Snars poëtika | New writing

 
Die gedig as god en godsdiens

Die week in woorde

Op pad terug na Suid-Afrika ná my twee jaar in Nieu-Seeland en Australië word ek op die lughawe voorgekeer en na die ondersoekhokkie vergesel. Hier word ek deeglik uitgekyk en opgevoel, my handbagasie en klere deursoek vir wapens, dwelms en ander ongerymdhede. Ek was heel uit die veld geslaan ... Ek is die onskuld self en boonop uiters voorbeeldig (was immers hoofmeisie op laerskool). Ek lyk nie eers (baie) soos ’n hippie nie. Ek kon nie verstaan wat my juis verdag laat lyk het nie.

Dit was eers toe ek later my plek op die vliegtuig inneem en my boek op my skoot oopslaan dat ek besef wat dit was: die Goeie Boek! Ek het my 2000-uitgawe van Groot verseboek by my gehad omdat die ding te groot en swaar is om in ’n tas te pak. Myne is gereference en gecross-reference met duisende mini-post-its wat bo en langs die kante uitpeul, en die hardeband is al aan die uitmekaarval van jare se gebruik. Met die donkerblou omslag en goue letters moes dit vir die geoefende oë van die sekuriteitswagte op die lughawe soos die religieuse teks van ’n absolute fanatikus gelyk het, die tipe wat dalk ’n vliegtuig sal opblaas in die naam van een of ander god.

Hulle was seker nie so ver verkeerd nie. Ek sal miskien nie ’n vliegtuig daaroor opblaas nie, maar die digkuns is die naaste ding wat ek aan ’n godsdiens het. En ek is nie alleen nie. In die onderhoud wat ek met haar gevoer het oor haar bundel in die niks al om, sê René Bohnen:

[Ek] vertrou ... die begin van ’n gedig bo alle dinge. Onvoorwaardelik vertrou ek dit. Nog nooit het ’n gedig my in die steek gelaat nie. 

Dis die digter as gelowige wat hier aan die woord is, die individu met onwrikbare geloof in die gedig. Die gedig is god, die digkuns godsdiens. Dis net nie dieselfde tipe godsdiens waaraan ons gewoond is nie.

In sy essay "Religions are poems" skryf Nick Laird:

Poems have the mythological dimensions of religion − the hearthside stories, histories, imagery and myths through which the invisible world is symbolised − but lack the doctrine.

Die digkuns bied ruimte vir vrae en onsekerheid, eerder as antwoorde en finaliteit. Die meeste mense verstaan dit intuïtief – dit kan mens aflei uit die aantal ellipse wat in amateur-gedigte voorkom. Die kuns is om die tegnieke te ontwikkel om in woorde te kan sê wat jy met ’n ellips bedoel. Gedigte wat die toets van tyd deurstaan, is dié wat genoeg ruimte binne hulleself ooplaat vir mense om daarin te beweeg, te groei en te verander. Dis gedigte wat elasties is.

Later in sy essay skryf Laird: "Poetry can hold oppositions in equilibrium. Life tends to paradox and poetry can cope with that."

Poësie kan cope, en soos die beste gelowe, kan poësie jóú help cope. Dis so oud soos die oudstes en so aanpasbaar soos die mees gewildes. Poësie het sy profete en sy hoëpriesters, sy heilige tekste, sy martelaars en sy relieke. Al wat nou nog kort, is ’n vakansiedag vir poësie, maar terwyl ons wag vir daardie een, maak solank die beste van die vakansiedae vir die godsdienste wat wel met hulle geseën is.

Mag die gees met jou wees.

Voorgeskrewe leesstof

Hier is ’n mandjie vol goed om te lees as jy nie gelukkig genoeg is om paaseiers te jag dié naweek nie:

Essay: “Religions are poems” deur Nick Laird
Essay: “Poetry and Prayer” deur James Midgley
Gedig: “Psalm” deur Emily Warn
Gedig: “Poetry and Religion” deur Les Murray
Gedig: “God on the treadmill” deur Benjamin S Grossman
Gedig: “Oh God” deur Michelle Tea
Gedig: “Wildpeace” deur Yehuda Amichai
Webblad met verskeie gedigte deur Rumi
Onderhoud met Mavis Vermaak oor haar Rumi-vertalings in Afrikaans
Poets.org se bladsy oor William Blake, met heelwat gedigte

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 
Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Francois Verster
2012-04-07 @17:02

Haai Bibi  

Ek wonder altyd oor mens ewat se hulle skryf vir hulself – en steek dan hulle werk in 'n laai weg. Ek lees ook vandag in Die Burger dat die skilder Peter Clarke beweer hy skilder vir homself, maar neem (tog) in ag dat ander dalk ook daarvan mag hou. So het Gregoire Boonzaier aan my gese ook hy (op 93 jaar) is nooit seker van homself as kunstenaar nie.

