Ararat

  • 0

Ararat

Ons ry suid, in die rigting van Ararat.

Deur die buitewyke van Yerevan en ou grou sementkleurige woonstelgeboue, met sink toegemaakte stoepies. En daardie toppunt van depressiewe simbole van ’n voormalige Sowjet-Republiek, ’n mallemeule wat lankal nie meer werk nie, geroeste Ferris-wiel, vervalle stampkarre en “Figure of Eights” tussen afgebreekte strukture, lang droë gras en immer teenwoordige sipresse.

Ons ry saam met ons drywer, Mesrop, op die hoofpad na die Iranse grens. Mesrop is ’n lang maer man met sagte oë, wat nie ’n woord Engels kan praat of verstaan nie.  Die pad is gevul met slaggate en ons ry verby trokke , karre, perdewaentjies en aan mekaar gelapte kraampies, gevul met groente en vrugte, wat verbou is op klein lappies vrugbare grond op dié 900-meter-bo-seespieël-vlakte in sentraal Armenië.

Van ver af kan Ararat reeds gesien word; die opwinding laai op. Naas die Groot Piramied draai hierdie uit as een van die mees aangrypende besoeke van my lewe. Ek het immers Noag se storie en Ararat, waar sy ark te ruste gekom het, met moedersmelk ingekry. Ararat leef in my gedagtes sedert ek my verstand gekry het; Ararat is deel van my menswees, my psige.

Hierdie piek van oor die 5 000 meter, wat as’t ware van oudsher af waghou oor hierdie vreemde klein Christen-landjie en wat in voorspoediger tye in die groter Armenië geleë was, staan vandag soos ’n verlore seun in die moderne Turkye.

Tussen wingerde deur ry ons na Khor Virap, ’n Armeens-Apostoliese klooster op ’n heuwel langs die geslote Turkse grens, sowat 30 kilometer van Ararat af. Van hier af het ’n mens die mees asembenemende uitsig op hierdie manjifieke piek, wat alleen en sonder enige ander berge in sig saam met ’n kleiner piek genaamd Klein Ararat, op hierdie vlakte staan. Hierdie enkele geweldige berg, waarvan die sneeu op sy piek nooit smelt nie. Die Armeniërs noem dit liefderik die bruid wat haar kop met ’n sluier bedek.

Dit is Sondagoggend en die uitkykposte op die Turkse grens kom onheilspellend voor. ’n Groepie middeljarige en ouer mans en vrouens staan netjies uitgevat in stilte en kyk na dié enkel belangrikste simbool van hulle geknelde land en die hartseer geskiedenis van sy mense. Van die dames vee trane, wat oor die wange biggel, met wit kant sakdoekies af. ’n Vrou, met ’n spierwit duif in die hand, staan nader en laat dit, as simbool van die duif wat deur Noag losgelaat is, los. Die groep staan in eerbied en kyk tot die duif in die verte verdwyn.

Aan die voet van die heuwel en terug in die klein parkeerarea merk ek vir die eerste keer die drie duifverkopers, wat gehurk tussen verlore plastieksakke agter ’n stukkende draadheining sit, op. Dit lyk soos oupa, seun en kleinseun en in ’n draadhokkie word ’n paar wit duiwe aangehou. Mesrop beduie met ’n siniese glimlag dat die duiwe geleer word om terug te keer nadat hulle deur pelgrims in simboliese, amper godsdienstige, gebare losgelaat is om dan herverkoop te word aan ’n volgende groepie pelgrims.

Ek klou vas aan een van die gewyde oomblikke van my lewe en wens dat ek maar hierdie kru waarheid gespaar kon gebly het.

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top