Ek is op die punt om my eie pad te gaan.
My man weet hy het ’n drank probleem – hy drink daagliks. Dit is die eerste ding wat hy doen as hy in die huis instap, vir hom ’n drankie gooi. Dit hou nie op voor hy gaan slaap nie, dan drink hy nog ’n slaappil en antidepressante ook.
Ek weet hoe erg depressief hy is – hy het twee jaar terug sy besigheid wat hy 12 jaar opgebou het, verloor. Ons het als verloor, ons huis, ander eiendom en al ons voertuie.
Hy wou nie gehad het dat ek van ons finansiële probleme moes weet nie. Vandat hy my vertel het en dat die Bank toegeslaan het, was presies twee weke.
Hy was toe nege maande sonder werk. Ons het toe in die Kaap gewoon. Hy het toe in Vereeniging werk gekry, vir ’n skamele salaris. Ek kon ’n jaar later eers ’n oorplasing kry.
Hy het my toe laat verstaan dat hy oor sy drankprobleem was, maar toe het niks verander nie. Hy is al ’n alkoholis van 2005 af, alhoewel hy dit eers die laaste jaar erken het.
Ons was 1 Oktober 17 jaar getroud, met twee kinders, ’n dogter van 15 en seun van 13.
Dit is nie ’n plesier om so te leef nie, en ja, my kinders wil ook eerder by maats wees as tuis, veral naweke.
EK het besonderhede opgesoek oor SANCA, maar hoe kan mens reël dat my man 21 dae van sy werk af bly?
Ek is net weer eens so moedeloos nadat ek vandag weer gesien het hoe hy drank in die motor wegsteek en kort-kort skelm gaan drink.
Ek ken die simptome al so goed. Hierdie is my laaste poging.
Ek is moedeloos.


Kommentaar
Ek moet vir jou se my hart gaan uit na jou. My seun was verslaaf aan dwelms en daar is niks wat jy daaraan kan doen sonder dat hy nie besef hy is op die afdraende pad nie. Ek het my seun laat arresteer en hom eerder in die tronk gesien as op straat verkluim en alleen en uitgelewer aan die elemente van buite, daarna het hy kom hulp soek en ek het hom na Sheppards Field naby Port Elizabeth laat gaan wat 'n wonderlike plek en wonderlike mense hul het gehelp en na drie lang jare is my kind nog skoon.
Maar hy het kom smeek vir hulp en toe eers kan ek hom fisies help, jammer maar jy sit met 'n problem wat nie gaan weg gaan tensy hy nie op die harde manier leer nie. Ek as moeder is nie trots op myself maar my kind leef vandag en hy verwyt homself oor wat met hom gebeur het, jou man moet eers heeltemal val en hard val soms gebeur dit nie maar ook hoe help jy hom ... Dit is die vraag jy sal baie hard moet optree hoe moeilik ookal dit vir jou en jou naasbestaandes gaan wees, om heeltyd toe te gee is om vir niemand van hulp te wees nie. Glo my ek was daar.
Hi, ek het ’n seun wat binnekort 37 word en hy is nog getroud en het twee dogters een nege en een 13. Sy vrou en dogters bly by haar ma aan huis en my seun bly by ons. Die probleem is net dat ek voel dat my seun nie drank kan hanteer nie en dat ons verwag van hom om geen drank te gerbruik nie. Dit gaan nou al amper sewe maande so aan dat hy met tye laat by die huis sal opdaag en dan sy drankasem met ’n mondspoelmiddel sal probeer verbloem. Ek en my man is nou al radeloos want hy bly verniet en glo dat hy ons ’n rat voor die oë kan draai.
