Gesprekke oor Afrikaans is altyd vervleg met ideologie

  • 1

Piet Croucamp gee sy indrukke oor die ANC se gesprekke met leiers van die Afrikaanse gemeenskap.

’n Demokratiese politieke bestel berus op die strewe na konsensus of kompromieë tussen sosiale, politieke en/of ekonomiese mededingers. Die primêre politieke eenheid in ’n demokrasie is belangegroepe. Daar mag sekondêre identiteite, soos taal, kultuur of godsdiens gekoester word, maar die universele belang, of soos in Engels gesê word, “the greater good”, is die wesenlike bindingskrag tussen die staat en die samelewing.

Die liberale grondwet van Suid-Afrika maak ruim voorsiening vir byvoorbeeld Afrikaanse skole, diverse geloofsoortuigings en vrye kulturele assosiasie. Dit is egter maklik om soms onder die indruk te kom dat hierdie vryhede deur die ANC, die regering of selfs die staat bedreig word, maar eintlik is dit selde die geval.

Swak administrasie en politieke opportunisme skep vervreemding onder alle Suid-Afrikaners. Daarom is dit noodsaaklik dat uitvoerende hoofde van die politieke maatskappy jou te woord staan of jou belange ophou as in nasionale belang.

Maar jou kollektiewe politieke teenwoordigheid en die waarde van jou ekonomiese belang bepaal hoe moeilik of maklik dit is om hierdie vervreemding aan die orde te stel. En daar is waarskynlik geen politieke identiteit wat meer rede het om vervreemd te voel van die politieke en ekonomiese stelsel as swart Suid-Afrikaners nie. Swart mense word vervloek deur armoede, werkloosheid, misdaad en ’n afwesige staat.

Daarom sou dit vir die regering of die ANC meer sin maak om werk te maak van swart mense se lot, maar dis dalk ’n groter skip om om te draai, en die dividende van die politieke moeite wat dit vereis, is nie ’n korttermyn-opsie nie.

Dit is in hierdie konteks dat die gesprek tussen Afrikaanssprekende organisasies en die ANC onlangs by die Balalaika Hotel in Sandton plaasgevind het. Wat die gesprek ironies maak, is dat nie een van die besware wat teen die ANC geopper sou word, nie in die paradigma van universele besware val nie.

Indien die ANC en die regering die grondwetlike mandaat uitgevoer het, sou ’n kwessie soos Afrikaanse skole nie ’n politieke kwessie geword het nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes het geen politieke stryd met die kleur of ras van die regering nie, solank dit die staat en die ekonomie tot voordeel van almal effektief en behoorlik bestuur.

Enkele organisasies wat hulself as Afrikanerorganisasies definieer, was wel teenwoordig, en Afrikaners sou per definisie waarskynlik ’n punt wou maak vir eiesoortige belange en ’n mate van selfbeskikking binne ’n kulturele of selfs politieke verband. Maar daar was op daardie dag, 8 Mei 2012, genoegsame konsensus dat behoorlike bestuur van die staat byna alle sektariese belange kan ondervang.

Dit het egter nie gekeer dat veral bruin mense geargumenteer het dat hulle ’n politieke en ekonomiese marginalisering ervaar wat hulle opnuut laat besin oor hulle rol in die bevrydingstryd nie. Wit Suid-Afrikaners, veral die wit middelklas, het ’n redelik gevestigde ekonomiese en selfs kulturele basis en is effektief georganiseer in minstens die politieke opposisie. Bruin politiek veronderstel nie genoeg konsensus om bruin belange demokratiese momentum te gee nie.

Dit gaan nie daaroor dat bruin mense eiesoortige belange het nie, maar dit gaan daaroor dat selfs hul universele belange nie gelykgestel word aan wit en swart belange nie. Dit lei tot vervreemding wat betref die ideale van die bevrydingstryd, maar dit ondermyn of vervreem gemeenskappe van die inklusiewe kenmerke van ’n demokratiese politieke orde. Uiteindelik ontstaan die situasie waar kiesers na die stembus gaan om teen ’n party of ras, selfs politieke orde, te stem eerder as om ’n kruisie te trek vir goeie of beter dienste.

