André P Brink: Huldeblykgeleentheid by Universiteit van Kaapstad

  • 1

Huldeblyk aan André Philippus Brink
29 Mei 1935 – 6 Februarie 2015

Aangebied deur die Universiteit van Kaapstad

Datum: Maandag 2 Maart 2015
Tyd: 18:30 vir 19:00
Plek: Wilfred & Jules Kramer-regsgebou, Lesingsaal 1, Middelkampus
RSVP: lisl.george@uct.ac.za (sitplekke is beperk, bevestig dus asseblief as u die geleentheid gaan bywoon)

André Philippus Brink (29 Mei 1935 – 6 Februarie 2015) is op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer in 1952 aan die Hoërskool Lydenburg en behaal ’n BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit, gevolg deur ’n MA-graad in sowel Engels (1958) as Afrikaans (1959) cum laude. Hierna vertrek hy na Parys, waar hy vergelykende literatuur aan die Sorbonne Universiteit bestudeer. In 1961 word hy aangestel as dosent in die Departement Afrikaans-Nederlands by Rhodes Universiteit in Grahamstad.

In 1962 verskyn Lobola vir die lewe wat as sy debuut beskou word. Saam met Breyten Breytenbach was hy een van die sleutelfigure in die Sestigerbeweging. Hy was hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan Rhodes Universiteit van 1980 tot 1990 en is daarna aangestel in die Departement Engels aan die Universiteit van Kaapstad. Met sy dood was hy emeritus-professor in Engels aan die universiteit.

André P. Brink was een van die mees veelsydige figure in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld: romanskrywer, dramaturg, reisskrywer, vertaler, letterkundige, resensent en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal, waaronder Serbo-Kroaties, Japannees, isiXhosa en Viëtnamees. Die Hertzogprys is twee keer aan hom toegeken (2000 en 2001).

Sy roman Kennis van die aand (1973) is die eerste Afrikaanse boek wat deur die Suid-Afrikaanse regering verbied is. Daarna is ’n aantal van sy boeke in Engels en Afrikaans verbied. Hy was twee keer op die kortlys vir die Bookerprys: in 1976 vir An Instant in the Wind en in 1978 vir Rumours of Rain, en verskeie kere sedert 1979 op die kortlys vir die Nobelprys vir Letterkunde. A Dry, White Season is verfilm met Donald Sutherland en Marlon Brando in die hoofrolle. Hy het meer as 60 boeke uit die wêreldliteratuur in Afrikaans vertaal. Hy het die Orde van Ikhamanga (silwer) ontvang en is deur die Franse regering tot Ridder van die Nasionale Orde van Kuns en die Lettere geslaan.

Eredoktorsgrade is deur die Universiteit van die Witwatersrand (1985), die Universiteit van die Vrystaat (1997), die Universiteit van Pretoria (2003) en die Katolieke Universiteit van Louvain in België (2015) aan hom toegeken. Op die vlug terug na Suid-Afrika, ’n paar dae nadat hy laasgenoemde eerbewys ontvang het en terwyl hy oor Afrika gevlieg het, is André P Brink oorlede.

“André Brink did much more than pen haunting novels set in apartheid South Africa, beautifully – he was a gentle pathfinder whose stories coaxed his readers to challenge the racial enclaves in their minds.” Anglikaanse Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu.

  • 1

Kommentaar

  • Een uitstekend idee van de Universiteit van Kaapstad om André P. Brink te gedenken op 2 maart 2015. Dat is namelijk de 195ste geboortedag van een andere schrijver die vooruitgang bracht met scherpe kritiek op de eigen regering: Multatuli.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top