Langs die pad gekry

  • 0

Foto: Canva

Langs die pad gekry

eendag langs die pad
het ek jou gekry
toe ek verby gister geloop het
op my pad na myself
ek was effens van stryk
omdat jy anders was
as al die ander

jy het deur my gekyk
na iets anderkant my
dalk jou eie seer
net jy sal weet
ek het jou gegryp
styf vasgehou
teen my lyf
jou geskryf

totdat ek warm gekry het
stadig het ek teruggestaan
op my eie missie
met wat ek kon sien
daar voor in die mis
toe is ek daar weg

jy is woorde
wat kon vleg
om ’n mandjie te maak
vir Moses
sodat hy kon dryf
teen die Nyl af
om gevind te word

grootgemaak te word
in Egipte
die land van oorvloed
aansien en dood

toe het ek omgedraai
teruggeloop
na Niemandsland
waar ek tuis was
omdat niks
wat iets word
sal verderf en verdwaal
in sy eie ego nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top