Vervreemding onder wit Afrikaansprekende Suid-Afrikaners lei soms daartoe dat hulle wil terugkeer na die laer, of minstens tot historiese identiteite met ’n militante konseptualisering. In hierdie lig begin hulle om hulself op ondeurdagte wyse ook as Afrikaners te definieer. Afrikaner-wees het egter ’n ideologiese bagasie of konseptualisering wat dit baie spesifiek tot bepaalde politieke veronderstellings maak. En jy kan net toegang tot die politieke identiteit van die Afrikaner kry as die groep jou as deel van hulle aanvaar.

Sommige wit Suid-Afrikaners - soos Max du Preez - wil met die beste bedoelings in die wêreld na hulself as “Africans” verwys, maar hulle kan toegang tot die identiteit kry net as hulle deur ander erkende Africans as deel van die groep gesien word. Met kolonialisme en apartheid nog té pertinent deel van die kollektiewe geheue van Africans kan ek nie sien dat dié status in sy leeftyd aan hom toegeken gaan word nie, en hy kan dit nie eensydig opeis nie. Dieselfde argument is geldig vir die konseptuele ruimte van Afrikanerskap.

Die ideologiese vertrekpunte van ’n Afrikaner berus op ’n omvattend gedefinieerde reg op selfbeskikking. Dit gaan nie net oor Afrikáánse skole nie, dit gaan oor éie skole; dit gaan nie oor ’n universele Christenskap nie, dit gaan oor ’n God wat hom ontferm oor ’n gemeenskap wat bedreig word. Die demografie van ’n volk en ’n nasie is ter sprake en daardie identiteit kan net in die konteks van selfbeskikking gevestig word en tot wasdom kom.

Max du Preez kan dus nie ’n African wees nie, en boonop ook nie ’n Afrikaner nie. Eugène Terre’blanche is waarskynlik eerder ’n werklike manifestasie van Afrikanerskap – soos ook die inwoners van Orania – om die eenvoudige rede dat sy politieke-regime-voorkeure ooreengestem het met die operasionele argitektuur en ideologiese veronderstellings van Afrikanerskap.

Wanneer Afrikanerskap ’n ideologiese inhoud verkry, word dit ook eksklusief en voorskriftelik, en toegang is met voorbehoud. “Afrikanerskap” verwys nie meer net na taalvoorkeur of selfs kulturele praktyke nie, dit word die eksklusiewe identiteit wat nasieskap en die politieke versugting van selfbeskikking voorafgaan. Jy moet wit wees om ’n Afrikaner te wees, vandaar die rasse-ideologie van die konsep, en daarom ook dat bruin mense op geen wyse na hulself as Afrikaners kan of sal verwys nie.

Die ideologiese inhoud van Afrikanerskap maak dit dus moeilik vir Tim du Plessis, Flip Buys, Willem Ratte, Christina Landman, Max du Preez, Eugène Terre’blanche, Christi van der Westhuizen en Pierre de Vos om as ’n gemeenskap van eendersdenkende politieke diere binne die perke van ’n enkele regime-voorkeur tuis te raak. Hulle deel ’n taal, ras en geskiedenis en beoefen breedweg soortgelyke kulturele rituele, maar hulle is nie almal noodwendig Afrikaners nie. Die onderskeid tussen wie ’n Afrikaner is en wie nie, kan net op ideologiese gronde gemaak word.

Die gesprek tussen die ANC en Afrikaanssprekendes het natuurlik ten doel gehad om ’n nie-ideologiese werkswyse te vestig wat gereelde insette oor beleid en politieke bestuur moontlik kan maak. Die paar Afrikaners teenwoordig het ook, ter wille van die gesprek, gekonformeer tot die diskoers oor die gemeenskaplike belang van goeie regering en die wyse waarop ’n werksverhouding met die ANC gevestig kan word.

In die konteks van vervreemding is dit nie ironies dat verskeie sprekers die kundigheid van hul organisasies aangebied het om die probleme in onderwys, die algemene armoede en selfs werkloosheid aan te spreek nie. Die vervreemding wat wel in Suid-Afrika bestaan, is grootliks die produk van ’n legitieme, veronderstelde swak politieke bestuur. Maar dit bestaan waarskynlik ook as gevolg van die algemene ontoeganklikheid van die politieke burokrate van die staat en die regering.

Verskeie sprekers het genoem dat staatsamptenare en die politieke elite op ’n soort outoritêre afwesigheid staatmaak om beleid en bestuur eensydig af te dwing. ’n Burgerlike samelewing in ’n gevestigde demokrasie is juis spesifiek by die formulering van beleid betrokke.

Indien Sanral die rol van ’n burgerlike samelewing met erns bejeën het, sou die tol-debakel nooit die dimensies aangeneem het wat dit het nie.

