SêNet-briewe | Letters

 
Evolusie van die mens
Ek sien in een van George Claassen se artikels, Om die porieë van die lewe te kan raaksien, 'n oulike prentjie van 'n aap en 'n mens met vier oorgangwesens tussen die twee (ek hoop die fossiele van al hierdie oorgangwesens is al gevind).

Nou wonder ek: Daardie aap is aangepas vir hitte en koue, hy kan die warm son vir ure trotseer en ook die nag se koue maar toe gaan staan en evoleer hy in 'n ding wat binne 'n uur blase brand en sommer tjop-tjop aan blootstelling doodgaan. Hoe werk dit?

Hoe het die mens deur millennia se evolusie verander van iets wat uitstekend aangepas was tot iets wat NIE aangepas is nie? Mens kan nou wel aanvoer dat die mens vanweë breinkrag sy tegnologie ontwikkel het wat hom in effek meer aangepas maak as enige van die diersoorte maar dan, hoekom? Hoekom net die mens en nie enige van die ander organismes nie?

Dit lei tot die hoender-en-die-eier-probleem: Het sy aanpassing op een of ander manier agterweë begin raak en toe, as gevolg daarvan, ontwikkel hy 'n beter verstand? Of het hy begin 'n groter breinkapasiteit ontwikkel en as gevolg daarvan het hy toe nie meer nodig gehad om so goed aangepas te wees as wat hy was toe hy nog 'n aap was nie?

Indien eersgenoemde; hoekom? Hoekom nie maar heraanpas nie want hy was tog reeds daar? Indien laasgenoemde, waar (eintlik wanneer) kruis die opwaartse breinkapasiteitskromme met die afwaartse omgewingsaanpassingskromme?

Jan Rap

Comments 6 Reaksies | 6 Comments
Delete Comment
avatar
Dirk
2013-01-08 @22:04
Goed gestel. Meeste mense op aarde is maar swak aangepas en het nie toegang tot die ontwikkelde wêreld se klimaatbeheer nie. Hulle sou kon doen met die isolasie wat 'n apevag bied.
Delete Comment
avatar
Leon Retief
2013-01-08 @22:35

Jan Rap, nie-menslike primate, of “ape” soos jy hulle noem, is nie so robuust as wat jy dink nie. Elke primaat is aangepas by sy omgewing – sit ’n aap wat in die reënwoud leef in die Kalahari en hy is gou-gou ’n geraamte en omgekeerd. Soos mense kan hulle ook nie ekstremes van temperatuur of klimaat weerstaan nie. Nie-menslike primate word meestal in dele van Afrika, Asië en Suid-Amerika gevind, mens tref hulle nie in byvoorbeeld die Sahara of boreale gebiede aan nie. Ja, jy en ek sal dalk gou-gou blase brand as ons te lank in die son is, maar jy sal seker toegee dat menslike inwoners van die Kalahari en die Australiese woestyngebiede nie juis daarmee gepla is nie.

Toe ons voorsate se breine sodanig ontwikkel het dat hulle van vuur en werktuie kon gebruik maak het dit hulle in staat gestel om ekologiese nisse te ontgin wat andersins vir hulle geslote sou gewees het. Dit is waarom ons oor die ganse wêreld versprei is en “ape” nie. In daardie opsig is ons dus uitstekend aangepas, baie beter as “ape.”

Om te vra “Het sy aanpassing op een of ander manier agterweë begin raak en toe AS GEVOLG DAARVAN, ONTWIKKEL HY ’n BETER VERSTAND?” (my beklemtoning) is teleologies van aard en nie van toepassing nie. ’n Organisme ontwikkel nie, in die sin waarin jy dit noem, ’n eienskap OMDAT dit ’n ander een verloor nie, dis nie asof die organisme nou vir homself sê o gaats, ek het my pels verloor so nou moet ek ’n plan maak en iets anders ontwikkel nie. Die veranderinge in organismes met verloop van tyd en omgewing is te kompleks om in sulke terme beskryf of verklaar te word.

Delete Comment
avatar
Trienie
2013-01-08 @23:40

Jan Rap, moet sê dat jou stelling: "waar kruis die opwaartse breinkapasiteitskromme met die afwaartse omgewingsaanpassingskromme?" my nou mooi deurmekaar het. Net soos evolusie.

Nee wat, ek sal maar antwoord soos Sedgwick (Darwin se mentor en ’n professor in geologie) dit sarkasties gestel het in ’n brief rakende Darwin se 'Origin of Species" in 1859: "I have read your book with more pain than pleasure. Parts of it I admired greatly, parts I laughed at till my sides were almost sore..."

Die prent wat jy hierbo beskryf laat my so lag. Om te dink daar is moontlik ’n sjimpansee in my familie! Het al gewonder hoekom my bloed soms so kook - dalk kom dit vanuit die Herman (my ma se kant) familie? Maar kan ’n aap se bloed kook? Dink nogal so. Nou is ek eers deurmekaar!

Trienie

Delete Comment
avatar
Duitswester
2013-01-09 @02:25

Raak gepraat Jan,

en nee, daai ding-tussen-aap-en-mens se bewyse bestaan nie, het nooit, sal nooit. Behalwe nou vir die "stickers" op die agterruit van ’n kar. Die kar van mense wat aan die evolusie-geloof hang. Het jy al ’n ou sit en bekyk terwyl hy na sy "stickers" staar? Laat my altyd dink aan ’n donkie wat ’n vreemde hek sien.

