
Wat ek nie sou gee om die Harry Potter-boeke weer vir die eerste keer te kan lees nie. Obliviate sou die perfekte towerspreuk hiervoor wees – om te vergeet dat ek ooit die boeke gelees of die flieks gekyk het en weer vir die eerste keer weggevoer te word na die wêreld waarheen ek dikwels tydens my jeug ontsnap het.
In die klein Weskusdorpie waar ek grootgeword het, was daar nie veel om ’n skoolkind mee besig te hou nie, maar daar was ’n biblioteek. Daar was nie altyd die beste of die nuutste boeke nie, maar dit was vir my genoeg dat hulle omtrent al die Maasdorp-, Reënboogrant- en Sweet Valley-boeke gehad het. En natuurlik Harry Potter – in Engels én in Afrikaans!
Aangesien ek reeds tydens my skooljare JK Rowling1 se hele reeks twee keer in Engels en een keer in Afrikaans deurgelees het, was ek baie opgewonde toe ek onlangs hoor die Afrikaanse reeks word vanjaar met ’n paar aanpassings heruitgegee.
Hoekom is Harry Potter steeds so gewild?
Volgens ’n bibliotekaris by ons plaaslike biblioteek word die Harry Potter-boeke steeds gereeld uitgeneem – die Engels wel meer as die Afrikaans. Volgens haar word die boeke gewoonlik uitgeneem deur jong ouers wat as kinders self die reeks gelees het en nou hulle kinders daaraan wil bekendstel.
Daar moet ’n rede wees waarom die reeks, waarvan die eerste boek in 1997 verskyn het, steeds so gewild is, selfs onder volwasse lesers.
........
Hoe vreemd en onwerklik die konsep van ’n skool vir towerkuns en heksery ook al is, is die universele temas van goed en kwaad, trauma, buitestanderskap, vriendskap, en liefde wat alles oorwin in die storie verweef.
........
Benewens die bydrae van die films, wat uitstekend gemaak is en die wêreld van die boeke baie akkuraat uitbeeld, glo ek dis die temas wat mense aangegryp het en bygedra het tot die gewildheid van die storie. Hoe vreemd en onwerklik die konsep van ’n skool vir towerkuns en heksery ook al is, is die universele temas van goed en kwaad, trauma, buitestanderskap, vriendskap, en liefde wat alles oorwin in die storie verweef.
In die wêreld van kostuumspel (“cosplay”) het Rowling se baie volledige beskrywings van karakters en hulle persoonlikhede dit moontlik gemaak vir entoesiaste om soos hul gunstelingkarakters aan te trek en selfs hulle maniertjies na te boots. Die karakters se klere en towerstawwe en ander gebruiksitems uit die boeke en films is vrylik beskikbaar.
Harry Potter het baie min bedrywe onaangeraak gelaat. Jy kan Harry Potter-handelsware van enige aard kry – van koffiebekers en notaboeke tot kledingstukke en juweliersware. As jy ’n Harry Potter-partytjie wil hou, sal jy duisende idees op Pinterest opspoor. Daar is selfs ’n emmerskoplys van plekke in die VK waar gedeeltes van die films geskiet is en wat jy kan besoek.
Vertaling in Afrikaans
Die eerste drie boeke in die reeks se eerste Afrikaanse uitgawes het in 2000 verskyn. Janie Oosthuizen het die eerste vyf boeke vertaal, en Kobus Geldenhuys die laaste twee. Afrikaans is een van 85 tale waarin die reeks vertaal is. Die nuwe Afrikaanse boeke spog met die jongste tekeninge deur Jonny Duddle, wat ook op die omslae van die mees onlangse Engelse Bloomsbury-uitgawes verskyn.
Een van die voordele van die vertaling van so ’n bekende en gewilde boekereeks is dat dit kinders kan aanmoedig om in Afrikaans te lees. Omdat die beelde en karakters van die storie wêreldwyd bekend is, gee dit kinders ’n hupstoot – hulle hoef nie die wêreld van voor af te verbeel nie, maar het al ’n grondslag en ’n basiese idee van hoe alles lyk. Indien kinders reeds die flieks gekyk het, sal hulle gretig wees om die boeke te lees vir al die brokkies wat nie by die flieks ingesluit is nie.
........
Dit verskaf verskriklik baie genot om te sien hoe die vertaler die name van onder andere kosse en voorwerpe hanteer het. Dit herinner jou aan die veelsydigheid en beskrywende aard van Afrikaans.
