Namaste!
'n Ryk grondeienaar op die platteland het net een kind gehad, en omdat hy sy kind so liefgehad het, het hy hom vir 'n jaar of twee, drie, na die beste Universiteit gestuur om slim te word.
Een vakansie kom die student na sy vader se huis om te kom ontspan na al sy studie.
Dit gebeur toe dat die vader, moeder, en die gemelde jong student een aand gaan uiteet. Op die tafel was daar twee heerlik vet gebraaide hoenders. Toe sê die vader; "My seun, ek het al 'n aardige sommetjie uitgegee om jou te laat studeer, en ek sou graag wil weet wat jy al geleer het."
Toe antwoord die seun: "Ek het sofistery gestudeer, Vader, en deur middel van daardie wetenskap het ek spirituele intelligensie vermag. Ek kan bewys dat hierdie twee hoenders in die bak, drie hoenders is."
"Goeie genugtig," roep die vader, "dit sal ek graag wil sien."
Die student neem een van die hoenders in sy hand en sê: "Kyk, hier is een hoender." Toe neem hy albei hoenders in sy hand en sê: "Hier is twee hoenders; en een en twee maak drie. Dus is hier drie hoenders."
Die vader neem toe een van die hoenders vir homself en gee die ander vir sy vrou. Toe sê hy: "Nou kyk, ek neem een van die hoenders as my deel, jou moeder kry nog een, en omdat jy so slim geredeneer het, kan jy die derde een kry - want vanaand is hier nie ander vleis nie."
Die vader het hom aan sy woord gehou, en die slim spiritueel intelligente student met al sy sofistery was sy maaltyd kwyt.
Hierdie staaltjie bewys net dat dit louter dwaasheid is om iemand wat geen gesonde verstand het nie, skool toe te stuur om die fyn kuns van haarklowery te leer.
Dis duidelik dat hier 'n hele paar "spiritueel intelligentes" op die werf is wat vele maal gaan honger slaap het, juis jeens hul slimmigheid.
Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,
Cornelius Henn