Goeie dag, my man is 40 maar hy’t n drank probleem. Hy hou op vir ’n maand of twee en dan drink hy weer van voor af en blameer my vir als. Sodra hy weer nugter is is hy baie jammer en wil gehelp word. Hy was by Sanca maar hy drink deur die behandeling. Hy is so wonderlike man maar ’n heel ander mens wanneer hy gedrink het en is besig om my gevoelens vir hom dood te maak al het ek hom baie lief. Ek het hom al probeer skrik maak en gesê ek wil skei en hom na sy ouers toe gestuur maar hy kom smeek elke keer en dan is ek weer sag. Op die stadium lê hy weer hier uitgepass en my arme kind ly daaronder. Ek weet nie wat om te doen nie. Tans is ons by sy ouers se huis sodat hulle my kan help maar as hy nie drank kry nie raak hy aggressief so mens kan nie anders as om net toe te kyk hoe hy drink nie. Asb het iemand vir my raad? Op die stadium wil ek net ry en sy goed gaan pak by die huis en sê ek’s nou klaar maar aan die ander kant wil ek hê hy moet regkom sodat ons ’n normale gelukkige toekoms saam kan hê ... Rehabilitasiesentrums is onbekostigbaar vir ons almal en ek dink dis al wat gaan werk. Hy’t homself uit sy werk uit gedrink en op die stadium moet ek survive met my salaris. Asb enige raad wat ek moet doen?
My man drink ook erg ek ook al moedeloos.
My vrou is elke aand gesuip.
Ek bid vir jou, Adele en almal wat so 'n man of vrou het. Kontak jou naaste AA (Alkoholiste Anoniem). Hulle help gratis. Gaan kerk toe, die gemeente sal jou ondersteun en vir julle bid en God sal help.
My ou is ook verslaaf aan drank ek is ook net so moedeloos. Nou is ons kind ook weggevat deur welsyn. Sy bly in pleegsorg. Mense, dis glad nie maklike vir my nie. Ek mis haar elk dag en dit breek my hart. Al wanner ek haar mag sien, is net op Woensdae. Het hom al gesê as hy nie op hou gaan drink nie, gaan ons kind weggevat word. Toe se hy: Nee, hulle sal haar nie vat nie. En kyk hulle het, maar sy oë gaan nogsteeds nie oop nie. Op die ou eind gaan hy alleen wees, want ek raak nou gatvol. Hy leen geld vir drank en hy betaal ook vir seks. As ek hom daar oor uitvra, dan sê hy is nie waar nie. Al wie hom sal kan help, is die Here.
My man is ook 'n alkoholis. Ons is Desember 9 jaar getroud met 3 kinders asook 2 van hom voor ons huwelik. My man begin van 4uur die middag drink wanneer ons albei by die huis kom, tot saans oor 12 in die nag. Naweke staan hy voor 7 die oggend op om te drink. Hy gaan slaap waneer hy nie meer op sy bene kan staan nie. Hy lieg oor sy finansies. Ek moet al ons groot skuld betaal, want hy kan my nie met dit help nie, omdat sy drankskuld sy totale pay oorheers. My man raak baie onbeskof voor die kinders met my en sê die lelikste goed vir my. Ons het 'n 15-jarige seun aangeneem. My hart breek wanneer hy lelik met my is voor hom ook, want die kind kom reeds uit 'n huishouding waar sy ouers baklei. Watter voorbeeld is ons vir hom? Ek kan regtig nie meer daarmee cope nie. Hy ruik elke aand soos 'n shebeen langs my, deur al sy onbeskofte maniere verwag hy ek moet nog dieselfde voel en liefdevol optree, asook liefdemaak. Ek versmoor in my huwelik.
Ek is moedeloos gepraat en mooi gevra, baklei. Niks help nie. Maak nie saak wat ek doen of sê nie. Volgens my man het hy nie 'n drankprobleem nie. Al drink hy tussen 2 tot 8 doppe 'n aand. Partykeer drink hy eers 2 biere en slaan dan oor whisky toe. Hy het my al in die skande gesteek by kuiermense omdat hy te veel gedrink het en nie weet waar om op te hou nie. Hy vergeet ook dat hy nie kan onthou nie. Hy ontken doodeenvoudig dat hy 'n probleem het. Sy redenasie is sy huis kort niks en hy sorg goed vir my. My geduld is besig om baie kort te raak en sy drankgebruik maak my ongeskik en dan stoot ek hom weg. Ek sien nie kans vir so lewe en dit op 39 jaar se getroude lewe nie. Wat moet ek doen?