........
Dit verskaf verskriklik baie genot om te sien hoe die vertaler die name van onder andere kosse en voorwerpe hanteer het. Dit herinner jou aan die veelsydigheid en beskrywende aard van Afrikaans. Bertie Bott’s Every Flavour Beans is byvoorbeeld vertaal as Bertie Bott se Allegeurtjiebone, en die Snitch is vertaal as die Snip, die perfekte benaming vir dié ontwykende goue balletjie met vlerke wat Harry as Soeker in die spel Kwiddiek (’n opwindende spansport waar die spelers op besems vlieg) moet vang.
Die grootste, en beste, aanpassing sedert die vorige Afrikaanse uitgawes is die behoud van die karakters se oorspronklike Engelse name. Kinders wat nou vir die eerste keer ’n Harry Potter-boek optel, het waarskynlik reeds die flieks gekyk óf iewers van die karakters gehoor; name soos Hermione en Dumbledore is nie meer so ongewoon dat hulle in die Afrikaanse boeke Hermien en Dompeldorius genoem hoef te word nie. Dit is egter nie kritiek teen die vertaling van karakters se name in die eerste uitgawe nie. Daardie vertalings het kort op die hakke van die oorspronklike boeke verskyn en ek glo nie dat enige vertaler op daardie stadium sou kon voorspel het hoe gewild die boeke en karakters wêreldwyd sou word en vir hoe lank daardie gewildheid sou voortduur nie.
Ek weet ’n mens moenie ’n boek op sy baadjie takseer nie, maar ek wil tog noem dat boeke wat in kinders se hande gaan beland en moontlik meer as een keer gelees gaan word, ’n stewiger, windbestande baadjie moet dra. Hierdie nuwe boeke dra egter ’n ligte truitjie wat baie vinnig en maklik sal verniel. Hier en daar begin die glanslaag op die omslae reeds omkrul. Daar is nie kinders wat aan my kopieë gaan vat nie, en tog is ek van plan om die boeke met plakplastiek oor te trek om seker te maak die omslae bly netjies.
Volgens die bibliotekaris na wie ek vroeër verwys het, is die grootte van die boeke effens problematies (groter as die standaard vir soortgelyke boeke) en is hulle vooraf daarvan in kennis gestel sodat hulle kon beplan waar en hoe die boeke op die biblioteek se rakke gaan staan.
Die eerste drie boeke
Harry Potter en die towenaar se steen
JK Rowling, vertaal deur Janie Oosthuizen
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184380
In hierdie boek maak ons kennis met Harry Potter, ’n verwaarlooste jong seun wat in die kas onder die trappe in sy oom en tannie se huis bly. Sy gruwelike, bedorwe nefie, Dudley, benut elke kans om Harry se lewe moeilik te maak. Harry kan dinge doen sonder om te probeer, en dinge wat hy nie heeltemal verstaan nie, soos om ’n venster by die dieretuin te laat verdwyn en met slange te praat. Kort voor sy 11de verjaarsdag begin Harry briewe ontvang wat deur uile afgelewer word. Ten spyte van sy oom se pogings om die briewe te onderskep, kry hy uiteindelik die boodskap dat hy toegelaat is tot die Hogwarts Skool vir Towerkuns en Heksery – die skool waar sy ouers hul opvoeding ontvang het.
Die Sorteerhoed, wat alle eerstejaars in een van die vier huise by Hogwarts plaas, se lied (75–6) lees besonder lekker in Afrikaans:
Jy dink dalk ek is oud en lelik,
Maar hoe dit ook al sy,
Ek eet myself so wraggies op,
As jy ’n vietser hoed kan kry.
[...]
Dalk is Gryffindor jou tuiste,
Met die dapperes van hart,
Hul waagmoed en hul hoflikheid
Plaas hul eenkant, apart.
Miskien hoort jy in Hufflepuff.
Regverdig en getrou,
Geduldig, lydsaam, eerlik,
Hulle sal handhaaf en bou.
Vir die flinkes van verstand,
Is daar wyse Ravenclaw,
Met geestigheid en met vernuf,
Smee hulle bande wat hou.
Miskien hoort jy in Slytherin,
Dalk is jou makkers hier,
Want hier is mense, slinks en slu,
Gewoond hul kry hul sin.
So vat die kans en sit my op!
