article covers the friendship between Petersen and his friend and fellow poet P.J. Philander. Details of their friendship are uncovered in a number of letters that Petersen wrote to Philander in the late 1970s and early 1980s. This correspondence is held at the University of Stellenbosch Archives. The value of these letters lies in the fact that it shows how one individual witnesses a range of personal and public matters of that particular time. As representative of a particular grouping of coloured intelligentsia this is interesting. It gives insight into the way Petersen perceives the social and political events of this era, e.g. the political patronage and victimisation in the Department of Coloured Affairs. It also gives a view on how Petersen assessed his own writing and his views on colleagues and friends. Of particular importance is the glimpse into his personality and his frail mental condition. His love of travelling is related to aspects of his personality. The article expounds on his purported arrogance and insecurity and balances this with the views expressed in eulogies as well as personal interviews with his son, nephew and his long-time friend Richard van der Ross. The balanced portrayal that Van der Ross gives of Petersen is complemented by comparing it with his own experiences as told in his memoirs. Being those of someone who was a contemporary of Petersen’s and from a similar background, these experiences make interesting reading and shed light on Petersen’s.

From this emerges a nuanced portrait of the poet that will be useful in further studies of Petersen, his life and times and his writing.

Key words: S.V. Petersen; life history; genealogy; correspondence; P.J. Philander; Afrikaans poetry



1. Inleiding

Hierdie artikel vloei voort uit ’n vorige bydrae waarin die fokus op S.V. Petersen se minder bekende kortverhale en sketse, wat in die vroeë 1940’s in Die Naweek verskyn het, geval het (Van Wyk 2008). Daarin is aangetoon hoe Petersen se verhale ’n voorstelling gee van die omgewing waarin hy grootgeword het en ’n aantal aspekte aanraak, onder andere die stad-platteland-dualiteit en die verskynsel van “passing”. Een van die gevolgtrekkings was dat Petersen in dié korpus kortverhale en sketse ’n kykie gee in die leefwêreld van die bruin Afrikaanssprekende middel- en werkersklas gedurende die 1940’s – ’n aspek wat nie in die Afrikaanse literatuur aan bod kom nie.

In hierdie artikel wil ek ’n paar grepe uit die lewensgeskiedenis van Petersen naspeur en hervertel, verifieer met dokumentêre en ander getuienis, en skakel met sy skryfwerk om sodoende verdere lig te werp op die mens en sy werk.

’n Belangrike voorbehoud wat De Moor (1990:65) stel, word egter in ag geneem:

De grens tussen leven en werk vloeiend en interpretabel laten. Dat wil zeggen; niet alles wat er in het werk toe doet verbinden met het leven, en evenmin alles wat van betekenis is in het leven door het werk verwoord achten.

Kannemeyer (2007b:78) se beskrywing van sy werkswyse is ook verhelderend:

My doel [...] is om, sonder die bylas van enige fiktiewe besonderhede, sover moontlik ’n beeld van ’n lewe te gee wat op dokumentasie van daardie lewe en derhalwe op ’n hardnekkige speurtog gegrond is [...]. Die taak van die biograaf [...] bring mee dat hy hom moet berus en hom moet skik by die gekompliseerdheid van die lewe waaroor hy dit het.

In sy inleiding tot die biografie van J.M. Coetzee maan Kannemeyer (2012:12) weer teen die gevaar van “biographical fallacies”, die vervorming van die betekenis van die teks deur biografiese projeksies. Hy gaan in op die netelige kwessie van Coetzee se eie kreatiewe herskrywing van sy outobiografie in sy onlangse werke en haal Coetzee goedkeurend aan wat sê: “All autobiography is storytelling, all writing is autobiography” (Kannemeyer 2012:11). In hierdie vertelling van Petersen se lewensgeskiedenis word die Petersen-teks betrek in gevalle waar dit die lewensfeite verder belig en waar die lewensloop die prikkel vir ’n teks was.

Ten spyte van die belangrike werk deur biograwe soos J.C. Kannemeyer, J.C. Steyn, Leon Rousseau en ander is die korpus lewensbeskrywings van skrywersfigure in Afrikaans betreklik klein (Kannemeyer 2007b:82; Pelser 2001).

Die konvensionele biografie behels gewoonlik die beskrywing van ’n lewe, in spreekwoordelike terme, van die wieg tot die graf en kry beslag in ’n narratief van ’n gesentreerde subjek. Laasgenoemde twee kwessies ontlok debat. Moore-Gilbert (2009:2) wys op die problematiese aard van die gesentreerde subjek en daarteenoor die “over-valorisation of fragmented subjectivity” in sommige postkoloniale lewensbeskrywings. Hy argumenteer vir ’n “mixed attitude about the centred Subject” wat reg aan ’n komplekse lewe kan laat geskied (Moore-Gilbert 2009:2).

