Ek sien in een van George Claassen se artikels,
Om die porieë van die lewe te kan raaksien, 'n oulike prentjie van 'n aap en 'n mens met vier oorgangwesens tussen die twee (ek hoop die fossiele van al hierdie oorgangwesens is al gevind).
Nou wonder ek: Daardie aap is aangepas vir hitte en koue, hy kan die warm son vir ure trotseer en ook die nag se koue maar toe gaan staan en evoleer hy in 'n ding wat binne 'n uur blase brand en sommer tjop-tjop aan blootstelling doodgaan. Hoe werk dit?
Hoe het die mens deur millennia se evolusie verander van iets wat uitstekend aangepas was tot iets wat NIE aangepas is nie? Mens kan nou wel aanvoer dat die mens vanweë breinkrag sy tegnologie ontwikkel het wat hom in effek meer aangepas maak as enige van die diersoorte maar dan, hoekom? Hoekom net die mens en nie enige van die ander organismes nie?
Dit lei tot die hoender-en-die-eier-probleem: Het sy aanpassing op een of ander manier agterweë begin raak en toe, as gevolg daarvan, ontwikkel hy 'n beter verstand? Of het hy begin 'n groter breinkapasiteit ontwikkel en as gevolg daarvan het hy toe nie meer nodig gehad om so goed aangepas te wees as wat hy was toe hy nog 'n aap was nie?
Indien eersgenoemde; hoekom? Hoekom nie maar heraanpas nie want hy was tog reeds daar? Indien laasgenoemde, waar (eintlik wanneer) kruis die opwaartse breinkapasiteitskromme met die afwaartse omgewingsaanpassingskromme?
Jan Rap