Afdraai na vrede

  • 0

Deur die hoë akkerbome val die son in warm splinterpatrone oor my skouers. My stapskoene, sien ek, is vol stof van die gruiserigheid wat onder my sole knars. Na al die jare is dit nog steeds net die hoofstraat wat geteer is. Hoe lank is dit nou? Maklik vyftig jaar. Kan langer ook wees.

Daardie tye was die hoofstraat net 'n deurgang na ander, interessanter en selfs verbode bestemmings. Behalwe die klipkerk se toring wat uit een van die systrate oor die dorp uittroon, was dit net die hotel, die poskantoortjie agter sy slap ogiesdraadheining en Ant Souf se kafeetjie wat getuies was van die motors wat skaars spoed verminder wanneer hulle deur die dorp ry. Toe was daar geen padtekens wat sê die inwoners gee om vir paddas nie. Ook nie oulike koffiewinkels wat 'n reisiger nooi om te vertoef nie. Mense het bloot hul lewens geleef in dié plek wat onder sy mistige tjalie die oudste inwoners herinner het aan 'n agtergelate Skotland. Vandaar plaasname soos Lake Banaghar en Fernihough.

Verder af in die straat, waar oom Fransie van Zyl se skewe platdakhuisie destyds regoor die skoolhek gestaan het, verwonder ek my aan 'n Liewe Heksie-huisie kompleet met spits sinkdakkie en sonneblomme tussen wilde gras aan weerskante van die tuinpaadjie. Net soos die tweesel-tronk van destyds aan die rand van die dorp, spog dié huisie ook met gasteverblyf.

Ek kan nie help om te wonder wat oom Fransie daardie oggend van die gedoente by die skoolhek gedink het nie.

Met my skooltas in die een hand, het ek verbete met die ander arm aan die hekpaal vasgeklou, al het Juffrou Visagie in die klas al gesê ek mag maar gaan.

“Nee magtag kom nou, my geduld raak op ... ek het nie die heeldag tyd nie!” Oom Boeta se gesig was rooi en sy snor het gebewe. Eintlik het dit toe al vir my gelyk of hy wou huil, maar om die dood wou ek nie in sy Ford-bakkie met die OV-nommerplaat klim nie. Nie na die moeilikheid wat ek gehad het dié dag toe ek van die skolesport op die buurdorp geryloop het huis toe nie.

Op 'n manier het ek die skoolbus verpas. Hoe weet ek nie meer nie. Ek het onder die laan bloekombome agter die pawiljoen gaan staan en gemaak soos die bure se groot seun, Dawie, vertel het hý gemaak het om 'n geleentheid huis toe te kry.

Mense wat in die stofpad agter die bome verbygery het om hul kinders by die seunskoshuis op te laai, het hulle oor my ontferm waar ek my duim heen-en-weer staan en swaai het. Gelukkig was ons adres helder in my kop. My ouma was vreeslik ontsteld toe ek met die vreemde mense by die huis aankom, maar gelukkig het hulle eers tee gedrink en toe hulle ry, was sy nie meer so erg kwaad nie.

“Sussie, ouma se kind mag nooit, nooit ooit by iemand anders as Mamma in die kar klim nie, nè? ” Haar oë was baie ernstig agter die ronde brilglase. “Eendag is eendag dan kom jou pa jou haal en hoe sal ons weet waar om jou weer te kry?”

Tussen die foto’s in 'n stokou album het ek dié een al gesien waar ek op die stoeptrap op my pa se skoot sit. Aan die frons op sy voorkop waarmee hy na my ma kyk wat die foto met haar Brownie neem, kon ek sien dat hy nie eintlik van ons hou nie. Die moontlikheid om weggeneem te word deur 'n vreemdeling, al was dit ook my pa, het my snags laat wakkerlê. Gewoonlik het ek dan my oë styf toegeknyp omdat die hangkas begin lyk het soos iemand wat my dophou.

Eindelik het ek maar die hekpaal gelos, want ek het geskrik vir oom Boeta se gesig wat so anders lyk. Eintlik het ek hom tog goed geken. Vir hom en tannie Ems. Hy was my ma se broer wat in die Vrystaat gebly het. Toe hy weer praat, het die bang, wat my saans met toe oë in die bed laat lê, saam met sy woorde op my gespring. Ek het niks gehoor wat hy sê nie, maar in my kop het ek gesien hoe my Ouma se swart Fleetline Chevie op die treinspoor lê. Flenters soos die dop van die groot swart toktokkie waarop Dawie getrap het. Met my ma en my ouma soos stukkende poppe daarbinne.

Die helder gelui uit die klipkerk se toring ruk ? ander herinnering oop van hoe ek sit en wurg aan trane wat my keel laat pyn. Van hoe ek in die wit rok wat Ant Souf haastig moes prakseer, vasgedruk sit tussen oom Boeta wat sy gesig met 'n groot sakdoek afvee en tannie Ems wat onder haar klein swart hoedjie, met die net oor die oë, na haar hande sit en kyk.

Buite het een van die tantes met opgetrekte wenkbroue na oom Boeta gekyk en haar kop in my rigting geknik.

“Wat nou van dié ene?” Asof ek nie kon hoor nie. “Haar pa sal nou seker...”

“Laat hom net probeer!” het oom Boeta driftig gesê. “Nie eers die ordentlikheid gehad om begrafnis toe te kom nie,” het hy gesnork en my teen sy bene vasgedruk.

Later, voor in die bakkie tussen my oom en tannie, was daar saam met die reuk van pyprook, ghries en plaas nie plek vir die bang nie.

Met die volgende gelui loer ek na my horlosie. Wat het gemaak dat ek vanoggend hierheen afdraai? Die ander wat met die aftree-oord se bussie gery het, kuier al lankal in die warm swembad by die vakansieoord. Hulle is kapabel en begin soek as ek nie nou bel en hulle gerus stel nie. Toe ek my selfoon uithaal, het ek klaar besluit.

Onder die eerste gesang se note gaan ek binne. Toe 'n koel vrede anderkant die houtdeur om my vou, toe weet ek. Dit is goed. Ek moes vanoggend hierheen afdraai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top