Hierdie onsekerheid van kunstenaars (en wannabe's ook natuurlik) is sekerlik wat hulle dryf om te verbeter, en dit herinner my aan Longefellow se woorde: "We judge ourselves by what we feel capable of doing, while others judge us by what we have already done," terwyl Virgil gesê het "Mense is bevoeg omdat hulle dink hulle is." Hierdie uitlatings kom dalk neer op geloof – selfgeloof, wat iets meer is as selfvertroue.

Mens kan dan kyk na iemand soos Hashim Amla en die kalmte wat hy uitstraal waneer hy krieket speel, en wonder: is dit omdat hy so sterk glo in Allah, of in sy eie vermoeëns, of is sy geloof dalk 'n placebo wat hom laat presteer, juis omdat hy dit nodig het – weens sy gebrek aan selfgeloof?

Uiteindelik gaan dit oor glo, maak seker nie saak waarin nie.

As digkuns jou geloof is en die Groot Verseboek jou Bybel, kan dit dalk ook werk. Dan kan digkuns 'n spirituele proses of ervaring wees wat geloof vervang, terwyl godsdienstige mense daarenteen, steeds hulle God eerste kan stel, maar digkuns as die tweede beste ding ervaar.

Dus: goeie stuk deur jou – dit laat mens dink!

Groete
Francois

Delete Comment
avatar
Bibi Slippers
2012-04-10 @09:59
Beste Francois

Dankie dat jy gelees het en vir die positiewe kommentaar.  Vir my is dit lekker om te weet iemand lees, al weet ek nie altyd wie nie.

Die naweek het ek Stephen King se boek "On Writing" gelees.  Hy skryf 'n hele paar goed daarin wat nogal aansluit by van die punte wat jy opper.  Eerstens, oor die saak van skryf vir jouself vs skryf vir ander:  King meen dat elke werk van fiksie eintlik 'n brief is vir één leser, sy of haar ideale leser.  Dit kan sekerlik waar wees vir enige kunswerk ...  Ek kan getuig dat ek ook, soos hy, soms vassteek en wonder wat 'n spesifieke persoon van dié reël of daai grappie sou dink.

 King het ook praktiese raad vir skrywers wat verband hou met die kwessie van uiteindelike lesers:  "Write with the door closed, rewrite with the door open.  Your stuff starts out being just for you, in other words, but then it goes out."  

 Ten slotte, nog drie aanhalings uit "On writing" wat op verskillende maniere aansluit by die tema van skryfkuns as geloof:

"You can approach the act of writing with nervousness, hopefulness, or even despair - the sense that you can never completely put on the page what's in your mind and heart. You can come to the act with your fists clenched and your eyes narrowed, ready to kick ass and take down names. You can come to it because you want a girl to marry you or because you want to change the world. Come to it any way but lightly. Let me say it again: you must not come lightly to the blank page."

"There have been times when for me the act of writing has been a little act of faith, a spit in the eye of despair."

"Writing is not life, but I think that sometimes it can be a way back to life."
 
Goed gaan.
Bibi
Delete Comment
avatar
Francois Verster
2012-04-10 @11:02

Haai Bibi

Ek besit die boek deur King en het dit al aan 'n hele paar mense aanbeveel - leesbaar EN baie nuttig. Dit staan op my rak reg bokant my lessenaar, langs Etienne van Heerden se "Die stilte na die boek" - die twee is vir my werklik die beste handleidings oor skryf (waarvan ek al  'n baster-versamelinkie het).

Dorian Haarhoff se "The writer's voice" is ook 'n lekker werkboek vir skrywers, terloops.

Ek het juis laas maand King se nuutse boek oor die Kennedy-sluipmoord vir Rapport Boekeblad geresenseer en daarin genoem dat King die boek maar korter kon gemaak het, en sy eie raad van minder is beter in sy "On writing" kon gevolg het! Maar ek veronderstel dat meeste lesers "Blockbusters" wil hê en dat sy uitgewers dit van hom verwag. Ongelukkig word dit later so 'n FORMULE.

Nogtans, King weet waarvan hy praat - elke aspirant-skrywer kan maar kennis neem van "On writing".

Groete

Francois


 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address