Vir my kan jy beslis vertrou,
Ver en wyd sal my gedagtes loop,
Maar kop sal ek vir seker hou.
Harry vind mettertyd uit wat met sy ouers gebeur het en maak vir die eerste keer kennis met Voldemort, die donker towenaar wat hul lewens geneem het. Hy doen dit egter nie alleen nie; sy twee maats, Ron en Hermione, is net so gretig om uit te vind wat Hagrid in ’n klein pakkie by Gringotts, die towenaarsbank, gaan haal het en hoekom dit by die skool bewaar word.
Om die donker dele van die storie af te wissel, is daar onder andere heerlike etes, Kwiddiekwedstryde, nuwe towerspreuke en portrette met inwoners wat beweeg.
Dumbledore sê die volgende in een van die laaste tonele (193) en som daarmee die kern van die boek op:
Jou ma het gesterf om jou te red, Harry. As daar een ding is wat Voldemort nie kan verstaan nie, is dit liefde. Hy het nie geweet dat liefde so sterk soos jou ma s’n vir jou, ’n merk op ’n mens maak nie. Nie ’n litteken nie, geen sigbare teken nie ... maar as iemand ’n mens so diep liefgehad het, is so ’n mens vir ewig beskerm, selfs al is die persoon dood. Dit lê diep in jou.
Harry Potter en die kamer van geheimenisse
JK Rowling, vertaal deur Janie Oosthuizen
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184397
Dis Harry se tweede skooljaar, maar Dobby die huiself is vasbeslote om te verhoed dat Harry na Hogwarts terugkeer. Hy glo Harry is in gevaar.
Ten spyte van Dobby se pogings kom Harry gelukkig ongedeerd in die takke van die Woelige Wilg by die skool aan (alhoewel mens nie dieselfde kan sê van die vlieënde kar waarmee hy en Ron die vlug van Londen af aangepak het nie). Kort voor lank verskyn daar teen mure boodskappe wat met bloed geskryf is; Harry hoor ’n liggaamlose fluisterstem wat net hy kan hoor; mense word Versteen; en Ginny, Ron se sussie, is die slagoffer van Voldemort wat in die gedaante van ’n dagboek verskyn. Meneer Weasley, Ginny en Ron se pa, gee sinvolle raad (213):
“Ginny!” sê meneer Weasley verbyster. “Het ek dan niks vir jou geleer nie? Wat sê ek nog altyd vir julle? Moet nooit iets vertrou wat kan dink, as jy nie kan sien waar sy brein is nie.”
Ten spyte van die joviale maar korrupte onderwyser en skrywer Gilderoy Lockhart wat probeer om hul planne in die wiele te ry, neem die driestuks dit weer op hulle om die raaisel op te los en die skuldige agter die aanvalle te ontmasker.
Dit is weer eens Dumbledore (216) wat ons laat met die boodskap van die boek:
Dit is ons keuses, Harry, wat wys wie en wat ons werklik is, baie meer as ons eienskappe.
Harry Potter en die gevangene van Azkaban
JK Rowling, vertaal deur Janie Oosthuizen
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184403
Harry Potter se derde jaar by Hogwarts word wéér voorafgegaan deur ’n waarskuwing oor sy veiligheid – dié keer omdat die vermeende massamoordenaar Sirius Black uit Azkaban, die towenaarstronk, ontsnap het. Die Dementors, die wagte van Azkaban, kom na Hogwarts omdat die teorie is dat Black waarskynlik daar vir Harry sal kom soek – hy het Harry se ouers bedrieg op die dag waarop hulle vermoor is en wil waarskynlik vir Harry ook doodmaak.
Harry moet ’n baie gevorderde towerspreuk baasraak om die Dementors te beveg, aangesien die trauma van die moord op sy ouers veroorsaak dat hulle ’n buitengewoon negatiewe uitwerking op hom het.
Die Plunderaars se Kaart maak in hierdie boek sy eerste verskyning. Wat soos ’n ou stuk perkament lyk, kan met die regte towerspreuk ’n kaart van die skool te voorskyn bring waarop daar aangedui word wie op daardie tydstip waar is. Op die kaart word daar ook geheime tonnels aangedui – hy kan dit gebruik om saam met sy vriende na die dorpie Hogsmeade te gaan, aangesien ’n ouer of voog nie sy toestemmingsbrief onderteken het sodat hy mag saamgaan nie.
