SêNet-briewe | Letters

 
johannes kerkorrel. ek wonder wat van jou geword het. jy wat nog so by my spook

hi ralph

ek onthou 'n laatmiddag in aprilmaand (ek dink dit was april) toe ek en reuben op die stoeptrappies van ons studentehuis op potch gesit het. die huis op die hoek van esselenstraat en hoffmanstraat - so gotiese looking plek.

die bome in tomstraat neffens ons het al blare begin afgooi.

daar op die stoeptrappies het iets swaar op reuben se hart gedruk (sy gevoelens word heeltemal oor sy gesig geskryf). hy sug. hy begin praat, en stop. kyk af. vryf die kat wat kom purrr-purrr by ons.

die eerste keer wat hy, nuwe huismaat, my kamer ingestap het, en na my cd's gekyk het. sy oë het oor jou cd's gegaan, no doubt. maar niks laat blyk nie. hy het gaan sit. leonard cohen uitgehaal. my ma hou ook hiervan, het hy gesê.

ek onthou die eerste keer wat ek reuben gesien het. ek was in ziggy's. vroeg terug na die desembervakansie en my honneursjaar wat voorlê. ek het fokofpolisiekar se nuutste album at the time gaan koop. monoloog in stereo. ek dink hy was ook daar om dieselfde album te koop. ek kan verkeerd wees. hy het dit in my hand gesien en ons het begin gesels.

en toe, op 'n mooi dag, stap hy my en marius se huis binne (een bank op die stoep, een bank in die sitkamer). en hy trek in die kamer oorkant myne in. en ons rekenaars is so regoor mekaar teen die muur. as die deure oop ons, dan gesels ons maar so tussendeur met mekaar, wyl ons werk aan referate en goed.

die eerste keer wat ek hom hoor sing het. saam met muse in sy kamer. verbysterend. een vrydagaand besluit ons om die musiek in surround te doen. nogal 'n hassle om dieselfde song op presies dieselfde oomblik te laat begin op twee rekenaars. ons het dit reggekry. en plat in die lang gang gaan sit en luister na ons surround sound. en gesmile.

die kat het daardie April-agtermiddag 'n dartelende blaar agternagespring. hy het voor hom uitgekyk, so eintlik half na niks, en nogal hartseer gelyk.

en weer begin praat, en weer gestop.

"toemaar, reuben," sê ek toe, "dis ok, ek weet."

die huis het hulle die volgende jaar platgestoot, ralph. en ek wonder nog wat van reuben geword het.

jana
x

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address