Die narratiewe strukturering in geskiedskrywing en lewensbeskrywing ontlok ook kritiese vrae. Aan die hand van Richard Ochsberg wys Rassool (2004:43) egter daarop dat die lewe wat beskryf word, dikwels vertelmatig geleef word:

Lives do not simply become narrativised after the fact, once people have lived or experienced their lives [...] [P]eople live out their lives in a storied manner. It is not possible to disentangle lives as lived from telling or performing a story. Individuals live in ways that are deeply embedded in narrative. Individuals conduct their life episodes in patterns similar to the plots of stories. In other words, the “storied life” should become much more of a focus in the ways in which people think about biography.

In die hervertelling van grepe uit Petersen se lewensgeskiedenis word ruimte gelaat om die vele fasette van sy lewe op meerduidige wyses te interpreteer en met inagneming daarvan dat hy self sy lewensgeskiedenis verhaalmatig ingekleur het en in sy tekste ingebed het.

Willemse (2010a) meld dat die buitelyne van Petersen se lewensgeskiedenis algemeen bekend is. Sy opvoedings- en publikasiegeskiedenis is gedokumenteer, maar die intellektuele en sosiale omgewing waarbinne hy optree, is minder bekend. Die simposium oor die lewe en werk van Petersen wat op 5 November 2010 aan die Universiteit van Wes-Kaapland gehou is, het belangrike insigte in Petersen, sy skryfwerk en die sosiale en politieke konteks waarbinne hy as skrywer gedebuteer het, gelewer (Hendricks 2010, Van Zyl 2010 en Willemse 2010b).

Terwyl daar ook enkele kritiese beskouings oor die lewe en persoonlikheid van Petersen bestaan (Sonn 1987, Van der Ross 1987), is besonderhede oor sy lewensgeskiedenis egter minder bekend, ’n leemte wat hierdie artikel gedeeltelik wil aanvul.




Foto 1: S.V. Petersen afgeneem in sy kantoor by die Hoërskool Athlone. Toestemming Sydney T. Petersen



2. Tuis onder die Suiderkruis – oor herkoms en genealogie

Die Landstem berig in 1962 oor die herkoms en genealogie van die Petersens na aanleiding van ’n onderhoud wat met Petersen se pa, Sydney snr. – die tuiemaker van Riversdal – gevoer is. In die berig, met die titel “Ek is Blank – My Pa was ’n Sweed” (Lake 1962), voer Sydney snr. aan dat sy vader ’n Sweed was wat ’n kind by die plaaslike predikantsdogter verwek het. Weens die skande van die gebeure is die seun (Sydney snr.) aan die huishulp gegee, wat hom aangeneem het.

Petersen wou hierdie geskiedenis agterhaal en verifieer. Hy rig verskeie navrae hieroor en tydens ’n verblyf in Uppsala, Swede, in 1961 probeer hy op die spoor van sy voorsate kom. Die antwoorde wat hy vermoedelik op sy navrae kry van onder andere die vikaris van Forshälla, word netjies oorgetik op die briefhoof van die Athlone Hoërskool. Hierdie dokumente bevestig dat Petersen se grootvader ene Christian Harald Kollén was wat tussen 1850 en 1880 na Suid-Afrika geëmigreer het. Kollén is gebore op die eiland Orust buite Bohuslan en word in die registers aangedui as ’n handelaar in Afrika. Uitvoerige gegewens word verder verstrek oor Kollén se voorvaders en sy naaste familie.

Die gemeenskap van Riversdal het ’n sluier oor hierdie geskiedenis getrek en die Petersens se pogings om die identiteit van hul biologiese ma/ouma vas te stel, het voor ’n toe deur gestuit. Petersen se seun vertel dat hulle op ’n besoek aan Riversdal na die bruin nedersetting Melkhoutfontein buite Stilbaai gegaan het omdat die mense daar vermoedelik iets geweet het (S.T. Petersen 2010). Dit het egter geen resultate opgelewer nie.

Die misterie van sy herkoms resoneer in Petersen se skryfwerk. Die openingsgedig in die gelyknamige bundel Suiderkruis (1965) peins hieroor:

Vra nie na my herkoms nie, wie my pa
se vader was en wie sy moeder nie,
dis noord in my, en oos en wes – die drie:
in die voorsaat was ek die Noordeling,
van gedaante een uit die Môre-land.
So is ek in die hierheen ingebring,
die kiem van my wese vergoed geplant
in hierdie suidehoek van Afrika.

