Hallo Kobus. Wanneer het julle Gemengde Vrugte gestig?
Die groep is in Augustus 2011 gestig toe ons besef het dat daar 'n groot mark vir Afrikaanse komedie is. Ek, Jurie Prins en Werner Smit was die eerste drie lede en met tyd het ons die talente van Schalk Bezuidenhout en Francois van As opgeraap. Ronnie Victor het so vier maande terug by ons aangesluit en is ons nuutste Vrug.
Hoe verskil Afrikaanse komedie vandag van dit wat ons tien jaar gelede gesien het?
Tien jaar gelede was ek maar 16 jaar oud, en die Afrikaanse komedie-bedryf was klein. Op skool was daar maar net Tolla van der Merwe, Leon Schuster en Casper de Vries. Die mense wat mens op die TV gesien het. Vandag is daar meer Afrikaanse komediante daar buite om na op te kyk of om saam mee op te tree. Dit is of daar 'n Afrikaanse komedie-ontploffing was in die afgelope tien jaar. Die mense is nie meer skaam om te lag nie. Tien jaar terug sou hulle nie noodwendig gelag het vir 'n grappie soos hulle nou sal nie.
Waarvandaan die naam?
Die naam het ontstaan omdat Werner by 'n vrugtemark moes werk om sy borgtog te betaal. Nee, ek grap. Ons het besluit op die naam Gemengde Vrugte, want almal se style verskil (verskillende vrugte), maar tog kan almal saam in Afrikaans optree (soos vrugte in 'n mandjie). Ons werk goed saam en dis 'n lekker Afrikaanse komedie-mengelmoes!
Julle het in ’n kort rukkie baie aanhangers gewerf. Waaraan skryf julle jul sukses toe?
Ons tree nou ongeveer 15 maande saam op. Ons glo om ons vertonings goed te bemark en om ons as 'n komedie-handelsmerk te vestig. Ons hou ons materiaal skerp en vars en sal altyd iets nuuts skryf vir elke vertoning, al is dit net een grappie elk. Ek glo ons sukses is ook te danke aan die feit dat ons goeie vriende met mekaar is, gedurende vertonings asook van die verhoog af.
Hoekom is daar so min vroue wat Afrikaanse skerp-skerts doen? Is mans dan snaakser as vroue?
Hulle is seker besig in die kombuis waar hulle hoort. Grappie! Nee, ek weet van een of twee, maar Afrikaanse skerp-skerts (stand-up, nie komedie nie) is redelik nuut. Ek is seker oor so ’n jaar of twee is daar 'n hele klomp dames op die verhoog besig om mense te laat lag. Ek meen nou nie Patricia Lewis wat sing nie, ek bedoel vrouens wat stand-up doen.
Jy is onlangs getroud. Lag jou vrou darem vir al jou grappies?
Ek oefen al my grappies op my vrou. Dat sy nog nie gatvol is nie, is 'n wonderwerk!
Is 'n goeie sin vir humor iets wat mense instinktief het, of kan dit aangeleer of ontwikkel word?
Baie mense is bang om komedie 'n kans te gee. Hulle is bang hulle lag vir iets wat nie noodwendig in goeie smaak sal val nie. As iets snaaks is, is dit nou maar snaaks.
Hoe onthou jy jou materiaal, veral jou “sigarette en alkohol”-storie?
Dit is een van my gunsteling-grappies (of altans "sets") om te doen. Dit bevat 43 punchlines en het so twee weke geneem om te bemeester. Ek vertel 'n hele storie deur net staat te maak op name van drank en sigarette.
Jou grappies is afhanklik van woordspeling. En Afrikaans is natuurlik ’n baie lekker taal vol dubbelsinnighede, nè?
Ek het 'n groot liefde vir woordspeling en dubbelsinnigheid! Afrikaans is die beste taal om dit in te doen!
Wanneer dink jy hierdie woordspelings uit en waar kom die inspirasie vandaan?
Ek kry inspirasie uit alledaagse dinge. Soms op die snaaksste tye en plekke. Inspirasie kan letterlik van enigiets af gekry word. Inspirasie is soos misdaad in Suid-Afrika. Dis orals om ons.

Jy is ook die man agter Idees Vol Vrees ... ’n reeks dubbelsinnige tekenprentjies. En die nuutste IVV-boek is onlangs bekendgestel.
Hoe verskil die tweede boek van die eerste een?
Die eerste boek het 50 nuwe Idees Vol Vrees-spotprente (IVV's) gehad, spesiaal geteken net vir die boek, asook 100 ou gunstelinge. Vir die tweede boek het ek 100 nuwe IVV's geteken en 50 ou gunstelinge bygesit. Ek het ook 50 eenreël-grappies in die tweede boek geplaas. So volume 2 is propvol nuwe goed!
Jy plaas jou IVV-grappie-prentjies op Facebook en soms ontlok dit negatiewe reaksie. Hoe hanteer jy dit?
Ek glo die pot moet soms geroer word. Soms ontlok dit 'n negatiewe reaksie, maar meestal is dit positief. Baie IVV-aanhangers verstaan die situasie en sien die humor daarin.


