SêNet-briewe | Letters

 
Kiekies 13 en 14
13 * * *

Een Saterdagmiddag, na 'n wegwedstryd (rolballiga) iewers in die suide van Johannesburg, sit ons weer soos gebruiklik saam met die opposisie en beurte maak om vir mekaar dop te koop. Ek sien die een ou koop kort-kort 'n paar dubbelbrandewyne wat hy dan in 'n leë Cokebotteltjie gooi en uitdra buite toe. "Vir my mense," verduidelik hy toe hy sien ek merk dit op, "hulle moet vir my wag want my lisensie is opgeskort."

So gaan ons toe aan soos die tyd aanstap, my span se mense het al gery en nog net ek van my span en die drankuitdraer van die opposisiespan is oor. Uit ordentlikheid drink ek nog die dop saam met hom aangesien hy nog besig was en buitendien myne gekoop het. Toe die laaste ouens van ons klub begin regmaak om te ry sê ek vir hom ek beter ook nou ry; ek moet daai ouens volg want ek ken nie die pad hieruit nie. "Moenie hoeharrie nie, ons drink 'n loopdop; ek sal voor jou ry tot by die snelweg." Ons maak toe maar so, aangesien dit tog heelwaarskynlik my beurt was om 'n rondte te koop, en buitendien, ek kuier lekker.

Ons is uiteindelik daar uit en toe ons in ons onderskeie voertuie klim, ek in my kar en hy in 'n lorrietjie, vol kruiwaens, lere, steierplanke en goed en sy mense. Met die dat hy nou so kort-kort vir hulle skoon brandewyn aangedra het lyk almal redelik aangeklam, veral sy mens wat moet bestuur.

Ek ry toe agter hulle aan en teen die tyd is dit al goed donker. Die pad het intussen in so soort van 'n tweespoorpaadjie verander tussen hoë bloekombome en hier stop hy voor so 'n sinkhuisie, ek dag ons is in Pelgrimsrus. "Wat nou?" vra ek toe ons uitklim. "'n Ou watergat van my, ons drink net gou 'n dop voor ons verder gaan." Dit was nogal 'n oulike kroeg, lekker atmosfeer, almal het vir my na myners of konstruksiewerkers gelyk.

Ons was skaars besig met ons tweede dop toe daar 'n ou ingestap kom met so 'n poenskop, pyl reguit op ons af en hy en my gasheer groet mekaar soos langverlore vriende. "Hierdie is Piet," stel hy ons voor, "ons was saam in die tronk. Ek het laas maand al uitgekom maar Piet net eergister." Toe is daar nou nóg 'n ou wat help met die beurte.

Hierdie lang storie eindig toe waar ek baie laat by die huis kom, vol mense, party van hulle al op die punt om te ry; hulle was by ons vir my verjaarsdag.


14 * * *

Ek hou nogal van die program Chasing Classic Cars en ek sê nou die dag vir die vrou dat daardie gerestoureerde Alfa wat ons die vorige keer op die program gesien het toe verkoop is op die veiling.
"Sjoe," sê sy terwyl sy vroetel met iets daar in die kombuis.
"Ja," sê ek, "nogal vir $130 000."
"Sjoe," sê sy, nog steeds vroetelend.
"Dis reg," sê ek, "en toe kom daar 'n olifant op die verhoog en trap die afslaer plat en slaat 'n moerse duik met sy slurp in die kar se dak."
"Sjoe," sê sy.
"Ja," sê ek, "en toe kom daar 'n renoster en druk 'n gat omtrent dwarsdeur die kar."
"Wat!!?" sê sy.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address