Ek was oor baie grense ver van huis,
Göteborg het ek geken, Uppsala ...
In ekwatorlande het ek hoor sing
duister, voorvaderlik ’n melodie;
maar die heimwee het my terug gedwing
eindelik, tuis onder die Suiderkruis.

Dit is opmerklik dat strofe 2 verwys na sy reise na stede in Swede om sy oorsprong te agterhaal. Sy slotsom wat wys op sy geseteldheid in Afrika is insiggewend.

Ook in die ongepubliseerde essay “Agter die grenslyn” verwys hy na sy soektogte en peins oor “hoe dit voel om kleurling, hotnot, baster en anders te wees”. Hy verwys voorts na sy bloedlyn van Sweedse en Franse vaders en maak die gevolgtrekking dat “Natuurlik moes die inboorling êrens langs ’n sypad by my voormense kom kuier het, maar selfs na hom soek ek nou nog” (Petersen 1952).

’n Wroeging met die seermaak, skande en ambivalensie van gemengde afkoms en bloed is terug te vind in die eerste gedigte in die bundel Die kinders van Kain (1960); vergelyk die gedigte “Die merk”, “Die drumpel” en “Mulat”:

Hulle ken hom nie,
die man met wie
hulle in die donker maats is;

as die daglig kom
spreek hulle van hom
asof hy melaats is.

... asof hy melaats is.

Binne die Petersen-familie word algemeen aanvaar dat die matriargale voorsate afstam van Malabar in die Indonesiese eilandgroep. Nieteenstaande die feit dat dié genealogie nog nie nagevors is nie, word dit aangevoer om die vakmanskap, kunstalent en entrepreneurskap in die familie te verklaar (S.T. Petersen 2010).

Die Petersens was vermoënde mense in Riversdal: hulle het verskeie eiendomme in die dorp besit en kon dit bekom deur die tuiemakery van Sydney snr. en die vlytigheid van sy vrou, wat onder andere brood en hout verkoop het (H. Petersen 2010; kyk ook Willemse 2010a vir Petersen se digterlike eerbetoon aan sy ouers).

Petersen het op ’n stadium kunsklasse geneem saam met Peter Clarke en waterverfskilderye gemaak. Die onderskrif by ’n foto in Miles (2000:62) meld dat Petersen, Clarke en ander in 1947 aandklasse in kuns by St. Philip in Woodstock geneem het. Sy broer Henry was meer bekend as skilder en het ’n aantal kunswerke agtergelaat (H. Petersen 2010). Petersen het later bevriend geraak met Francois Krige, broer van Uys Krige, wat in 1983 ’n portretskildery van hom gemaak het.


Foto 2: Skildery van S.V. Petersen deur Francois Krige, 1983. Toestemming Sydney T. Petersen



3. Garcia, Parkstraat Rondebosch

Enkele gebeure rondom Petersen se woonhuis in Rondebosch onthul iets van sy persoonlikheid en politieke houding. In die 1940’s het hy ’n erf geleë te Parkstraat 29, Rondebosch, gekoop en ’n woonhuis opgerig. Ingevolge die Groepsgebiedewet is Rondebosch later tot blanke woongebied verklaar en die Petersen-gesin ontvang op 1 Julie 1966 ’n kennisgewing om die woning te ontruim.

Petersen het die huis vernoem na die Garcia-pas wat sy tuisdorp Riversdal met Ladismith verbind. Die pas is vernoem na Maurice Garcia, ’n Sefardiese Jood van Portugese afkoms wat saam met die 1820 Britse setlaars na Algoabaai gekom het. Hy het opgang gemaak in die koloniale administrasie en was vanaf 1865 tot 1877 burgerlike kommissaris en magistraat van Riversdal. In hierdie tyd speel hy ’n belangrike rol in die bou van die pas wat deur Andrew Geddes Bain uitgelê en in 1875 deur Garcia geopen is.

Petersen was lief om tydens besoeke aan sy ouers op sy tuisdorp ook na die Garcia-pas te gaan en kon ure die stilte en afsondering geniet. Op sy notaboeke en briefhoofde is die adres Garcia, Parkstraat, Rondebosch keurig afgedruk. Dit was sy wens dat sy as in die Garcia-pas gestrooi word.

Sy waardering vir hierdie landskap vind neerslag in die treffende natuurliriek wat deur sy bundels resoneer en veral uitstaan in die gedigte “Aand op Riversdal”, “Aalwyne”, “By Kafferkuilsrivier”, “Jeugland” en “By Seweweekspoort”.