In hierdie boek is daar ’n weerwolf, ’n rot en ’n swart hond, en Harry, Hermione en Ron moet uitvind wat die drie met mekaar te doen het. Met die hulp van ’n Tyddraaier kan hulle selfs ’n lewe (of twee) red.
Kritiek en raad
Ek onthou van die kritiek teen die boeke destyds. Sommige mense het gevoel die temas is te donker vir die jong lesers op wie die reeks gemik is. Uit ’n onlangse brief wat op Netwerk24 verskyn het, kan ek aflei dat sommige mense steeds so voel. In dié brief lê Suzette Theron ’n verband tussen die Harry Potter-boeke en ’n skoolkind wat drie onderwysers wou skiet. Sy bestempel die uitbeeldings van wanorde by die skool in die reeks as “’n [s]ubtiele aanslag op die brein van kinders”.
Buiten al die moontlike redes hoekom ’n kind met ’n vuurwapen by die skool sal opdaag en medeleerders en/of onderwysers sal wond of doodmaak, is die vraag wat aan my krap wanneer ek sulke opinies lees of ouers bewus is van die inhoud waartoe hulle kinders op stromingsdienste en sosiale media en in rekenaarspeletjies toegang het. Dit is ’n onderwerp wat op almal se lippe is. Jongmense word gebombardeer met inligting en veral negatiwiteit. Baie daarvan het te make met ondenkbare dinge wat in die werklikheid gebeur. Die beste wat ons kan doen, is om met kinders te praat en hulle te help om ’n gebalanseerde wêrelduitkyk te hê. Daar is geen lig sonder donker nie.
My raad wanneer dit kom by die Harry Potter-reeks is om kinders toe te laat om saam met die karakters groot te word. Kinders hou daarvan om boeke te lees met karakters wat dieselfde ouderdom as hulle is. In die eerste boek is Harry en sy vriende 11 jaar oud, so ek dink dit is ’n goeie ouderdom vir jou kind om die eerste boek te lees. As hulle dan ’n boek per jaar kry om te lees, word die karakters teen dieselfde pas ouer en is die kind emosioneel op die regte vlak soos wat die temas in die boeke swaarder begin word. In ’n wêreld van kitsbevrediging waar reekse se episodes gelyktydig op stromingsdienste vrygestel word, is dit ’n byvoordeel as jou kind geduldig ’n jaar moet wag vir die volgende boek (soos ons in die ou dae gedoen het toe die boeke vir die eerste keer verskyn het!).
........
In ’n wêreld van kitsbevrediging waar reekse se episodes gelyktydig op stromingsdienste vrygestel word, is dit ’n byvoordeel as jou kind geduldig ’n jaar moet wag vir die volgende boek (soos ons in die ou dae gedoen het toe die boeke vir die eerste keer verskyn het!).
........
Nog ’n lekker idee is om die boeke sáám met jou kind te lees. Jy kan dit vir hulle voorlees, of hulle kan dit vir jou voorlees. Op daardie manier beleef julle die storie saam, kan julle daaroor gesels en is die geleentheid daar om enige emosies wat opduik te bespreek. Dit gaan ’n hele ruk vat om een van die boeke hardop deur te lees, wat dan ook die wagtyd tot die volgende jaar se aflewering verkort.
Daar is lieflike besprekingsgidse op Bloomsbury se webwerf beskikbaar wat vir ouers en onderwysers leiding kan bied wanneer hulle met kinders oor die boeke praat.
Ten slotte
Ek is dankbaar dat die Harry Potter-reeks in Afrikaans beskikbaar is. Nie net is dit ’n aanduiding dat Afrikaans lewend is nie, maar maak dit hierdie lieflike stories met belangrike lewenslesse meer toeganklik vir Afrikaanse kinders (én volwassenes), veral dié wat soms nodig het om aan die werklikheid te ontsnap.
Eindnota
1 JK Rowling het gedurende die afgelope paar jaar omstrede uitlatings oor transgender mense gemaak. Haar uitsprake het egter nie Harry Potter-boekverkope negatief beïnvloed nie (inteendeel, verskeie nuuswebwerwe berig dat die verkope in 2023 met 15% gestyg het vergeleke met die vorige jaar), en aangesien hierdie bespreking oor die boeke (en vertalings daarvan) handel, val haar kommentare en die omstredenheid daarrondom buite die bestek van die bespreking.

