Skimme

  • 1

Foto: Canva

Skimme

daar was nooit baie mense nie
slegs skimme op waterlose plekke
wat gedryf het op winde wat verby waai
die paar mense was kosbaar, naby mekaar,
terwyl die skimme slegs skaduwees was
wat nie saak gemaak het nie

ons weer

was sorry vir alles
wat verkeerd gegaan het
wat ons nie kon help nie
paadjies was vol duwweltjies
strate was verlate leeg en stil

ek mis jou, jy wat my gebaar het
te midde van die hel
die hoogwater, met seebamboes
wat so uitgespoel het

terwyl stilte ’n geraas was
die kinders op die bus
’n gespot was
om my in ’n hoek vas te keer
sodat ek moes veg, vir alles
skuil en wegkruip, vir alles

in die berge en die vlei
waar die voëls vir my gesing het
dat alles eendag sal regkom
as ek eendag hier wegkom

wat gebeur het sodat ek vandag
my dood verlang
na die voëls se gesing
in die vlei, in die berge,
die duine en die see

terwyl skimme dwaal om skimme te bly
ek en jy is nog steeds lewendig

al is jy al lankal dood
jy is nog hier by my,
Mammie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top