Die hoofkarakter, Frans Hendricks, in Petersen se novelle As die son ondergaan (1946) het ’n soortgelyke waardering vir en hunkering na die landelike omgewing van sy kinderjare:

En dan kom daar skimme uit die verlede, uit sy kindsdae op hom aangesweef: dan soek-soek hy weer na kruiebossies daar hoog teen die hang waar die vlammende aalwees groei. Of hy trippel agter ’n bontvlerk skoenlapper aan. Met die soet geur van die veld om hom heen, en die groen gras, en die blou van lang berg daar gunter. (163)

Gerwel (1985:12) verbind Petersen se voorliefde vir die natuur met ’n versugting na vryheid en wys op ’n ambivalensie in Petersen se natuurliriek: die gedigte verwoord ’n begeerte na rus en kalmte wat in die natuur en gedroomde kinderdae terug te vind is, maar verwoord terselfdertyd ook die idee van gebondenheid wat ’n aanduiding is van die onvryheid wat Petersen ervaar het (kyk ook Van Wyk 2008 vir verdere bespreking van hierdie aspek).

Petersen wou die uitsettingsbevel nie gelate aanvaar nie en het verskeie vertoë gerig totdat ’n verblyfpermit in 1970 toegestaan is. Die huis word steeds deur sy weduwee en seun bewoon.

Die gebeure rondom die huis Garcia kry ’n interessante kinkel wat iets van Petersen se karakter onthul. Terwyl hy skoolhoof van Athlone Hoërskool was, het hy gereeld kennisse en vriende uit die Riversdal-omgewing op die personeel aangestel. Een van hierdie persone was Kallie Michaels van Heidelberg.

Op een betrokke Vrydagaand was Michaels en sy vrou Hannie in Heinz-weg, Landsdowne, onderweg. Sy vrou het die motor bestuur. ’n Bus het die pad gekruis en Michaels is noodlottig beseer. Sy vrou is van strafbare manslag aangekla. Petersen het hom ontferm en vertoë aan die staatsaanklaer, S. Schoeman, gerig en Michaels se vrou is uiteindelik van blaam onthef (S.T. Petersen 2010).

Schoeman is later aangestel as parlementêre advokaat en in hierdie hoedanigheid het hulle paaie weer gekruis. Schoeman was klaarblyklik hoogs beïndruk deur Petersen en toe hy hom nader, het hy sy saak bepleit by die destydse minister van Gemeenskapsbou, adv. Blaar Coetzee, wat die woonpermit goedgekeur het.

Die gebeure laat blyk Petersen se politieke ambivalensie: aan die een kant toon hy ’n beginselvaste verset teen apartheidswette en aan die ander kant gebruik hy die strukture van die apartheidstaat om vir homself ’n beter posisie te verkry. Willemse (2010:13) laat hom as volg uit oor Petersen se beroepskeuses en sy politieke houding: “Dwarsdeur sy lewe het hy vir hom as ’n gesiene skoolhoof in die Departement Kleurlingsake en politiek-behoudende mens ’n gematigde posisie uitgekerf.”

Die lotgevalle van die Michaels-gesin moes Petersen intens geraak het, omdat hy ook vantevore betrokke was by ’n tragiese motorongeluk. Omstreeks die laat 1940’s was hy die bestuurder van ’n motor waarin ’n jong man in ’n tref-en-trap-ongeluk omgekom het. Sy wroeging hieroor resoneer in die gedig “Worsteling” in die bundel Die enkeling (1944). Van die strofes uit die gedig met die ondertitel “Na die ongeluk” lui so:

Jy’s dood ...
Jou lamgeslane vlees en bloed
was magteloos om te verhoed
dat jou ontruste siel ontsnap:
Jy’s dood ...

Jy rus.
maar ek: jou moordenaar ek, wat leef!
hoe kan ek rus? Hoe kan ek streef
die helgedagte te verdryf
tot rus ...?

Doodgestamp ...
Ek het jou doodgestamp, en moes
jou daar sien lê: vermink, verwoes,
verbrysel tot ’n pappery ...

O, God!
’n Brandende dolk het my deurboor,
het my laat kerm, “God. Ek’t gemoor,
ek het gemoor, ek het gemoor ...”



