Daar’s ’n Nartjie in jou Sosatie*

  • 0

In Suid-Afrika is ’n platform nie ’n politieke party nie, maar dit is. En in ons vrye demokrasie word die volgende president van die land aangewys deur ’n eksklusiewe en geslote binnekring – lank voor die land se mense na die stembus kan gaan om hul “demokratiese regte” uit te oefen. En dan cerebrate ons ons vryheid.

In die monargie wat Europa help bevry het van Hitler se opmars en besetting, staan  mense deesdae in netjiese militêre rye stil op aandag aan die linkerkant op die underground se  roltrappe. En bewaar jou vrygeestige Afrika siel as jy durf om hierdie “reglement” te verontagsaam. Mede roltrapryers sal jou vinnig laat verstaan dat  mind the gap eintlik beteken jy’s ’n savage in Adolf Thatcher se Brittanje.

Die Verenigde State van Amerika, eens die wêreld se bastion teen kommunisme en hedendaagse beskermer van die “vrye wêreld”,  se buitelandse beleid (soos toegepas in Irak en Afganistan) stem grootliks ooreen met  die volgende:

We fought for the future, destroyed the invaders,
And brought to our homeland the laurels of fame.
Our glory will live in the memory of nations
And all generations will honour her name.

En wie was aanvanklik die trotse eksponente van hierdie  “beleid” ? :  drumrollll ……..  crash –  hierdie is ’n uittreksel uit die Engelse vertaling van die “Soviet National Anthem”.

Die meeste van ons woon darem gelukkig nie in Brittanje, die VSA of in die ANC se binnekaders se weergawe van Suid Afika nie.“Anarchy Rulz!”. En ek praat nou nie van hoe jou sit- en braaikamer lyk  nadat  jou matriekkinders die naweek die huis vir hulleself gehad het nie. Anargie as filosofiese denkrigting  en politieke model kom ’n ver pad en het ’n trotse geskiedenis van bewese toepassings in die onlangse geskiedenis. Daar is heelwat variasies van Anargisme as politieke model, maar dit kan losweg opgesom word as ’n  “staatlose gemeenskap”. Die bekendste hiervan is seker die “Vrye Katalonië” wat in die Spaanse burgeroorlog tot stand gekom het toe ’n koalisie van werkersvakbonde, insluitende die Federación Anarquista Ibérica (FAI, Iberian Anarchist Federation) tussen 1936 en 1939 met Barcelona as hoofstad, hulself losgemaak het van Madrid.  Aan die ander kant van die spektrum het daar in Europa en Amerika funksionerende hippie-gemeenskappe voortgevloei uit hierdie denkrigting. Dink maar aan die “Krakers” in Nederland en die Trumbullplex in Detroit, Michigan. Selfs die totstandkoming van die bekende kibbutzstelsel in Israel is aanvanklik beïnvloed deur hierdie denkwyse.

Maar ons hoef nie te ver en te lank in die verlede te gaan soek vir voorbeelde van funksionele anargistiese gemeenskappe nie. Suid-Afrika se Abahlali baseMjondolo is ’n “shack dwellers movement” met ’n invloedryke gevolg wat partypolitiek verwerp en verkiesings boikot. Hulle het ’n geskiedenis van ernstige botsings met beide die ANC en die DA. Vertrou geen politikus nie. Amen. Tesame met die “Action Treatment Campaign” word hierdie beweging beskou as “the most effective grouping in South African civil society”.

Streng volgens die oorspronklike betekenis van die woord “anargie” is Suid Afrika waarskynlik  reeds lankal  ’n wêreldleier en skitterende voorbeeld van ’n funksionerende anargie. Volgens die Online Etymology Dictionary is die herkoms en betekenis van die woord anargie “from French anarchie or directly from Medieval Latin anarchia, from Greek anarkhia "lack of a leader, the state of people without a government".

Nuff said. Soos my geleerde vriend wat snags sonder ’n kop rondloop sou sê : “Draw your own confusions  ...  all I know is there’s *anarchy in your society.” 

As ideologie bly kommunisme seker dié utopia – net jammer van die kommuniste. Nogtans  maak die Oos-blok lande kollektief steeds die mees inspirerende volksmusiek. Lekker opruiende volkslied wat die Armeniërs het – luister dit op volspoed. Dit sal jou dryf om met ’n bottel Vodka in die hand op en af in die Agang te marsjeer op soek na Mamphela se Ramphele.

Vir ’n musikale uitbeelding van die humanistiese sy van anargisme is die koning van opruiende interpretasie, Léo Ferré, se “Les Anarchistes” ’n ideologiese kragtoer.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top