Hoe besluit jy as iets dalk té sensitief is om mee te spot?
Ek sal nie iets teken wat baie sensitief is nie. Ek glo nie om direk te spot met iets wat mense raak nie. Ek sal egter iets teken wat dubbelsinnig is, sodat mense hulle eie afleidings kan maak. Negentig persent van my werk is dubbelsinnig, so hoe hulle dit “sien”, bepaal hulle reaksie daarop.

Watter IVV-illustrasie/woordspeling is jou gunsteling?
Ek hou van "springbok-heelagter", maar daar is al oor die 450 IVV's geteken, so daar is beslis hope gunstelinge!
Hier is nog ’n paar Idees Vol Vrees gunstelinge:



Wat is jou raad aan ander mense wat ook in Afrikaans skerp-skerts wil doen?
Gee dit 'n kans. E-pos my by kobus@komedie.co.za. Ronnie Victor het my eendag gekontak en gesê hy wil begin stand-up doen. Ek was daar by sy eerste vertoning en vandag laat hy mense uit hulle maag lag. En nou’s hy 'n Gemengde Vrug! Aan die begin doen mens baie open mic-vertonings. Jy tree verniet op vir 'n paar minute. So bou jy jouself op. Mens leer ook baie op hierdie manier. Jy sien wat werk en wat glad nie werk nie.
Ontmoet die Vrugte
Werner Smit
Wie is jy as jy by die huis is?
’n Oorwerkte IT-tegnikus.
Hoe lank doen jy al skerp-skerts?
’n Jaar lank.
Komedie is ...
Professionele vermaak bestaande uit grappe en sketse, bedoel om 'n gehoor te laat lag. (Volgens Oxford Online Dictionary en Google Translator.)
’n Goeie sin vir humor is ...
'n Persoon se vermoë om humor te waardeer.
Beskryf jou sin vir humor.
Droog, laf en belaglik.
Hoekom skerp-skerts in Afrikaans?
Jy kan slegs in jou moedertaal jouself wees.
Wie is jou groot grapjas-ikone? Vir wie lag jy die meeste?
Louis CK, Ricky Gervais en Mitch Hedberg.
Jou gunsteling-eenreël-grappie?
The ultimate Christmas stocking stuffer is a severed foot. (Mitch Hedberg)
Wat doen/dink jy as die gehoor nie vir jou grappies lag nie?
Ek sê gewoonlik: “So gaan hy maar”, en dan lag hulle in elk geval.
Vertel asseblief vir my ’n kort grappie.
Ek het altyd gedink die gesegde “Minute op die lippe, jare op die heupe” is ’n waarskuwing teen tiener-swangerskap.

Jurie Prins
Wie is jy as jy by die huis is?
Ek weet nie, ek’s nooit by die huis nie.
Hoe lank doen jy al skerp-skerts?
Ek het my debuut gemaak twee jaar terug in die Saronsberg-teater in Tulbagh.
Komedie is ...
Komedie is ’n spin op die normale en “in the eye of the beholder”.
’n Goeie sin vir humor is ...
Sexy! En in party gevalle moerse irriterend.
Beskryf jou sin vir humor in een sin.
Droog, alledaags, maar die beste onder die invloed.
Hoekom skerp-skerts juis in Afrikaans?
Die mense in Bellville vang nie my grappe as ek Xhosa praat nie.
Wie is jou groot grapjas-ikone? Vir wie lag jy die meeste?
Michael Mcintyre, Britse komediant, asook Frankie Boyle – en my eksvrou.
Jou gunsteling-eenreël-grappie?
Wat sê die skaap oor die Springbokke se laaste game? Meh ...
Wat doen/dink jy as die gehoor nie vir jou grappies lag nie?
Ek vervang die hoofkarakter in die grap se naam met Kobus Galloway s’n ...
Vertel asseblief vir my ’n kort grappie.
Casper de Vries.