4. Ca-le-dôner, vriend van my: die vriendskap tussen S.V. Petersen en P.J. Philander

In 1957 het die digter Piet Philander die skoolhoof van die Hoërskool Belgravia in Athlone geword. Philander was voorheen verbonde aan die Hoërskool Schoonspruit in Malmesbury en sy familie moes vir eers agterbly terwyl hy die pos in Athlone opgeneem het. Philander het ’n woonerf in Balfourstraat, aangrensend aan Parkstraat, gekoop en terwyl sy huis in aanbou was, het hy ’n tyd lank by Petersen en sy gesin geloseer. Hy moes ’n kamer met Sydney jnr. deel (S.T. Petersen 2010).

Petersen en Philander kon vir ure korswel, grappies uitdeel en die spot dryf met gemeenskaplike vriende. ’n Hegte band het tussen die twee families ontstaan. Die seuns, Sydney jnr., Peter en Dennis Philander, het goeie maats geword. Philander se oudste seun George het aan die Athlone Hoërskool onder Petersen gematrikuleer. In die winterskoolvakansie van 1957 het die twee families saam vakansie gaan hou in Plettenbergbaai by Philander se skoonouers, die Harker-gesin. Bedags het die gesinne verskeie uitstappies na die Tsitsikamma-bos en nabygeleë strande geneem.

Die twee eggenotes, Alice en Mavis, was op ’n tyd kollegas aan die Zonnebloem-kollege. Petersen, Philander en Charles Golding het in hierdie tyd ook die Protea-program op die Afrikaanse diens van die SAUK begin waarin hulle boekbesprekings en kultuurnuus wat op die bruin gemeenskap gerig was, uitgesaai het.

Dit was vir Petersen ’n slag toe Philander besluit om na die VSA te verhuis. Hulle het bly korrespondeer en tydens Petersen se besoek aan die VSA op die Leadership Exchange Programme in 1969 het hy by Philander in New Jersey gekuier.

Petersen se briewe aan Philander gee ’n idee van die aard van hulle vriendskap, die onderwerpe wat hulle aangeraak het en die tydsgees waarin dit geskryf is. Die P.J. Philander-versameling in die Dokumentasie-afdeling van die J.S. Gericke-biblioteek van die Universiteit Stellenbosch bevat ’n tiental briewe, briefkaarte, poskaarte en ander skryfstukke en dek die periode van die laat 1970’s en vroeë 1980’s. Dit is dus geskryf nadat Petersen as skoolhoof van Athlone Hoërskool afgetree het en tydelike aanstellings in die onderwys- en statistiekdepartemente beklee het. Dit gee ’n blik op die goedige gespot en gekorswel, die skryfwerk waarmee Petersen daardie tyd besig was, onder andere die bundels Meditations on the brink (1980) en Laat kom dan die wind (1985), sy oorsese reise en sy brose geestesgesondheid.

Oor die waarde van briefwisseling tussen skrywers sê Kannemeyer (2007c:119):

Veral boeiend is hoe hulle op mekaar se werk en op die politieke en breër kulturele lewe van die tyd reageer [...] [D]eur die brief word gesindhede, verhoudings, voor- en afkeure feller oorgedra as in stukke wat die skrywer self vir publikasie bedoel het. In die brief waak die skrywer nie altyd oor sy woord nie, iets wat ’n sekere loslippigheid ’n kenmerkende eienskap van die brief maak.

Die briewe van Petersen aan Philander is waardevol vir die blik wat dit bied op twee bruin intellektuele en hul besinning oor kwessies van die dag – iets waaroor daar in die (Suid-) Afrikaanse geesteswêreld baie min verslag gedoen is.

Die aanspreektoon van die briefkaart van 5 April 1979 onthul die gemoedelike aard van Petersen en Philander se vriendskap. Petersen open met “Ca-le-dôner vriend van my, moenie vra hoe dit gaan nie, daarom sê ek self dit gaan goed” (Petersen 1979a). Die uitdagende en spottende toon van sy skryfstyl blyk hier.

Op 11 Mei 1979 skryf hy om tien voor ses die oggend:

Piet

Hou jou kopstukke bymekaar of jy word net so losbandig half bedonnerd soos al die Amerikaners, d.w.s. ek kon trane huil van blydskap net omdat ek Alice se eie handskrif in jou brief gesien het. Daa’ie typing van jou beteken bôgeher-ol. Jy brêk net! Blikskottel, ek is nie apie nie, ek leef lekker. Ek skryf nie prosa nie, die prosa skryf my. Dêm goed ook en jy weet dit. Dêm oorspronklik ook, nie daardie grammatikale perfeksie wat eie aan jou styl is nie ... Ek skryf ook nie gedigte nie, my gedigte dig my.

Jy sê ek moet Amerika toe kom? Ek was daar (ek like dit nie) jy is daar, en jy wil daar gaan werk (Petersen 1979b).

