MK Awards: die massa het gepraat

  • 0

Die MK Awards is elke jaar ’n belangrike geleentheid op die Suid-Afrikaanse musiekkalender. Anders as met die SAMA’s (die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings) word die wenners van die MK Awards nie deur ’n beoordelingspaneel gekies nie, maar deur die aantal stemme van die publiek. Daarom was dit vir my ’n eer om hierdie jaar na die toekenningseremonie in die Staatsteater in Pretoria genooi te word.

Die aanloop tot die geleentheid is nogal ’n perspartytjie, met fotograwe, joernaliste en ’n hele klomp onderhoude wat oral gedoen word. Met behulp van die borg, Red Heart Rum, kry almal dan ook kans om informeel saam met al die kunstenaars te kuier. Gelukkig maak Red Heart almal lekker vriendelik.

Jack Parow as seremoniemeester

Teen 20:30 was almal in hul sitplekke en seremoniemeester Jack Parow het die verhoog betree. Nie lank nie of Parow lees die teleprompter verkeerd en laat val die f-bom. Die glips kon in ’n katastrofe ontaard het, maar Parow hou sy pose en gaan soos ’n pro aan met die show. Die eerste optrede van die aand is Double Adapter. Terselfdertyd is daar zombies wat die verhoog betree en soort van dans – en die show is stadig maar seker besig om aan die gang te kom.

Met Double Adapter se optrede het die grootste probleem van die aand vir my duidelik geword: die MK Awards in die Staatsteater is te formeel (en selfs die rum kan net sóveel help). Met elke optrede vir die res van die aand was daar net ’n rustige applous wanneer ’n groep se optrede verby was. Dit is jammer, aangesien die MK Awards die “people’s choice” verteenwoordig, maar die bands moet optree voor ’n gehoor wat maar flouerig reageer – so erg dat dit lyk asof hulle nie eens die musiek geniet nie. Ten spyte hiervan het die kunstenaars hul puik van hul taak gekwyt. Bittereinder het soos altyd ’n baie goeie optrede gegee, maar hierdie keer was daar ’n twist aan ’n song wat ek al baie gehoor het. “Slechte Mensen” met Tim Beumers was heeltemal anders, omdat Beumers al die pad van Nederland af gekom het om die song saam met Bittereinder te doen. Dit was die eerste keer dat ek uit my sitplek wou spring en begin skree asof ek besig is om live musiek by Arcade Empire in Pretoria te kyk, maar ongelukkig – en heel gepas, seker, vir die taamlik stywe formaliteit van Staatsteater – het die res van die gehoor nie my sentimente gedeel nie. Ek het begin dink daar is dalk ’n fout en die gehoor van die MK Awards is vervang deur ’n gehoor wat wag op Lloyd Webber se Phantom of the Opera. Of dis dalk omdat die formaliteit van die Staatsteater mens soos ’n stout kind laat voel en dan bly mens maar eerder stil uit vrees vir ’n warm loesing.

Inge Beckmann (van Lark) het saam met Die Heuwels Fantasties “Modus Operandi” gesing, maar ek voel nog altyd dit is een van die swakker songs op Heuwels se Wilder as die wildtuin. Die collaboration met Beckmann werk net nie vir my nie. Mister Cat and the Jackal het met “The Devil Always Wants to Dance” die hoogtepunt van die optredes  gevorm. Ek kan nie wag om meer van Mister Cat and The Jackal te sien nie en wag in groot spanning vir hulle komende Dirty Sexy Rock ’n Roll-toer saam met Shadowclub en Southern Gypsy Queens. Hierdie drie groepe is beslis van Suid-Afrika se minder bekende, maar beste, rockbands.

’n Geleentheid soos die MK Awards sou nie volledig wees sonder die verskyning van Van Coke Kartel nie. Dié band het heel gepas vir die styfheid van die venue baie beskaafd gelyk vir hulle optrede. Die Kartel het dan ook weggestap met drie welverdiende toekennings, en hulle was ook die gelukkige wenners van ’n nuwe Hyundai H1-bussie vir hulle toekenning in die kategorie vir Beste Live Act. Die aand is goed afgesluit met ’n optrede deur seremoniemeester Parow en Gazelle met “Hos Tokolosh”.

Die aand was meestal ongelukkig “all flash and no bang”. Ek dink dit is grootliks omdat die seremonie by die Staatsteater plaasgevind het, en nie eintlik bygewoon kon word deur diegene wat daarvoor moes stem nie. Ek was self laas as kind by die Staatsteater (om ’n Aladdin-kindermusiekspel te sien), en dit is net nie vir my die regte plek vir die uitreik van vars, lewendige en oorwegend jong Suid-Afrikaanse musiek nie – veral nie wat gehou word deur MK nie. Ek hoop die MK Awards – wat tog fokus op die gehore – sal in die toekoms eerder iewers plaasvind waar daar plek vir ’n golden circle area is. Die kaartjies daarvoor kan moontlik ook te koop aangebied word, sodat die mense wat stem, ook die geleentheid kan kry om dit by te woon. Sodoende sal daar darem ook ’n entoesiastiese gehoor wees wat geraas kan maak en die kunstenaars met luide applous kan verwelkom. Dit sal dalk ook die TV-uitsending verbeter.

Behalwe vir die lewelose gehoor was die aand andersins die moeite werd en die kuier na die tyd was great. Dit is altyd lekker om te sien dat ons bands erkenning kry vir wat hulle doen. Geluk aan al die wenners, en ek hoop daar word met volgende jaar se geleentheid ook bietjie meer aan die (tuis)gehore gedink.

Van Coke Kartel ontvang een van hul toekennings


Die 2012 MK Award-wenners is:

Beste Video                    Locnville – Stars Above You. Regie deur Tristan Holmes.

Beste Newcomer            Moses Metro Man – Huigelaar

Beste Groep                   Van Coke Kartel – Ondier Kom

Beste Internasionale Treffer     Adele – Rolling in the Deep

Beste SFX                       Mr Cat and The Jackal – Bad Man He Comin’

Beste Dance                   Jax Panik – Get Up

Beste Rock                     Van Coke Kartel – Vir Almal

Beste Indie                    Dance, You’re On Fire – Boxes Of Tigers

Beste Hipster                  Jack Parow – Bellville

Beste Radiotreffer          MFM – Jax Panik / Dinosaur

Beste Live Act                 Van Coke Kartel

 

 

Foto’s: Henno Kruger

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top