
Foto: Canva
Op jou vlug na môre
op jou vlug na môre
het gister agtergebly
om die huis op te pas
terwyl jy gevlieg het
oor gevoelens
deur gedagtes
wat jou grootgemaak het
in jou gees
wat altyd so gedwaal het
tussen netnou en vir ewig
om die skat te vind
wat ek sien,
jou nog ontglip
terwyl jy oor die saailand loop
waar dit versteek is
soms moet ons ly
om te leer
of leer
om te ly
alles het ’n prys
dit is al bewys
elke voorwaarde
het ’n belofte
wat jy eers kry
as die voorwaarde betaal is
met jou lewe
jou lied en jou hart
omdat liefde
nie goedkoop is nie
leed is soms seer
as jy die kans verbeur
omdat jy nie geluister het
toe ek gewaarsku het nie
oor vergifnis en oordeel
hulle loop hand aan hand
oor dieselfde land
waar die skat versteek is
op jou vlug na môre