Dit is duidelik dat hy Philander terg en hom uitlok. Die kleinerige boskrif by die brief onthul verder; “Hoe lyk jy my style van skryf? Bedonnerd goed nê? Arrogant soos ek altyd was!” Dit lyk asof Petersen dikwels vir Philander wou terg, daarom sy provokerende manier van dinge stel, vergelyk “Jy brêk net” en “nie daai grammatikale perfeksie van jou nie” (Petersen 1979b).

Van der Ross (2003) noem dat Petersen dikwels deur mense wat hom nie goed geken het nie, as arrogant beskryf is. Hy beskou dit egter as bravade waaragter die skugter en onseker Petersen geskuil het. Hy onthou dat hy en Petersen in die laat 1960’s met ’n British Council-beurs ’n studietoer na die Verenigde Koninkryk onderneem het. Waar daar met groepe gepraat moes word, het Petersen gesê dat hy (Van der Ross) dit moet doen omdat “hy nie kon nie, nie dat hy nie intellektueel opgewasse was nie, hy was ’n skeppende mens [...] jy moes hom aanvaar soos hy was” (Van der Ross 2003).

Terwyl Petersen in sy briewe soms ruimhartig in sy lof vir Philander se skryfwerk is – vergelyk byvoorbeeld: “Ek’t die manuskrip van jou nuwe boek gesien. (Dêm goed)” – gaan dit wesenlik oor sy eie skryfwerk en dit op ’n stadium toe hy reeds sy beste werk gelewer het. Hy sê oor Meditations: “[R]eeds is daar opsienbare aandag verkry in Holland en in Duitsland” (Petersen 1979b). Van der Ross (2003) noem ook dat Petersen “’n hoë dunk” van homself en sy eie skryfwerk gehad het. Dit het neerslag gevind in die nougesette aandag wat hy byvoorbeeld aan die setwerk van sy bundels bestee het.

’n Mate van jaloesie is ook nie mis te kyk in die briewe en vriendskap nie. Philander se seun, Peter, onthou byvoorbeeld dat Petersen met die verskyning van Philander se bundel Die bruin kokon “’n bietjie jaloers was en die korter verse gekritiseer het as minderwaardig” (Philander 2010). Sy kwalik bedekte nydigheid blyk uit die volgende aanhaling uit ’n skrywe van 7 Februarie 1980: “Jakes Gerwel is nou Professor-in-die-Bos; Abie Cupido ook; Dick is Professor van die professors-in-die-Bos. Hy moet oppas of hulle benoem hom nog tot profeet” (Petersen 1979b).

Die briewe onthul egter ook sy frustrasie met die stelsel – nie slegs op ’n politieke vlak nie, maar ook persoonlik – vergelyk sy wrewel omdat hy nie genoeg tyd kry om aan sy skryfwerk te skaaf nie:

Mens moes die klaswerk in die klaskamer lankal in sy moer(bei) laat kruip het, dan sou mens beter kon skryf. Maar mens moes leef, en daar was nie erfgeld of swerfgeld om jou staande te hou nie. En boonop was daar nog strontgatte van sogenaamde “Inspekteurs van Onderwys” om jou doen en late gade te slaan. Dit was om te ween ... Nou dien ek weer die Departement van Statistiek ... en Coloured Affairs kan solank gaan strawberries vreet vir my part, en sommer vir jou part ook. (Petersen 1979b)

Petersen se gebruik van kragwoorde in die brief as uiting van frustrasie en ongeduld met sy situasie en met die burokrasie is opvallend. Soos sy tydgenote was Petersen uitgelewer aan die politieke maghebbers en apartheidsburokrate. Petersen se ervaring kan vergelyk word met Van der Ross (2010:32) se belewing van die politieke inmenging in sy eie loopbaan: “This whole episode of my non-appointment to Hewat, and the uncertainty of my appointment to Battswood, both because of ‘political’ overtones, illustrates how the education authorities lived in the shadow of the political policies and bosses.”

Dieselfde skrywe laat blyk ook sy brose geestesgesondheid: “Deur die verwoesting en woesteny van ’n donderse en bedonderende senuwee-instorting is ek Godsgenadiglik nou herstel. Hierdie rondvaart is sielsbevredigend.”

Die laaste van hierdie briewe, op 5 Mei 1980, toon ’n positiewe ingesteldheid, nie net persoonlik nie: “Niks kry my onder nie”, maar ook ten opsigte van die onderwys: “Die standaard van onderwys het aansienlik verhoog in die area waarin ek werk. Daar is geesdrif onder die mense, en ’n positiewe benadering tot die taak van die dag” (Petersen 1980). Hierin maak hy nog planne vir ’n lesingtoer wat hulle deur die VSA kon onderneem: “[D]an travel ek en jy die hele Amerika plat as ’n tweemanskap in belang van die nuutste kulturele taal ter wêreld, nl. Afrikaans.”


