
Foto: Canva
Die droogte in Niemandsland
Niemandsland is droog
die reën bly weg
stormwinde waai dit verby
mense stry en baklei
oor
wie is verkeerd of reg
dit gaan sleg op die lande
alles staan stil of vrek
terwyl die mens se wil wen
om waarheid te ontken
as blaam verskuif word
van een kant van die vertrek
na die ander kant van die heelal
as regdenkers verhuis
om werklikheid
nie in die oë te kyk nie
kwaadstokers is kop in een mus
kan nie stilbly nie
dit is hulle siekte
van trotskoors
terwyl hulle skuld huil
in hulle koppe skuil
wat vyeblare nie kan wegsteek nie
dit bly droog
Niemandsland treur
oor die verwaandheid
van die mens
wat nie sy foute sien nie –
die skaduwee draai stil om
trek sy hoed oor sy nat oë
loop stadig weg
van hulle wat dink
dat hulle altyd reg is

