Suid-Afrikaners kyk maklik en uit gewoonte deur ’n ideologiese prisma na die politieke ekonomie van die land. Dit is asof dit eenvoudiger is om ’n opinie te vorm – ongeag hoe geldig – indien die mees opvallende veranderlikes in ons waarnemings deur ’n narratief met duidelike grense gefiltreer word.
Die konseptuele grense van die narratief korrespondeer nie noodwendig met ’n rasionele diskoers nie; dit definieer eerder historiese sosiologiese foutlyne, ons ervaring van diep-donker scenario’s of optimistiese verwagtinge sonder die regverdigings van substansie.
Dit maak nie meer sin om jou waarnemings deur ’n ideologies-ortodokse verklaringsraamwerk te filtreer nie, want beide ons politieke stelsel en die ekonomie het - veral gedurende die afgelope twee dekades – té gekompliseerd geraak om in historiese paradigmas in te pas.
Indien jy die Suid-Afrikaanse ekonomie as sosialisties sou beskryf, is dit meer waarskynlik in terme van persoonlike kritiek eerder as na aanleiding van onafhanklike of rasionele observasie. Eweneens sal die ideologiese filter van kapitalisme die ontleder met ’n smorgasbord wanveronderstellings laat, eerder as groter begrip vir die gedrag van beleidsvormers of tendense binne of buite die ekonomie.
Rob Davis, Suid-Afrika se minister van handel en nywerheid, is in die teorie ’n kommunis, maar hy bevorder staatsintervensionisme, nie ’n diktatuur nie. Indien jy dink dit is dieselfde retoriese vertrekpunt, sal jy ook dink die Zimababwe-scenario is ons voorland. Die narratief waardeur jy jou veronderstellings filtreer, sal bepaal of jy reg of verkeerd is.
President Jacob Zuma het al die kenmerke van ’n tipiese tradisionele leier eerder as dié van ’n kommunistiese diktator; byna geen ortodokse ideologiese prisma kan tans op Suid-Afrika van toepassing gemaak word nie. Tog sal die media, ontleders of selfs opposisiepartye in kritiek op bepaalde beleidsvoorstelle vanuit die regering dikwels na historiese, ideologiese teorieë gryp ter verklaring van tendense binne die drieparty-alliansie.
Dit help ons waarskynlik nie werklik in ons pogings om die verhouding tussen die staat en die samelewing of die staat en die ekonomie beter te verstaan nie. Die Suid-Afrikaanse ekonomie is nie sosialisties, kapitalisties, marxisties of kommunisties nie. Selfs die besluitnemers of politici wat na hulself binne partyverband as kommuniste verwys, is meer waarskynlik operasioneel verbind tot die bevrydingsnarratief eerder as die marxisties-leninistiese variant van die ideologie. Boonop kan die regering of die staat - én selfs die regerende party - hoogstens beskryf word as verteenwoordigend van outoritêre intensies met die waarskynlikheid van ’n diktatoriale politieke regime op geen wyse ’n potensiële werklikheid nie.
Die staat in Suid-Afrika is eenvoudig té swak en té oneffektief om ’n kommunistiese diktatuur of ’n outoritêre vorm van sosialisme op die burgerlike samelewing af te dwing. Die intelligensiedienste is gefragmenteer, beskik slegs oor uiters basiese tegnologie en is lojale partykaders eerder as verteenwoordigend van ’n staatsveiligheidsmasjinerie wat die staat kan suiwer van opportunistiese, paramilitêre intensies.
Die regerende party verteenwoordig ook nie noodwendig ’n kollektiewe, ideologiese konsensus nie en die burokrasie is ruim in omvang, maar beskik nie oor die organisatoriese vermoë om ’n diktatuur of selfs outoritêre bestel te maak staan nie.
Die retoriek, dikwels in ’n vorm van kritiek vanuit sogenaamde “linkse geledere”, wat impliseer dat die ekonomie van Suid-Afrika in terme van ’n kapitalistiese regimeteorie verklaar kan word, het soortgelyke analitiese probleme. Die argitektuur van Suid-Afrika se burgerlike samelewing is tipies van ’n ontwikkelende politieke ekonomie met ’n relatief klein middelklas, groot armoede en werkloosheid, en ’n ekonomiese elite wat verdwerg word deur die omvang van die politieke elite.
Die welvaartverspreiding is grootliks staatsgedrewe en die getal mense binne die arbeidsmark en diegene afhanklik van die staat vir aalmoese en toelaes is statisties byna ononderskeibaar. Die ongeveer 22% van die totale arbeidsmag wat aan “sosialistiese” vakbonde behoort, is oorbetaal en dié werkers wat onderworpe is aan markkragte vir hul lone en salarisse is óf onderbetaald óf deel van ’n middelklas vasgevang in ’n skuldlas van ongeveer 76% van besteebare inkomste.
Die swartbemagtiging-elite se vaardighede is opgevang in ’n regime van politieke en ekonomiese patronaatskap en wit entrepreneurs het hul teenwoordigheid in die markekonomie in so ’n mate verinformaliseer dat die staat slegs ongeveer 30% van potensiële korporatiewe belastings vorder.
Entrepreneurs vasgevang in die regime van patronaatskap het ’n gebrek aan ’n demografiese dividend, wat beteken dat hulle slegs gekwalifiseerde waarde heg aan bates en nie noodwendig oor die skolastiese ervaring beskik wat oorlewing buite die patronaatskapsregime kan waarborg nie. ’n Demografiese dividend word onder meer gedefinieer deur die bates van ’n bepaalde politieke identiteit, die toegang tot kapitaal, die kollektiewe skolastiese agtergrond van die groep asook die toegang tot mediese en gesondheidsorg.