Foto 3: S.V. Petersen afgeneem in die studeerkamer van sy huis in die laat vyftigerjare. Toestemming Sydney T. Petersen



5. Slot

Daar bestaan uiteenlopende opvattings oor Petersen: sommige onthou hom as selfingenome en arrogant, terwyl ander sy beskeidenheid en alleenheid in herinnering roep. Sonn (1987) merk byvoorbeeld op: “Hy het my altyd met ’n gevoel van waardering dog onbehaaglikheid agtergelaat; waardering omrede sy opregte belangstelling in sy medemens, onvergenoegdheid want sodra ’n gesprek vlot en net wanneer ’n mens kontak begin maak, hy opstaan en hek toe gaan. Sommer ’net vir spite’. Die skugter, selfbewuste gees word toegevou voordat die waarnemer te veel daarvan agterkom.”

Petersen tipeer homself as volg in die gedig “Portret ’40” in die bundel Nag is verby (1980):

Dwars moet ek wees
om reguit te wees, right?

Slim is ek nie,
net domastrant vir spite!

Wie wil, kan
om den brode skrywe, ek

skryf dalk net
om my ek te ontdek.

Die traan is wel soms
in die lag verskuil

daarom lag ek,
as ek eintlik wil huil.

Petersen se jare lange vriend, Richard van der Ross, gee besondere insig in ’n huldeblyk wat hy by Petersen se begrafnis lewer:

Baie mense sou hom beskuldig dat hy te egoïsties is. Ja, hy was iets van al hierdie, maar nie té nie. As hy kripties was, dan was dit omdat hy reguit was, dikwels kortaf. Sinies? Baie maal omdat hy nie met andere in ’n argument betrokke wou raak nie en met ’n sterk sinisme het hy die ander party laat verstaan dat hy nie hier verder sal kom nie. En as hy verder wou, dan stap S.V. weg. Ingekeer? Ja, wel. Maar ek glo nie dit was die inkeer van ’n selfsugtige egoïs nie. In gesprek het hy dikwels van homself gepraat. (Van der Ross 1987)

Petersen was ’n figuur gevorm deur die tydsgewrig waarin hy geleef het; die intense politieke struwelinge van daardie tyd het sy familie, vriendekring, beroepslewe, gemeenskap en homself nie onaangeraak gelaat nie. Sy brose geestesgesondheid aan die einde van sy lewe was waarskynlik die gevolg daarvan.

Van der Ross (2010:13–4) se belewing van hierdie tyd gee ’n goeie aanduiding van hoe Petersen dit waarskynlik ook ervaar het:

The anger was directed theoretically at government, but in practice against those persons who had accepted membership of the CAC, as they were more readily accessible as targets. They were called all manner of names, such as Quislings, scabs, renegades, lepers and many more. Being young, politically inexperienced and naïve [...] I did not fully grasp the intensity of these criticisms and attacks [...] Indeed, I came to be targetted myself! For I tried to follow a calm, rational, analytical and well-mannered approach to the situation, only to find that the attack would not answer to any of these descriptions.

Petersen het hieraan probeer ontkom deur te reis. Hy was regdeur sy lewe ’n berese man en het verskeie kere met sy gesin in Europa (Nederland, Duitsland en Skandinawië) en die VSA getoer. Hy het egter in sy laaste lewensjare alleen gereis, veral skeepsreise na die Seychelle en die Griekse eilande (Delos, Mykonos en Patmos). Dit is asof hy alleen wou wees. Die gedig “Wegvlug” in ’n ongepubliseerde bundel, En die wind waai voort (1986), verwoord die kwessies waarmee hy gewroeg het en die versugting na alleenheid as ’n uitvlug.

Lekker Boeing
daa’ie 747
wegvlug
van ’n D F Malan

Van ’n ge-jabaas
en ’n ge-neebaas
kommervry
van ’n ge-hierjy!

Vlugpassasier
’n alleenman sit hy
hy wat nou
lugkastele bou

In sy 747
die onderdaan
hy? No fear
lankal nie meer.

Daar’s ’n Eldorado
êrens
in die wêreld
en ’n hemel blou bo!

 

Bibliografie

Gepubliseerde bronne

De Moor, W. 1990. Van de wieg tot het graf tot het werk. Apecten van de literaire biografie. Kampen: Kok Agora

Friedman-Spits, C. 1980. Maurice Garcia – Jewish 1820 Settler. Lantern, Desember, ble. 78–82.

