Fragmentering of holisme?

  • 0

Sedert Wouter se terugkeer op SêNet skaars 'n week gelede is daar heelwat op die hoofwerf en in die reaksies geskryf. Ek gaan hiermee die saak wat my betref probeer afhandel en gaan nie hier moeite doen met spesifieke verwysings nie, maar hulle kan indien nodig verskaf word.

'n Olifant bestaan uit agt dele: 'n slurp, kop, lyf, stert en vier bene. Sonder hierdie dele is daar nie 'n olifant nie. Maar die olifant is nie net hierdie dele nie. Die olifant is hierdie dele saamgevoeg op 'n bepaalde manier en meer as net dit, want die dele moet op so 'n manier saam funksioneer dat die voorwerp 'n lewende olifant is. Hierdie voorbeeld illustreer die verskil tussen 'n fragmentaris en 'n holis. As 'n mens se kennis op die naslaan van brokkies inligting op die internet gebaseer is, kan dit besonderhede binne 'n geheel verhelder. As 'n mens insig in 'n geheel verlang, is die aangewese weg om substansiële, gesaghebbende werke oor die onderwerp te lees. Hierdie twee benaderings vul mekaar aan.

Toegepas op wat in 1990-1994 in Suid-Afrika gebeur het, kan nuttige besonderhede op die internet nageslaan word, maar dit sou verskralend en selfs misleidend wees as net hierop gesteun word. Vir insig is dit noodsaaklik dat omvattende, gesaghebbende werke in hulle geheel krities bestudeer word. Tydens die debat het ek na verskeie boeke verwys, maar ek gaan hier net twee uitsonder.

Johnson is 'n liberalis in die Britse tradisie. Hy het geen goeie woord vir apartheid nie, maar hy laat na om uit te wys dat apartheid wesenlik 'n voortsetting en ontwikkeling van die Britse segregasiebeleid is. Die belangrikste kennis wat sy boek vir my opgelewer het, is in hoe 'n mate die huidige regstelsel die ANC ter wille is.

Giliomee is sekerlik nie 'n verkrampte nie. Dit is vir hom belangrik dat sy vertolkings die toets van die tyd moet deurstaan. Sy boek het veral twee dinge by my tuisgebring. Eerstens dat die twee staatshoofde wat deesdae die ergste gedemoniseer word, Hendrik Verwoerd en PW Botha, juis die mense is wat ernstig oor apartheid besin, 'n visie van die toekoms gehad en sinvolle ewolusionêre veranderings aangebring het. Tweedens dat FW de Klerk se magsdeling stap vir stap afgebreek is totdat daar niks van oorgebly het nie. Omdat De Klerk nog lewe, het Giliomee hom grootliks van 'n waardebepaling weerhou.

Die punt wat ek wil stel, is dat enigeen wat sinvol aan 'n debat oor 1990-1994 wil deelneem, ten minste boeke soos die genoemde twee moes gelees het. Brokkies inligting daaroor is nie genoeg nie; des te meer as jy nie die gebeure persoonlik meegemaak het nie.

Ek het Wouter eers sover probeer kry om onafhanklik van maar gelyktydig met my verslag oor boeke te doen en onlangs dat hy na my op 'n soortgelyke manier oor dieselfde boek skryf. Hy het albei toetse geweier, al het hy aanvanklik voorgegee dat hy in eersgenoemde geval 'n bydrae gelewer het. Nou erken hy dat daar nie so iets was nie en dat hy ook nie, soos hy onlangs beweer het, oor 'n ander outeur iets gepubliseer het nie. Ek gaan nie hieroor kraai nie. Ek gaan my nie verlustig in die gevolgtrekkings wat hieruit gemaak kan word nie. Ek prys hom eerder vir sy grootmoedige erkenning. Dit sou immers baie makliker gewees het om die saak dood te swyg.

Die gebeure hou lesse vir ons almal in, bv dat liewer sagkens gekritiseer moet word, dat redes vir 'n opinie verstrek moet word, dat daar eerder samewerkend as konfronterend gedebatteer moet word. 'n Negatiewe mening is gelug omdat ek soms oor die Britse hoëlui skryf. Ek dink ek mag dit maar doen as dit een van my belangstelling is om bv na te gaan hoe hulle lewens verstrengel was. Dit sou veel makliker wees om bv 'n brief oor een van die Fifty Shades-boeke, wat nou so in die mode is, belaglik te maak. Eintlik behoort outeurs eerder ruimte gegun te word om oor enigiets op SêNet te skryf as dat hulle uit vrees vir onbillike kritiek verplig voel om te swyg.

SêNet is 'n openbare forum, maar hy sal beter wees as daar meer welwillendheid is.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top