Piet Croucamp kies sy gunsteling kuber-kuierplekke

  • 0

Hierdie week kies Piet Croucamp sy gunsteling-kuierplekke op die wêreldwye Web.

Piet Croucamp is verbonde aan die Departement Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg. Hy het ’n DPhil van die Universiteit van die Vrystaat en doseer sedert 1994 voor- en nagraadse kursusse aan verskeie universiteite.

Sy navorsingsbelangstelling is hoofsaaklik die kwantifisering van sosiale konsepte en meetbaarheid van sosiale kohesie.

1. Richard Dawkins.net

Die webtuiste van Richard Dawkins is onontbeerlik as jy op hoogte wil bly met die wetenskap – veral evolusionêre biologie en astronomie, asook die diskoers met betrekking tot geloof en niegeloof. Daar is hordes lewendige gesprekke om te volg, verskeie daarvan in die vorm van YouTube-video’s of selfs live streaming.

2. Mail & Guardian

As die tuiste van Suid-Afrika se enigste ondersoekende joernalistiek is die M&G steeds ’n relatiewe vreugde. Die koerant se webblad sit my dikwels op die spoor van politieke tendense wat ek dan in groter besonderhede vanuit ander bronne kan navors.

3. Scientific American

Daar mag ander ewe goeie of selfs beter webblaaie wees wat wetenskap vir dummies soos ek verteerbaar maak, maar my gunsteling is Scientific American. Teen R100 per uitgawe is dit vrek duur om aan te skaf en ek verlaat my hoofsaaklik op die tydskrif se webwerf. Vir sommige artikels is daar ’n fooi te betale.

4. NASA

As die wonder van die ruimte en astronomie jou fassineer, is Nasa se webblad ’n bron van lewenslus. Jy kan letterlik die hele dag daarop spandeer, en dis so verteerbaar soos om ’n boek te lees. Die grafika, video’s en gesprekke plaas jou frontale lob in ’n verruklike wentelbaan.

5. Dorper Sheep Breeders Society of South Africa

Ek kan nie die ongelooflike kwaliteit dorperskaap bekostig wat op hierdie webblad te sien is nie, maar hoe begin jy ’n dag in Johannesburg as jy nie jou skaap kan hoor blêr nie? Jy lees teen douvoordag http://www.dorpersa.co.za terwyl jy luister na ’n kasset met dorperooie wat aanhoudend na hul lammers roep.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top