Die irrasionele rasionaal van apartheid wat swart Suid-Afrikaners verhoed het om bates te akkumuleer of hul eie besighede te besit, is grootliks verantwoordelik vir die geïnhibeerde demografiese dividend van meer as 90% van die totale bevolking. Die onvermoë van die demokratiese staat om onderwys en opleiding te kalibreer met die behoeftes van ’n mededingende ekonomie en arbeidsmark, het burokratiese patronaatskap ’n veilige hawe gemaak vir swart studente en entrepreneurs, en hulle verder vervreem van die histories-bevoorregte entrepreneurskap wat ingebed is in ’n soliede demografiese dividend.
Ongeveer 9–13% van die Suid-Afrikaanse BNP is afkomstig van die informele ekonomie. Die informele ekonomie funksioneer buite die belastingregime, word gedomineer deur swart entrepreneurs wat sonder die regulatoriese beskerming van die staat of finansiële instellings funksioneer, maar het in omvang ’n reikwydte gelykstaande aan die nasionale ekonomieë van sommige van ons buurlande.
Hierdie ekonomiese subgroep het hul vermoë om in ’n rou, onbeskermde en mededingende mark te funksioneer in weerwil van die apartheidstaat geslyp – en die ewewig tussen mededingers word dikwels in stand gehou deur die opsie van geweld. Die kombitaxibedryf is die beste voorbeeld van entrepreneurskap in die afwesigheid van ’n demografiese dividend; markkragte word gekalibreer deur ’n destruktiewe kapasiteit.
Indien die informele ekonomie nie deur die apartheidstaat van hul bates vervreem was nie, sou hulle reeds ’n uiters mededingende demografiese dividend kon opgebou het wat onder meer toegang tot kapitaal moontlik sou gemaak het.
Die bitter ironie is dat die demokratiese staat ook weinig doen om eienaarskap in die informele sektor aan te moedig. Dit is selde dat die grondhervormingsproses kaart en transport vir die nuwe swart eienaars beteken, en selfs die HOP-huise bly vir alle praktiese doeleindes die eiendom van die staat en slegs gebruiksreg word na die nuwe “eienaars” oorgedra.
Die ANC is dus vasbeslote om beleid op so ’n wyse toe te pas dat eienaarskap nie deel kan word van swart Suid-Afrikaners se dividendportefeulje nie. Die voordeel van ’n demografiese dividend is dat die waarde daarvan oorgedra word tussen generasies. Dit is hoekom wit Suid-Afrikaners of subpopulasies in byna alle ekonomieë wat eienaarskap eer – met uitsondering – ’n stygende sosio-ekonomiese patroonmatigheid het.
Elke nuwe generasie is meer welaf as hul voorouers. Dus, eerder as om Suid-Afrika te probeer verstaan vanuit ’n ideologiese perspektief, maak dit meer sin om tendense te ontleed in die konteks van mededingende regimevoorkeure. Ideologiese konflik is dikwels langdurig en eindig in ’n soort zero-som-uiteinde. Ideologiese veronderstellings impliseer onversoenbare politieke en ekonomiese regimes en onvermydelike geweld.
Indien ideologiese paradigmas verklarend sou wees vir tendense in die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie, sou die relatiewe bestendigheid wat demokratiese Suid-Afrika kenmerk, nie vaardig gewees het nie. Die nomenklature van “gemengde ekonomie”, “herverdeling”, “regulering” en “intervensie” is tipies van ’n politieke ekonomie ingebed in mededingende regimevoorkeure, eerder as die onversoenbare veranderlikes eie aan ideologiese paradigmas.
In hierdie konteks maak dit dus sin om die dinamika van die verhouding tussen die staat en die ekonomie in Suid-Afrika te omskryf as die wisselwerking tussen ’n intervensionistiese staat en ’n gefragmenteerde burgerlike samelewing. Soos die staat verswak, graviteer entrepreneurskap in die ruimtes in wat gelaat word deur ’n verswakkende staat. Identiteite met ’n verrekenbare demografiese dividend neem dan uiteindelik die funksies van die staat op.
Dit gebeur reeds in die onderwys, die energiesektor en die dienstesektor met entrepreneurs en die privaatsektor wat toenemend verantwoordelikheid aanvaar vir funksies wat normaalweg deur ’n effektiewe staat vervul word. Die retirerende staat laat dus ruimte vir die burgerlike samelewing om die teenwoordigheid van die staat uit te daag en selfs ’n terrein van ekonomiese en politieke vryheid op te eis wat tipies aan die outoritêre staat sou behoort. Dit is dan ook die natuurlike dinamika van ’n liberale demokrasie in wording. Die vestiging van ’n liberale orde is waarskynlike ’n pynlike proses van institusionele spanning tussen die staat en die samelewing totdat die verhouding ’n natuurlike ewewig van mag en gesag bereik.
Dieselfde dinamika is teenwoordig in die mededinging tussen regimevoorkeure binne die samelewing. Die werklike gevaar vir die bestendigheid in die verhouding tussen mededingende regimes is juis simplistiese ideologiese veronderstellings. Indien die staat ideologiese narratiewe wil forseer in ’n burgerlike samelewing waar die politieke kultuur van mededingende regimes vaardig is, neem die waarskynlikheid van konflik tussen die staat en die samelewing eksponensieel toe.
Ontleders en akademici koop dikwels in op hierdie behoefte aan vereenvoudiging en verval in die gewoonte om ideologiese konsepte te gebruik om komplekse veranderlikes en tendense te verklaar; dit gebeur ten koste van groter begrip.