Gerwel, G.J. 1985. Van Petersen tot die hede – ’n kritiese bestekopname. In Smith e.a. (reds.) 1985.

Hendricks, F. 2010. Op die taalspore van S.V. Petersen: ’n Blik op sy verrekening van taaldiversiteit. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 17(2):21–37.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Pretoria, Kaapstad en Johannesburg: Academica.

—. 2007a. “Uit puur verstrooiing”. Lesings, praatjies, artikels, onderhoude en besprekings. Stellenbosch: Inset-uitgewers.

—. 2007b. Biografiese geskiedskrywing, ’n Rekenskap. In Kannemeyer 2007a.

—. 2007c. Die stand van die Afrikaanse edisiewetenskap. In Kannemeyer 2007a.

—. 2012. J.M. Coetzee: ’n Geskryfde lewe. Kaapstad: Jonathan Ball Uitgewers.

Lake, A.S. 1962. Bekende Kleurling-digter se vader sê: “Ek is blank – my pa was ’n Sweed”. Die Landstem, 8 September.

Miles, E. 2000. Triptych for Peter Clarke. In Willemse (red.) 2000.

Moore-Gilbert, B. 2009. Postcolonial life-writing: Culture, politics and self-representation. New York: Routledge.

Pelser, A.C. 2001. Die literêre biografie – ’n terreinverkenning. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Petersen, S.V. 1944. Die enkeling. Port Elizabeth, Kaapstad: Unie-Volkspers Bpk.

—. 1946. As die son ondergaan. Port Elizabeth, Kaapstad: Unie-Volkspers Bpk.

—. 1960. Die kinders van Kain. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Bpk.

—. 1965. Suiderkruis. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.

—. 1980. Nag is verby. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers Bpk.

—. 1986. En die wind waai voort. Ongepubliseerde digbundel.

Rassool, C. S. 2004. The individual, auto/biography and history in South Africa. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland.

Smith, J.F., A. van Gensen en H. Willemse (reds.). 1985. Swart Afrikaanse skrywers: Verslag van ’n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville. Bellville: UWK.

Sonn, F. 1987. S.V., die stem van ’n generasie. Rapport, 8 November, bl. 6.1

Van der Ross, R.E. 1987. Ons groet ’n vrind. Hy’t ’n enkeling gebly. Rapport, 1 November, bl. 1.

Van der Ross, D. 2010. A Blow to the Hoop: The story of my life and times. Newlands: Ampersand Press.

Van Wyk, S. 2008. S.V. Petersen se tydskrifverhale. LitNet Akademies,5(1):43–57.

Van Zyl, W. 2010. S.V. Petersen, ’n pure impure digter of “siende blinde enkeling”. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 17(2):38–51.

Willemse, H. (red.). 2000. More than brothers: Peter Clarke & James Matthews at 70. Kaapstad: Kwela.

Willemse, H. 2010a. S.V. Petersen in dialoog met sy intellektuele en sosiale omgewing. Tydskrif vir Letterkunde,47(2):31–47.

—. 2010b. S.V. Petersen se poësie van verwantskap. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 17(2):3–20.

Argivale bronne (J.S. Gericke biblioteek, Universiteit Stellenbosch)

Petersen, S.V. 1952. Agter die grenslyn. Dok 118. Z. Pr.P. D.J. Opperman-argief.

—. 1979a. Brief aan P.J. Philander, 5 April. Dok 397. K.A. 8.4 Ongepubliseerde dokument, P.J. Philander-versameling.

—. 1979b. Brief aan P.J. Philander, 11 Mei. Dok 397. K.A. 8.3 Ongepubliseerde dokument, P.J. Philander-versameling.

—. 1980. Brief aan P.J. Philander, 5 Mei. Dok 397. K.A. 8.7 Ongepubliseerde
dokument, P.J. Philander-versameling.

Persoonlike onderhoude en e-pos-kommunikasie

Petersen, S.T. 2010. Persoonlike onderhoud, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Mowbray. 15 Oktober.

Petersen, H. 2010. Persoonlike onderhoud, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville. 19 Oktober.

Philander, P. 2010. Persoonlike e-pos, 28 Oktober.

Snyders, P. 2010. Persoonlike e-pos, 29 Oktober.

Van der Ross, R.E. 2003. Persoonlike onderhoud, Constantia, 22 Oktober.



Eindnota

1 Die verwysings van Sonn en Van der Ross verskyn ook in Willemse (2010b).

 







Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address