Gawe dag

Duitswester

Delete Comment
avatar
Angus
2013-01-09 @02:44

Beste Jan, 

Ja, die evolusieteorie is maar ’n moeilike ding vir ons almal om te sommer so te verstaan, veral as jy dit met “gesonde verstand “ vanuit jou studeerkamer voor die rekenaar wil sit en uitpluis.  

Om te kom by jou vrae. Gestel ’n groepie geharde, harige, taai mensape woon in die veld, tussen die doringbome. Snags slaap hulle sommer so onder die sterre, of in bome.  Son, reën, wind, koue, haelstorms, dit alles kan hulle trotseer, want hule het sterk velle, en baie van hulle energie word daarin gesit. Sterk velle is vir hulle dus noodsaaklik vir voortbestaan. Dan gebeur daar iets en die groep word geskei. Een deel bly nog in die veld tussen bome, maar die ander deel van die groep beland in die berge. Hulle neem hulle intrek in grotte en moet by nuwe omstandighede aanpas. Die wat nie aanpas nie, sterf uit. So met die miljoene jare heen word hulle velletjies dunner, want hulle het nie die dik harige velle nodig as hulle in grotte woon nie. Soos wat hulle vermeerder, is daar ook nie meer plek in die grotte vir almal nie. Diegene wie se breine al so ontwikkel het, bou skuilings, en hulle verbeter op die skuilings totdat hulle naderhand hutte en baie later huise kan bou. Dié met minder verstand wat nie huise kan bou nie, sterf uit sodat  net hulle met ontwikkelende breine  bly voortleef.  Die lekker lewe onder skuiling is bevorderlik vir die groei van die brein, want die energie wat dit gekos het om dik harige velle te kweek word nou gebruik vir die groei van die brein. Dit kom egter nie sonder ’n prys na die anderkant  toe nie. Die velletjies raak dunner en die son brand seer kankerkolle daarin. Sommiges wil nie hoor nie, en gaan lê op die strand, maar, helaas, die velle sal nie nou sommer bestand raak teen die strale nie. Evolusie geskied oor miljoene jare. 

As jy my nie wil glo nie, gaan kyk maar wat geografiese, geologiese en klimaatsveskille aan die Eskimo's, die Khoi- en Sanvolkere gedoen het. Hulle het tog een of ander tyd dieselfde voorouer gehad.

Wat jou hoenderstorie betref:  vergroting van die brein is deel van die aanpassing by die nuwe omstandighede. Die verswakte vel is ook aanpassing by die lekkerder omstandighede. Die natuur werk maar so suinig; waarom ’n dik, sterk, taai vel kweek as dit nie nodig is nie. So ’n vel is ’n duur spulletjie en die energie daarvoor kan beter aan gewend word vir iets noodwendiger om te kan oorlewe: die groter breinkrag. 

 Groete,  Angus

Delete Comment
avatar
Brianvds
2013-01-09 @16:09

Jan, soos ander reeds uitgewys het verstaan jy miskien aspekte van evolusieteorie verkeerd. Ander van jou vrae is heeltemal goeie vrae, en op vele van hulle sal ons straks nooit antwoorde kan kry nie omdat die nodige getuienis nie altyd meer bestaan nie. 

Vir my is die mens se groot brein, en die feit dat hy hom grootliks gebruik om twak mee te praat eerder as enigiets anders, ietwat van ’n misterie. Dit is ’n orgaan wat nogal baie energie gebruik en tog skynbaar relatief min nut het (insekte het veel minder breinkrag as ons en oorleef net so goed!)

Aan die ander kant is dit ’n fout om te dink evolusie kom noodwendig met perfekte ontwerpe vorendag. Evolusie dink nie vooruit nie; hy pas bloot organismes aan by bestaande omstandighede, en die dryfkrag is nie oorlewing nie maar voortplanting. 

Dink byvoorbeeld aan manlike poue: wat op aarde is die doel van daardie kleurvolle stert, wat die voël tog bloot meer sigbaar maak vir roofdiere, hom minder effektief laat vlieg en boonop ’n handige aanhangsel is vir ’n groot kat om te gryp? Tog is dit nie moeilik om te sien dat so ’n gedoente evolusionêr gesproke nuttig is nie - knip manlike poue se sterte af en kyk maar self of sulke poue meer of minder nasate laat as poue met sterte. 

Evolusie kan met die mees bisarre ontwerpe vorendag kom - juis die tipe van ding wat geen intelligente ontwerper sou saamflans nie.

In ieder geval, evolusie is beide ’n feit en ’n teorie. Die feit van evolusie is dat lewe op aarde ’n gemeenskaplike voorouer het (die getuienis daarvoor is van so ’n aard dat evolusie heel letterlik op vaster grond staan as gravitasieteorie). Die teorie van evolusie probeer verklaar hoe en waarom evolusie plaasgevind het., en daaroor word daar nog heelwat gedebatteer.

Dat ons en sjimpansees ’n gemeenskaplike voorouer het is ’n feit. Presies waarom ons geword het wat ons is, is ’n ander vraag en ek vermoed ons gaan straks nooit ’n heeltemal volledige antwoord hê nie. 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address