Dieselfde geld vir die sogenaamde wapentransaksie, die ontbinding van die Skerpioene en verskeie van die aksies wat onder meer Solidariteit en AfriForum teen die regering deur die howe onderneem het. Elke probleem wat by die gesprek tussen die ANC en Afrikaanssprekendes te water gelaat is, kan met effektiewe administrasie en deelnemende bestuur opgelos word.

Afrikaanse skole is ’n grondwetlike reg en om jou daarvoor te beywer maak nie van jou ’n Afrikaner nie. Dit is in geen opsig ’n ideologiese ywer nie. Selfs grondwetlike beskerming vir minderhede is nie strydig met libertariese veronderstellings nie.

Die uiteindelike doel van die vergadering tussen Afrikaanssprekendes en die ANC was nie om meester-kwessies soos privaat eienaarskap, grondhervorming of taalbeleid te onderhandel nie; die funksie van die proses was om ’n lewensvatbare kanaal vir gesprek te skep tussen belangegroepe met Afrikaans as taal en die regerende party.

Die verstopping in die kommunikasie tussen die burgerlike samelewing en die ANC, die regering en die staat het die potensiaal om demokrasie dood te smoor. Dit kan ook meebring dat militante/opportunistiese individue en groepe, soos die ANC Jeugliga en Julius Malema aan die een kant en regse politieke verskynsels onder die vaandel van Afrikaner-nasionalisme soos Dan Roodt aan die ander kant, die politieke speelgebied in die grys ruimte tussen die staat en die samelewing betree.

Op dieselfde wyse as wat ’n versugting na ’n grootskaalse nasionalisering van die ekonomie die manifestasie van sosiaal-politieke vervreemding is, is die geneuk na Afrikanerskap ’n simptoom van ekonomiese en politieke vervreemding. Nie almal wat ’n veilige hawe in Afrikanerskap soek, is Afrikaners nie, en nie almal wat ’n noodroep maak na nasionalisering is kommuniste nie. Ek dink daar is ’n goeie begin gemaak met die vergadering.

  • 1

Kommentaar

  • Krokodil Ngwenya

    Ek onthou nog die nagtelange internetforumgesprekke van die 1990's oor wie en wat 'n Afrikaner dan nou kwansuis is en nie is nie. Nou het een bepaalde aanspraak skynbaar "by default" met die louere weggeloop, waarskynlik omdat hulle die langste asems in die debat gehad het en die res van ons of vermoeid of verveeld geraak het met die sirkelpratery en die eindelose retoriek. Of miskien was dit van die eerste woord oor die onderwerp af 'n uitgemaakte saak dat die luidste aanspraakmakers die begrip van Afrikaner sou verower omdat die etiket vir hulle belangriker was as vir die van ons wat in 'n wyer, groter wêreld beweeg waarin herkoms net een van vele fassette van ons menswees is en ook nie noodwendig die definiërende een nie.

    Laat ek vir myself praat: ek is deesdae ideologies allergies. Inderwaarheid etlike jare a.l Die maklike en haastige vereenselwiging met watter ideologie ookal wat deel van jonk- en voortvarend-wees is, is godsgenadiglik saam met die badwater uitgegooi. Ek glo lankal nie meer aan konsensus nie. Dis te veel soos om 'n klomp mense op 'n trekkerbinneband op die water te wil laat balanseer, want konsensus bly op die veilige grond omdat daar heeltyd gemene delers gesoek en gevind moet word. Die proses raak die uiteinde en voltooiing of vordering stagneer of raak verstrengel in agterbaksheid en subtiele ondermyning. Vroeër of later hel een van die partye af en dan nog een en dan nog een tot net die een wat eintlik in elke geval heeltyd die leisels in die hand gehad het oor is.  

    Ontmoetings soos hierdie een volgens berigte was, gestroop van ideologie en verwante bagasie, is niks anders nie as 'n vorm van diep demokrasie nie. Ons het die punt bereik waar kommer oor die stand van landsadministrasie so 'n gemeenskaplike kommer geraak het vir mense dat dit 'n vertrekpunt bied wat die gebruiklike verkennings en verdoeselings waarmee deelnemers van uiteenlopende ideologiese nering hulle  imbizo's destyds noodwendig moes afskop, oorbodig maak. Daar is net vier woorde nodig om gesprek aan die gang te kry deesdae: wat gaan ons doen? 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top