Schalk Bezuidenhout
Wie is jy as jy by die huis is?
Ek is Schalk Bezuidenhout. Dieselfde as op die verhoog, net minder snaaks. As ek in ’n telefoonhokkie is, is ek Superman en in die supermark is ek Help-Ou-Tannies-Man.
Hoe lank doen jy al skerp-skerts?
Ek doen dit al vir so jaar en ’n half.
Komedie is ...
… wat ook al jy wil hê komedie moet wees. Dis subjektief. As jy dink ’n karongeluk is snaaks, kan niemand met jou daaroor stry nie.
’n Goeie sin vir humor is ...
… ’n sin vir humor wat vir my grappe lag.
Beskryf dan jou sin vir humor, asseblief.
Ek geniet dinge wat bietjie die grense “push”.
Hoekom skerp-skerts in Afrikaans?
Ek doen dit ook in Engels, maar dis altyd lekker om enigiets (komedie, teater, film) in jou moedertaal te doen.
Wie is jou groot grapjas-ikone? Vir wie lag jy die meeste?
Definitief Casper de Vries. Al vandat ek nege jaar oud is.
Jou gunsteling-eenreël-grappie?
I went to the beach the other day. My friend that was with me had a Gucci bag and she said that it was the coolest bag on the beach. But I disagreed, because I had a cooler bag. (Rustum August)
Wat doen/dink jy as die gehoor nie vir jou grappies lag nie?
Dis dieselfde as wanneer ’n mens poep terwyl jy ’n meisie soen. Jy het twee opsies: jy kan vinnig aangaan asof niks gebeur het nie, of jy kan erken dat dit ’n swak grap (in die meisie-geval poep) was en ’n lag daaruit kry.
Vertel asseblief vir my ’n kort grappie.
Kom na ons vertoning, dan kan jy ’n lange hoor!

Francois van As
Wie is jy as jy by die huis is?
Hang af by wie se huis ons is.
Hoe lank doen jy al skerp-skerts?
Nog nooit, ek is verskriklik bang vir pyl-en-boë.
Komedie is ...
Die verskil tussen Charlie Chaplin en Hitler se snor.
’n Goeie sin vir humor is ...
Om die eerste ou te wees om te lag vir 'n gewaagde kwinkslag.
Beskryf kortliks jou sin vir humor.
Ek is nogal snaaks met 'n kitaar.
Hoekom skerp-skerts juis in Afrikaans?
Behalwe dat Afrikaans 'n pragtige medium is vir komedie, is dit ook soveel makliker om te skok.
Wie is jou groot grapjas-ikone? Vir wie lag jy die meeste?
Mitch Hedberg.
Jou gunsteling-eenreël-grappie?
Wat sê die een wolk vir die ander wolk? Kyk wat maak daai donder weer. (Vang jy dit? Dis 'n blits-grappie.)
Wat doen/dink jy as die gehoor nie vir jou grappies lag nie?
Ek trek my hemp uit, maar dit werk gewoonlik ook nie.
Vertel asseblief vir my nog ’n kort grappie.
Twee sjimpansees en 'n llama word vasgevang in 'n rotsstorting. Ek kan nie onthou hoe dit verder gaan nie.

Ronnie Victor
Wie is jy as jy by die huis is?
Ek is ’n entrepreneur en eienaar van Victor Media, wat bemarking doen namens besighede op sosiale media.
Hoe lank doen jy al skerp-skerts?
Junie 2012 was my eerste keer op stage.
Komedie is ...
’n Manier om weg te breek en van jou probleme en stres te vergeet, net te ontspan en lag!
’n Goeie sin vir humor is ...
Wanneer jy kan lag al word daar vir jou gelag.
En jou eie sin vir humor?
Ek het ’n skerp maar droë sin vir humor.
Hoekom skerp-skerts in Afrikaans?
Want ek kan nie Engels praat nie. Grappie! Die manier waarop ons die taal kan gebruik om iets oor te dra is uniek, en dis wat skerp-skets lekker maak in Afrikaans.
Wie is jou groot grapjas-ikone? Vir wie lag jy die meeste?
Casper de Vries en Nataniël.
Vertel asseblief vir my nog ’n kort grappie.
Jy is so kommen as jy verby ’n dam loop gooi die eende vir jou brood.

Kobus Galloway
Wie is jy as jy by die huis is?
Ek is getroud. So soos enige getroude man is ek dus altyd verkeerd.
Hoe lank doen jy al skerp-skerts?
My eerste vertoning was in September 2009, maar ek doen dit nou voltyds sedert Augustus 2011.
Komedie is ...
My webtuiste se naam, www.komedie.co.za. Lekker Idees Vol Vrees-“goodies” is daar te koop!
’n Goeie sin vir humor is ...
Iewers tussen 'n giggel en in jou broek poef.
En jou eie sin vir humor is?
Dubbelsinnige stoute humor wat jou laat dink.
Hoekom skerp-skerts juis in Afrikaans?
Want Danny K doen dit klaar in Engels.
Vir optredes en meer inligting, besoek die Gemengde Vrugte Facebookblad.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

