Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
My geliefde: Liewe Pappa

Liefste Pappa

Mamma het gesê ek moet vir jou skryf “want wie weet wanneer sien ons hom en sy vervlakste rooimiere nou weer”! Net so het sy gesê, terwyl daar groot ronde trane oor haar wange gerol het. Haar stem het nie mooi by haar gesig gepas nie.

Wanneer sien ons jou weer, Pappa? Antie Gertie van oom Bert het gesê ons soldate vrek soos vlieë daar oorkant die see. Ek wil nie hê jy moet soos ’n vlieg vrek nie, Pappa. Daar is nog so baie wat jy my moet leer! Jy moet my leer perdry, en my help met my somme en leer strikke stel vir die pestilensies in Mamma se groentetuin. En jy moet my leer stories opmaak sodat ek dit slaaptyd vir Boeta kan vertel. Mamma is te moeg en in der dagend sat in die aande om simpel stories uit te dink. Net so sê sy.

Die plaas is stil sonder jou, Pappa. Dit voel vir my asof alles asem ophou, soos wanneer mens se kop onder water is. Mamma sê ek moenie laf wees nie. Die koeie moe en die skape blêr en die haan kraai nog soos altyd. Hulle klink net nie vir my dieselfde nie. Is daar ook plaasdiere waar jy nou is, Pappa? Is daar ook so baie sterre in die aande? Ek kies ene uit elke aand, net soos wat jy gesê het ek moet, en as ek my oë styf-styf toeknyp, dan voel ek amper hoe soen jy my op my voorkop nag.

As ek vanaand ’n ster sien wat verskiet, gaan ek wens dat jy volgende week kan terugkom. Ek word elf, en ek wil nie hê jy moet dit mis nie. Mamma gaan koek bak. As jy nie hier is nie, gaan sy weer jou stuk vir die honde voer.

Ek verlang na jou, Pappa. So baie dat dit voel soos die keer toe Boeta my per ongeluk in die maag geskop het, net erger, want die seer wil nie weer weggaan nie. Kom nou maar terug, asseblief Pappa? Mamma sal ook bly wees.

Liefde
Sussa


Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 

 

 
Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Theresa Buscher Potgieter
2012-12-08 @21:59
Baie deernisvolle storie.  Ek hou baie daarvan.  Die verlange van die kind na haar ver pa vang my hart vas.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address  

 

article

Kaalvoet deur die Waterberg

Ilse van Staden

Dit was ’n kaalvoettyd. ’n Tyd van dorings en van slange, die nagadder wat sku in die gras langs ’n plaasdam wag en ’n vuurkooltjie aan my enkel pik dat ek ’n gil gee wat veel erger is as wat my broer ooit uit my kon boelie. ’n Tyd van skurwe hakskene en van modder wat in die tamatielande se nat leivore tussen die tone deurkrul.