Toets jou begrip

  • 0

Ouers, onderwysers, leerders of nuuskieriges kan hierdie gratis begripstoets benut. Dit is opgestel deur Marieta Nel volgens die onderwysdepartement se nuutste riglyne.

Hier word van twee tekste gebruik gemaak. Die tweede teks is ’n visuele een. Dis in pas met die huidige tendens waar daar ’n langer teks (24 punte) en ’n korter grafiese teks (6 punte) gevra word. Daar moet een of ander verband tussen die tekste wees.

Die standaard is ongeveer gemik op leerders van graad 10-Afrikaans Huistaal, maar enige een kan hierdie begripstoets gebruik as ’n uitdaging.

Begripstoets 

Teks 1

Hierdie teks word voorgelees by die eerste Diktee vir Afrikaans wat op 4 Oktober 2025 gehou is.

Die kus
Izak de Vries

  1. Die kus is ’n plek van ontmoeting. Branders omhels soms rotse, of sprei hulself behaaglik uit oor plat strande.
  2. Dikwels word daar goeters uitgespoel, soms mense ook.
  3. Die storie van Afrikaans het juis begin met seevaarders wat aan wal gekom het ná lang seereise. Ons land se eerste inwoners het hulle verwelkom. ’n Skaap is vir krale geruil, ’n os vir ’n broodmes. Daar is onderhandel, daar is gepraat. Vreemdes het mekaar ontmoet, hulle moes mekaar leer verstaan. Nuwe woordeskat is aangeleer daar op die strand.
  4. Soms was die see kwaad. Dan is skepe verwoes en mense gedood aan die kus.
  5. Soms was die mense kwaad. Dan is oorlog gemaak en mense sou sterf aan die kus.
  6. Sou die see dalk hartseer wees elke keer as slawe van skepe gelaai en op die strand soos skape opgeveil is?
  7. ’n Mens sou wonder of die see omgegee het toe ’n nuwe taal ontstaan het daar in die omtes van Tafelbaai? Was die see dalk jaloers toe Afrikaans sou uitwaaier na die binneland?
  8. Afrikaans is gevorm in die monde van ons eerste inwoners: die setlaars, hul slawe, soldate, klerke en boere. Was die see afsydig toe al hierdie nuwe klanke ’n honderd jaar gelede amptelike status sou kry?
  9. Afrikaans het mooi geword in die monde van ons digters, romansiers, dramaturge, onderwysers, handelaars, knutselaars en akademici. Sou die branders tydens ’n springgety dalk uitspattig hard wou raas oor die hoogtes wat ons taal kon bereik?
  10. Dalk, maar ... Ja, daar is ’n maar, want digters soos Ingrid Jonker sou ook die see moes gaan vertel van die vuiste wat in woede gelig is teen Afrikaans.
  11. Ons sou dus kon wonder: Was die see ook hartseer toe Jonker daardie donker aand teruggestap het, oor die kus, die diep waters in?
Teks 2

Vrae oor Teks 1

  1. Na watter kus word in hierdie teks verwys? (1)
  2. Bespreek die volgende stelling: Die kus word verpersoonlik in paragraaf 1. (2)
  3. Hoe, wanneer en waar het die storie van Afrikaans begin? (3)
  4. Wat het gebeur wanneer die see kwaad was? (2)
  5. Wat het gebeur wanneer die mense kwaad was? (2)
  6. Wat sou die see waarskynlik hartseer maak? (2)
  7. Gee sinonieme vir die volgende:

7.1          omtes: In die omtes van Tafelbaai. (1)
7.2          uitwaaier: Afrikaans sou uitwaaier na die binneland. (1)

  1. Hoekom, dink jy, sou die see jaloers kon wees as Afrikaans ook in die binneland gepraat word? (2)
  2. Motiveer die volgende stelling: Afrikaans is deur gewone mense geskep. (2)
  3. Hoekom, dink jy, sou die see afsydig wees oor Afrikaans se 100-jarige status? (2)
  4. Wat, dink jy, het gelei tot onderskeidelik Afrikaans se hoogtepunte en sy laagtepunte? (2)
  5. Na watter twee groot vieringe rondom Afrikaans wat vanjaar herdenk word, word in hierdie teks verwys? (2) 

Vrae oor beide tekste

  1. Wat is die verband tussen die twee tekste? (2)

Vrae oor Teks 2

  1. Wat word hier geadverteer? (2)
  2. Bespreek die gepastheid van die illustrasie. (2)

/30/

Antwoorde

Vrae oor Teks 1

  1. Die Kaapse kus of die Suid-Afrikaanse kus. (1)
  2. Die kus het menslike eienskappe in paragraaf 1, want die branders omhels die rotse en sprei hulle behaaglik uit oor die strand. (2)
  3. Afrikaans het ontstaan as gevolg van die kontak tussen die seevaarders en die plaaslike bevolking. Dit het al baie meer as 100 jaar gelede aan die Kaapse kus ontstaan met al die seereise wat hier plaasgevind het. (3)
  4. Skepe is verwoes en mense het gesterf. (2)
  5. Hulle het oorlog gemaak en mense het gesterf. (2)
  6. Wanneer skepe slawe vervoer en hulle dan opgeveil word. (2)

7.1          omtes: omgewing (1)
7.2          uitwaaier: versprei (1)

  1. Afrikaans het by die see ontstaan. (2)
  2. Dis gewone mense soos setlaars, hul slawe, soldate, klerke en boere wat Afrikaans die eerste keer gepraat het. (2)
  3. Die see weet dat Afrikaans al baie ouer as 100 jaar is. (2)
  4. Die hoogtepunte is Afrikaans se pragtige letterkunde en die laagtepunte is swart mense wat gedwing is om Afrikaans te praat, wat gelei het tot die Soweto-opstand van 1976. (2)
  5. Afrikaans se 100-jarige bestaan en Ingrid Jonker wat 60 jaar terug oorlede is. (2)

Vrae oor beide tekste

  1. Beide handel oor die eerste Afrikaanse diktee: die een is die uitnodiging en die ander een is die teks wat gelees gaan word. (2)

Vrae oor Teks 2

  1. Die eerste Afrikaanse diktee en die lesing oor Nederland se koloniale verlede. (2)
  2. Dis besonder gepas. Die bootjie simboliseer die Nederlanders se reise oor die aardbol en sluit aan by die tema: “Op reis in taal.” (2)

/30/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top