Ek stap stadig

  • 2

Foto: Canva

Ek stap stadig

ek stap stadig
deur gevoelens
trap tussen trane
versigtig –

om dit nie te beskadig nie
want hulle kom ver
soos die lig van ʼn ster
wat jare gelede verskiet het –
toe verdriet hom laat sterf het

so trap ek sag
versigtig
sodat ek elke oomblik geniet
indrink soos nektar –
so geniet ek –
treur ek –
gebeur ek –
as ek stadig stap
statig en bang ek breek iets

met die oomblik in die een hand
onheil in die ander hand
om onheil te los langs die pad
as ek om die hoek is –
om vinnig weg te vlug

terug in myself in
waar ek tussen trane trap
kosbare juwele van gevoelens
waarsonder ek nie kan gaan nie

want ek is gewond
sielsbeseer –
self-aangedoende leed
omdat ek bly vergeet het

dat ek so weerloos is
as die wind waai
deur die blare van my siel
deur die trane
van moedelose verwarring

in my reis deur myself
wat skielik nie meer saak maak nie
want wie is ek dan nou –
as môre dood is

  • 2

Kommentaar

  • Johan, jy het werklik 'n groot gawe om iets só intens te beleef en daaroor te skryf. Dis altyd so diep. Pragtig, dankie.

  • Johan van der Merwe

    Baie dankie, Mich, ek voel dankbaar dat iemand my werk waardeer. Dit is ’n groot beloning.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top