En tyd stap aan ...

  • 2

Die afgelope jaar spook dit by my … so asof deel van my kinderdae net gesteel is. En diep in my siel is daar ‘n foltering – ’n soeke net na ‘n bietjie kind wees. En daar was bykans niks mens om my vrae te beantwoord nie.

Kindsdae in Elim was hemels. Ofskoon ons uitgewekenes was in hierdie klein dorp, raak sulke “groot” sake nie juis kinders nie. Ons dae was kommervry. Speel, swem, skoolgaan en huistakies verrig soos werfskoonmaak en hoenders voer.

Dan was daar die seunsdinge. Vrugte uit die dominee se tuin gaps, heuning op ’n Sondagmiddag gaan vaslê – tot ons spyt toe ‘n swerm bye ons goed karnuffel het.

Daar was tye wat Elim vir ’n jong kind die begin en die einde van die wêreld kon wees. Veral as jy by die plantasies agter die begraafplaas met vriende gaan stap en speel het. Of die Hemelvaart-pieknieks waar een wolhaarstorie na die ander vertel is. Die pieknieks was sommer ’n lekker geleentheid – waar snoek en patats op warme houtkole gaar gemaak is.

Daardie dae was stoutwees net dit. Veral toktokkie speel. Dit het ou mense die hel ingemaak. Elim was op goed geskut. Geen elektrisiteit nie. Water moes buite gepomp word. Dit is seker die dat ek nog van klein dorpies hou.

Tog was dit asof ek wreed uit ’n droom geruk is. My besoek verlede jaar in Elim het my laat wonder wat van my al my kindsdaedrome geword het.

Groentetuine, vrugteboorde en lowergroen bosse waar talle swemplekke versteek was, het plek gemaak vir ’n nuwe faset in Elimmers se lewe – wynplase. Waar eens fynbos, en veral proteas gegroei het, is wingerd op wingerd.

Dit is dalk ’n teken van vooruitgang. Tog is daar ook die slegte nasleep van satelliet-televisie. Bendes wat dink hulle kom uit die Bronx.

Sou ek kon kies – sou ek die ou Elim verkies.

Een waar kind wees nog altyd ’n plesier was – sonder die gevare van bendes, dwelms ensovoorts.

Yuri

Kinders sit op die stoep van een van die geboue op die werf. Iets wat ons ook kon doen veral as die ou Spoorwegbus kom besoek aflê het.

My seun Nathan kyk toe hoe beeste wei. Eens op 'n tyd was die gebied bos op bos.

Foto's wat Elim se verlede uitstal.

Die reëls van die dorp ...

Die petrolpompe waar mense letterlik met die hand moes pomp het ons oneindig gefassineer.

Die werf waar ons lekker gespeel het is vervalle ...

  • 2

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Dankie Yuri vir ’n wonderlike storie uit ’n wonderlike tyd. Klein dorpies het nog altyd vir menige van ons ’n bekoring gehad wat jy net nie in die stad kry nie. Daar waar respek met ’n hoofletter gespel word. Waar jy vir jou medemens omgee en hulle almal by naam ken. Ons het dit als veruil vir vooruitgang wat wat met hom al ons probleme saamgedra het. Ek hoop van ons jongspan lees dié storie veral die's wie na musiek luister waar hulle met spelfoute sing. Hulle wat vergeet wat speel regtig is. Hoop dat ons meer bydraes van jou vir 2013 gaan lees. Doe so voort!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top